Sy was net ’n 18-jarige blinkoogtiener toe haar pad die eerste keer met dié van die bekende sanger Emo Adams gekruis het. Dit was in die Baxterteater in Kaapstad. Hy was in die verhoogproduksie District Six: The Musical en sy was in ’n vertoning in die kleiner Sanlamteater op die boonste verdieping.

“Ek was op pad teater toe, toe kom Emo met die trappies af. Ek was star struck, want ek het gedink hy was ongelooflik in die musical District Six. En daar staan hy, en toe sê ek dit vir hom,” onthou Tarryn Lamb.

Vandag, 17 jaar later, is dié sangeres met die engelstem nes Emo een van die groot name op ons verhoë en sit sy boonop saam met hom in die aanbiederstoel van sy talentsoekreeks, Maak my famous, op kykNET en kykNET & kie wat nou in sy tweede seisoen is.

Begin Junie, kort nadat die top-10- deelnemers gekies is, is aangekondig verfilming moes weens die coronaviruskrisis en die inperking ’n ruk tevore reeds stopgesit word.

Nou, agt weke later, is Emo, Tarryn en die res van die Maak my famous-span terug op die kassie – dié keer in ’n nuwe formaat én tydgleuf.

Die 100 gehoorlede wat week ná week vir opnames in die Roxy Revue Bar in GrandWest in Kaapstad vir hul gunstelingdeelnemer kon stem, is nou iets van die verlede.

Die reeks word ook nou op Saterdae pleks van Woensdae uitgesaai.

“Die mentors gaan nou in die gehoor sit. Die coolste ding is dat die gehoor steeds kan stem, maar van die huis af,” vertel Emo (42) in ’n telefoononderhoud vanaf Karen Zoid se ateljee, Mothership Studios, op die Swartlandse dorpie Philadelphia, waar hy vir ’n konsert in die kuberruim regmaak.

Die hele land speel nou regstreeks beoordelaar, laat hoor sy medeaanbieder, Tarryn (35). Selfs kykers in Namibië kan stem.

“Dis opwindend,” vertel sy van haar tuiste af in Plumstead in die suidelike voorstede van Kaapstad.

Emo Adams en Tarryn Lamb
Foto: Light Lounge Studio

“Suid-Afrika gaan besluit wie hulle in die final wil sien.”

Tarryn het die musiekleer begin klim toe sy in 2002 as 17-jarige tiener die top-50 in die eerste seisoen van die sangkompetisiereeks Idols gehaal het.

Sy het later hoofsanger van die sanggroep BlackByrd geword, en haar debuutsoloalbum van 2018, Mal oor jou, het op die radio geboer. Nes Emo ken Tarryn van talent slyp op die kassie.

Sy was in 2018 ’n mentor in die VIA-sangkompetisiereeks Die kontrak.

Emo is al 32 jaar in die vermaakbedryf en bied nou ook die ikoniese musiekspeletjiesreeks Noot vir noot aan. Dié boorling van Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte het op nege al met sy talente begin woeker.

Sy pa, Omar Adams (74), oftewel “Boeta Maan”, het sy seun se aanvoeling vir teater en musiek opgemerk en hom deel gemaak van sy dramagroep, Kinders van die Ses. “Met dié groep het my pa die saadjie geplant vir Maak my famous,” het Emo onlangs in ’n aanlyn konsert vertel.

Maar êrens het ’n skeuring tussen pa en seun gekom. “Ons het sewe jaar nie met mekaar gepraat nie,” het Emo onlangs in die sosiale media gebieg.

Hulle het deur die jare versoen geraak en was onlangs die eerste keer saam op die verhoog in ’n aanlyn konsert te sien.

“Om die eerste keer in 30 jaar met my pa saam te werk is soos om jou held van voor af te ontmoet, en dit maak jou nederig,” het Emo op Instagram geskryf.

Die repetisies saam met sy pa en sy ouer sangerbroer, Loukmaan Adams, was ’n emosionele wipwarit. “Vandag is ons weer saam as pa en seun. Ek is so geseënd dat ons ons pad terug na mekaar gevind het,” het Emo in nog ’n inskrywing laat hoor.

“Dit wys ons albei het gegroei,” vertel die sanger nou aan Huisgenoot. Hy wil nie uitbrei oor die voorval wat die krake in hul verhouding veroorsaak het nie.

Emo Adams en Tarryn Lamb
Foto: Light Lounge Studio

“Dit het lank terug gebeur. Dit maak ons optrede so spesiaal, dat ’n pa en seun weer by mekaar kon uitkom.”

