Bekommerde aanhangers het hulle Dinsdag tot die sosiale media gewend ná ’n inskrywing van die sanger waarin hy onder meer sê die “onafwendbare het gebeur”. 

Manie en Christel – met wie hy in Januarie vanjaar getroud is – is vroeër vandeesweek genoodsaak om vir die eerste keer sedert die nasionale inperking uit afsondering te kom.

Die sanger en sy vrou het hulself by sy Vrystaatse huis afgesonder weens haar stryd teen lupus – ’n ongeneeslike immuunsiekte wat in 2010 by haar gediagnoseer is. Sy veg ’n stryd van die gevaarlikste soort: sistemiese lupus eritematose (SLE). Dit tas die vel, gewrigte, niere, longe, hart en senuweestelsel aan.

“Sy het die verskriklikste klierkoors oor haar hele lyf ervaar,” vertel Manie Woensdag aan Huisgenoot. “Jy kon nêrens aan haar vat nie – haar hele lyf was seer en ongelooflik sensitief.” 

Christel se spesialis het die paar aangeraai om na Pretoria te gaan vir ’n ondersoek. 

Mnr. en Mev. Jackson. Foto: Kobus en Angelia Kruge
Mnr. en Mev. Jackson. Foto: Kobus en Angelia Kruger / Jae's Photography

“Dis die eerste keer wat ons die huis verlaat het – behalwe natuurlik om inkopies te doen. Ons het onsself nog heeltyd probeer afsonder omdat sy so ’n hoë risiko is. Dit kan lewensgevaarlik vir haar wees om die coronavirus op te doen,” vertel hy. 

“Maar ons het geen keuse gehad nie. Ons is al die pad Pretoria toe in die hoop dat ons antwoorde sou kry. Maar vergeefs. Die probleem lê by haar blaas, maar ’n sonar kon nie bepaal presies wat fout is nie omdat daar te veel swelling is. Boonop lyk dit of haar blaas abnormaal klein is – en dit was nie voorheen die geval nie.” 

’n Uroloog vermoed daar is ’n gewas op haar blaas, sê Manie. In so ’n geval sal ’n operasie die enigste uitweg wees. 

“Dis ’n verskriklike ervaring. ’n Mens staan in toue by die hospitaal, en ek mag aanvanklik nie saam met haar binnegegaan het nie. ’n Mens doen dit maar, want jy hoop op antwoorde. Maar wanneer dokters ook nie weet nie, laat dit jou met baie onsekerheid.”

Christel is antibiotikum voorgeskryf vir die lyfseer, maar sal eerskomende Maandag (1 Junie) weer moet terug hospitaal toe vir ’n inwendige ondersoek.

Manie en Christel. Foto: Sharon Seretlo
Manie en Christel. Foto: Sharon Seretlo

“Ons gaan vandag terug Vrystaat toe – vir nou. Sondag gaan ons ’n huiskonsert hou en vergeet van hierdie bekommernisse. Maandag val ons in die pad en hoop die inwendige ondersoek bied meer antwoorde. Ons hoop dat sy op die ou end nié geopereer hoef te word nie,” sê Manie.

Die egpaar het vandeesweek by die sanger Manuel Escorcio tuisgegaan sodat Christel eers kan rus voor hulle die pad na die Vrystaat aandurf. En hoewel daar onsekerhede is, is Christel in goeie luim, bevestig Manie.

“Sy het vir die dokter gesê hy moet onthou sy kan nie hierdie week terugkom nie. Sy gaan eers Sondag my klankman wees wanneer ek konsert hou,” vertel hy trots.

“Ag, en dis seker eindelik wat ons dra. Ons bly hoop en prut nie in die dinge wat ons bang of onseker maak nie.”

Manie se aanlyn konsert word eerskomende Sondag (31 Junie) om 15:00 gehou. Besonderhede daarvan is beskikbaar op sy Facebook-blad.