’n Vlietende oomblik lank het die vrees aan hom kom knaag – so erg dat hy in ’n koue sweet uitgeslaan het. Sê nou haar antwoord is nie “ja” nie...

Maar teen daardie tyd was daar vir Manie Jackson geen omdraaikans meer nie. 

Toe het die gewilde sanger reeds tydens die Krone-konsert in Pretoria op die verhoog op een knie voor sy droomvrou gesak en ’n diamant­ring uit sy sak gehaal – en dít voor die oë van meer as 8 000 mense.

Terwyl die skare hul asem ophou, het Christel Coetzee (35) ook op die verhoog gekniel om haar kêrel iets te vra. 

“Ek wou by hom weet of hy regtig vir ’n leeftyd saam met my kans sien,” vertel die fyngeboude blondine ’n paar dae later.

“Sy is alles en meer as waarvoor ek ooit kon hoop: opreg, liefdevol, en sy het soveel geduld. Ons is twee afvlerkvoëltjies wat sáám heel is,” sê Manie (39) nou.

Toe neem Manie haar in sy arms en sê ja, want dis eintlik vir ’n leeftyd sonder haar dat hy nie kans sien nie.

“Sy is alles en meer as waarvoor ek ooit kon hoop: opreg, liefdevol, en sy het soveel geduld. Ons is twee afvlerkvoëltjies wat sáám heel is,” sê Manie (39) nou.

Want vir die sanger se nuwe verloofde was die lewe nie aldag maklik nie. 

Nie net het sy in 2008 kanker oorleef nie; twee jaar later is die ongeneeslike immuunsiekte lupus by haar gediagnoseer. 

Dit was reeds in so ’n gevorderde stadium dat dokters toe gewaarsku het dit kon binne vyf jaar haar lewe eis. 

manie jackson,sanger,christel coetzee
Manie sê hy kan nie wag om Christel sy vrou te maak nie. Foto: Sharon Seretlo

Haar liggaam het genadiglik goed op die behandeling gereageer, maar sedert 2017 leef sy ook met ’n ander beproewing saam: ’n Operasie aan haar kakebeen om die skade ná ’n fratsongeluk te herstel het haar met gedeeltelike verlamming aan die regterkant van haar gesig gelaat. 

Ook Manie voer al jare lank sy eie stryd en het al voorheen openlik gepraat oor sy worsteling met angs, paniekaanvalle en depressie.

Maar ondanks die seer van elkeen se verlede voel hulle saam heel en gesond. 

“Manie het nog altyd net na die mens gekyk wat ek is; hy’t nog nooit my gebroke gesig raakgesien nie,’’ sê Christel. 

“Hy het my in die afgelope 10 maande gewys wat ware liefde is en ’n rede gegee om weer voluit te leef.”

“Manie het nog altyd net na die mens gekyk wat ek is; hy’t nog nooit my gebroke gesig raakgesien nie,’’ sê Christel.

Toe trane in haar oë opwel, sit Manie sy hand vertroostend op haar bobeen hier in ’n sitkamer van sy platemaatskappy in Johannesburg.

Dan sê hy: “Ek het nog nooit so heel gevoel nie. Ek is gelukkig, verlief en baie lief vir haar. En ek kan nie wag om haar my vrou te maak nie.”

Hul eerste, vlugtige ontmoeting was in 2014 by ’n optrede van Manie in Krugersdorp waar gemeenskaplike vriende Christel aan hom voorgestel het. 

Eers vier jaar later het sy weer van haar laat hoor. 

Manie het in Maart 2018, twee maande nadat sy vorige verlowing verbreek is, op Facebook aangekondig hy is weer ’n alleenloper. 

manie jackson,christel coetzee
Christel se verloofring. Foto: Sharon Seretlo

Hy wil nie vandag oor sy vorige verhouding praat nie, en hy verskuif die fokus eerder na die begin van sy pad met Christel: “Toe stuur sy vir my ’n boodskap op Facebook.”

“Baie sterkte – ek dink aan jou,” het dit gelui. Manie erken hy het net kortaf dankie gesê. “Dit was nie die wonderlikste tyd in my lewe nie,” sê hy.

Drie maande later het Christel weer die moed bymekaargeskraap om op Facebook vir hom ’n boodskap te stuur. 

“Ek het met hom gesels oor iemand wat ons albei goed ken. Ek het nog vir hom gesê ek het hom destyds deur dié gemeenskaplike kennis ontmoet. Eers het hy nie onthou nie, en toe val dit hom by,” vertel sy.

“En van daar het ons oor alles begin praat: oor die lewe, oor seerkry, oor musiek...” vertel Manie verder. 

“Ons het selfs flieks saamgekyk sonder om mekaar te ontmoet.” Albei het tuis die fliek gekyk terwyl hulle deur middel van WhatsApp in kontak bly.

Dan sê hy: “Ek het nog nooit so heel gevoel nie. Ek is gelukkig, verlief en baie lief vir haar. En ek kan nie wag om haar my vrou te maak nie.”

Aan die einde van Junie verlede jaar het hulle eindelik ’n koffieafspraak gereël. 

Maar op pad na Christel se huis in Vereeniging het Manie ’n angsaanval gekry en omgedraai.

“Dalk was die stres om haar te ontmoet vir my op daardie dag net te veel.” 

Christel was begrypend toe hy die afspraak kanselleer. 

Sy het gevra of hulle mekaar iewers kan ontmoet waar hy meer op sy gemak sal voel. Die antwoord was by sy huis op Sasolburg.

“Ek was skrikkerig om alleen na sy huis toe te gaan,” erken sy. 

manie jackson,sanger,christel coetzee
“Sy is alles en meer as waarvoor ek ooit kon hoop,” sê Manie oor Christel.
manie jackson,sanger,christel coetzee,verloof
Foto: Sharon Seretlo

Maar toe stel Manie haar gerus dat tannie Marge Croucamp (60), wat hom al jare lank met huishoudelike take help, ook daar sal wees. 

“Dit was die perfekte aand,” onthou sy. “Hy het vir my Pasta Helena gemaak.” 

Dié tunagereg het sy pa, Robbie, ’n oudsjef wat in 2017 oorlede is, spesiaal vir Manie se ma ontwerp en dit na sy ouma genoem. 

“En hy’t my nie eens een keer probeer soen nie,” voeg Christel by.

Manie frons en sê: “Sy was vir my te spesiaal. Sy was soos geen ander vrou wat ek al ooit ontmoet het nie.”

Maar op pad na Christel se huis in Vereeniging het Manie ’n angsaanval gekry en omgedraai. “Dalk was die stres om haar te ontmoet vir my op daardie dag net te veel.”

Christel het gou ná hul ontmoeting met hom oopkaarte gespeel oor haar gesondheid. 

“Ek wou van die begin af geen geheime tussen ons hê nie. Ek het hom vertel dat ek destyds kanker oorwin het. Ook van my skok toe lupus ná jare van baie pyn by my gediagnoseer is.” 

“En van die keer toe ek in ’n fratsongeluk my kakebeen beskadig het, ’n staalplaat in my kake moes kry en nou nooit weer die regterkant van my gesig kan gebruik nie. Boonop is ek medies ongeskik vir werk verklaar...” Sy verdien wel ’n ongeskiktheidspensioen.

In dié stadium wil sy nie verder uitwei oor die besonderhede van haar kankerstryd, die ongeluk, die daaropvolgende operasie en die pad wat sy met die gevolge stap nie.

Maar Christel se stryd met haar gesondheid en fisieke uitdagings het Manie nie afgeskrik nie. 

“Die draadwerk van haar buitekant sukkel dalk effens, maar sy het die mooiste hart en natuurlike skoonheid. Ag, en dis nie asof ek perfek is nie. Ons almal is stukkend.”

manie jackson,christel coetzee,verloof
“Manie het nog altyd net na die mens gekyk wat ek is; hy’t nog nooit my gebroke gesig raakgesien nie,’’ sê Christel. Foto: Sharon Seretlo

Verlede Oktober in ’n vliegtuig op pad terug van ’n besoek aan Kaapstad het hy haar gevra om te kys.

“Die vliegtuig het net so bo die see gedraai, toe sê ek vir haar: Ek het jou nou see toe gebring en selfs tot bo Tafelberg: Wees my meisie, toe...”

Sedertdien is hy die gelukkigste wat hy nog was. “Dis nie net ek wat pens en pootjies vir haar geval het nie; al my vriende het van die begin af gesê sy is ’n trouvrou.”

Ook sy dogter, Illoné (15), het haar “onmiddellik aanvaar”. 

Toe Manie ’n week voor die Krone-konsert op 17 Augustus besluit om Christel daar die jawoord te vra, het sy dogter en sy eksvrou, Desiré Jackson, daarop aangedring om in die gehoor te wees.

“Die vliegtuig het net so bo die see gedraai, toe sê ek vir haar: Ek het jou nou see toe gebring en selfs tot bo Tafelberg: Wees my meisie, toe...”

Hy het “gekonkel” om Christel saam met hom op die verhoog te kry en vooraf vir haar gesê hy gaan ’n prys kry en wil die oomblik saam met haar deel.

“Ek het die liedjie Droomvrou gesing net voor ek haar op die verhoog laat uitstap het. Ek het gedink dis die perfekte geleentheid – sy is immers my droomvrou.”

Groot was haar verbasing toe Manie skielik op een knie sak. 

“Ek sê toe so ewe: ‘Nee, man, wat doen jy?’ En daar haal hy toe die ring uit...“Dit was perfek.”

Maar eers het sy gevra: “Jy weet ek is nie gesond nie – is jy oukei daarmee?” 

“Tyd is geleen, vir ons almal,” was sy antwoord. “Maar ons het nóú.”

manie jackson,christel coetzee,verloof
Manie het Christel op die verhoog van die Krone-­konsert die jawoord gevra net nadat hy die liedjie Droomvrou gesing het. Foto: Facebook
manie jackson,sanger,verloof,konsert
Foto: Facebook

Voor hy “ ’n ou man van 40” word, wil hy met Christel trou, skerts Manie, wat dié mylpaal op 30 Desember bereik.

Hulle steur hulle min aan negatiewe kommentaar oor hul verhouding in die sosiale media. 

“Ek was sedert my egskeiding in 2011 nog net in twee verhoudings. Maar oningeligtes maak of daar kort-kort iemand nuuts in my lewe is,” kla Manie.

“Hierdie vrou het my gehelp om teen my eie demone te baklei,” sê hy en druk haar hand. 

“Ek kan nie meer in ’n bondeltjie opkrul en vir myself jammer voel nie – ek het haar om voor te leef.”

Hulle droom van ’n bruilof êrens in die Vrystaatse bosveld, omring deur vriende en familie. 

Dan sal daar ook vir sy droomvrou ’n droom waar word – om liefde te vind by ’n man wat haar met “al die seer en swaarkry” sal aanvaar. 

“Vir lank in my lewe het ek nie geweet of ek ooit werklik sou liefhê nie,’’ sê Christel. 

“Maar Manie laat my elke dag soos die belangrikste mens op aarde voel. Asof hy my nodig het...

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.