Emo is immers self deesdae die pa van sy en sy vrou, Michelle Gildenhuys (32), se vier seuns: hul aangenome kind, James (8), en sy kleinboeties, Kader Zayn (5), Ziah Malik (3) en die 14 maande oue Khai Jamal.

Tydens die inperking het hulle as gesin net hegter geraak. Maar tuisonderrig het maar gelol, bieg hy. “Ek en Michelle is nie onderwysers nie. Ek het al op dag een my sick leave ingesit. Ek is nie goed met daai nie. Ek is meer ’n prinsipaal-type of dude.”

“Tevore was ek by die huis, en jy sien die kindertjies en dan is jy uit. Ek het nie besef hoe besig ek was tot covid-19 en die lockdown ingeskop het nie.”

Nou werk hy eers ná agtuur saans wanneer hul huis in die noordelike voorstede van Kaapstad stil is en hul kroos slaap. Hy en Michelle, ’n model en sakevrou, is mekaar se grootste ondersteuners en het ’n “amazing verhouding”, vertel hy.

“Ek is baie bevoorreg dat ek verlief kon raak op ’n vriendin. Op die een of ander manier het ons steeds individue gebly in ’n verhouding: getroud met kinders.”

Tarryn is ook net vol lof vir haar prokureurman, Lester Timothy (40).

“Die gehaltetyd tydens die inperking is so wonderlik vir ons. Ek het so baie tyd op die pad deurgebring met my shows en travels. Ons is nou baie, baie rustig,” vertel die pragtige donkerkop wat tydens die inperking haar welige bos hare vir ’n modieuse kort bobkapsel verruil het.

“My man sit nou hier langs my en werk,” vertel sy knus in ’n kamerjas vanuit hul huis wat hulle met hul hond, Sherlock, deel. Tarryn beproef elke week ’n nuwe resep.

“My gunsteling op die oomblik is mushroom-risotto.

“Ek probeer positief bly. Die meeste van die tyd bring ek in my studio deur waar ek liedjies skryf en opneem.”

Einde Augustus hou sy ook haar eerste aanlyn konsert.

“Ek is baie opgewonde daaroor. Ek het my bes gedoen om net spesiale liedjies bymekaar te sit; om net ’n bietjie hoop te deel met die mense in ons land in dié crazy times wat ons deurgaan. As ek hopeloos voel, dan skryf ek liedjies oor hoop. Dis hoe ek myself kalm hou.” 

EMO EN TARRYN VERKLAP MEER OOR MEKAAR

EMO:

1. Wat doen Tarryn net voor sy op die verhoog gaan?

Sy run haar lines. Sy is die mees gefokusde mens wat ek ken. Sy is altyd overprepared. Sy aanvaar niks as vanselfsprekend nie. Sy is in haar hart ’n perfeksionis, of sy dit nou weet of nie.

2. Wat is haar gunstelingsêding?

As iets nie uitwerk nie, sal sy in ’n Britse aksent sê: “It’s not easy, is it?” Ek dink sy het dit in ’n Britse sitkom gesien.

3. Wat is haar gunstelingkledingstuk op die stel?

Sy hou van wedges dra. Dit gee vir haar lekker height.

4. Waaraan peusel sy in die ateljee?

Sy staan altyd met ’n slaai in haar hand. Day or night.

5. Wat drink sy?

Koffie, want ons het net koffie op die stel.

TARRYN:

1. Wat doen Emo net voor hy op die verhoog gaan?

Hy stap gewoonlik by my dressing-kamer in en begin onmiddellik met die opening lines van die show. Dan run ons die lyne vir pace en energie. Hy sal ook gewoonlik by die green room gaan inloer en vir die deelnemers sterkte toewens.

2. Wat is die snaaksste ding wat hy al op die stel gesê het?

Ek hou van sy grap as hy iemand bekendstel. Soos as die talent onderwys ge-swot het, sal hy sê: “Hy het onder wys gestudeer; vandag wys hy bo.”

3. Wat is sy gunstelingsêding?

“My mistake, your fault.”

4. Wat is sy gunstelingkledingstuk op die stel?

Sy wit tekkies.

5. Waaraan peusel hy?

Emo eet nie op die stel nie. Hy drink koffie. Ek het nog nooit iemand so baie sien koffie drink nie. Dat hy nou sy eie coffee brand het, is stunning

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe