Hy is die man aan die sy van een van die mooiste vroue ter wêreld. Maar is hy lief vir die glanslewe? Watwou.

Prof. André Nel is immers op sy gelukkigste wanneer hy in ’n wit jas agter ’n mikroskoop in ’n laboratorium kan staan.

Daarenteen kuier sy vrou, die immergewilde voormalige Mej. Heelal Margaret Gardiner (58), gereeld by die een glanspartytjie ná die ander saam met Hollywood-glansmense soos Angelina Jolie en Julia Roberts.

Sy vrou was al 26 keer op Huisgenoot se voorblad, maar André (66) kou maar swaar aan roem en die kollig. Tog beklee hy in sy eie wêreld, dié van akademiese kringe, uit eie reg sterstatus.

Margaret en André jare gelede tydens een van haar onderhoude met Huis­genoot. Sy het al 26 keer op ons voor­-blad gepryk.

Dié internasionaal gerekende mediese wetenskaplike navorser op die gebied van nanogeneeskunde het selfs in 2014 in die destydse Amerikaanse president, Barack Obama, se paneelraad van raad­gewers oor nanotegnologie gedien.

Nano­wetenskap behels die gebruik van nanopartikels – deeltjies sowat 10 000 keer so klein as die breedte van ’n mens­like haar.

Dié piepklein nanopartikels word byvoorbeeld met medikasie reguit na kankerselle in die liggaam gestuur om dit meer doeltreffend en met minder newe-­effekte te vernietig as met gewone chemoterapie.

André is nou die direkteur van die Universiteit van Kalifornië, Los Angeles (UKLA), se sentrum vir omgewings­implikasies van nanotegnologie. Hy is ook ’n lektor daar en ’n mederedakteur van ’n internasionale wetenskap­joernaal.

G’n wonder nie sy alma mater, die Universiteit Stellenbosch, het besluit om ’n eredoktorsgraad aan dié oud-Matie toe te ken saam met 13 ander denkleiers, onder wie pres. Cyril Ramaphosa se swaer, die sakemagnaat Patrice Motsepe.

Natuurlik het Margaret, in 1978 Suid-Afrika se eerste Mej. Heelal en tot Demi-­Leigh Nel-Peters (22) se kroning verlede jaar ons enigste, saamgekom om die prys saam te vier.

Dié keer is sy die een wat trots toekyk hoe haar lewensmaat al die aandag kry, en nie andersom nie.

Voor hul vertrek uit Amerika laat weet sy per e-pos sy en haar man staan gewoonlik nie saam onderhoude toe nie, maar hy sal tydens hul besoek tyd maak om alleen met Huis­genoot te gesels.

Uiteenlopende loopbane

Kort voor die gradeplegtigheid op 20 Maart gesels ons met André op ’n koel herfsoggend in ’n boetiekhotel in die Kaapse spogbuurt Bantrybaai. Vanuit hul kamer op die vyfde verdieping het hulle ’n prentjiemooi uitsig oor die Atlantiese Oseaan.

Margaret is nêrens te sien nie. Sy is uit “op sake”, sê hy.

Die paartjie woon al sedert die 1980’s in Los Angeles en geniet dit om nou weer ’n Kaapse draai te maak.

“Ons familie en beste vriende is almal nog hier,” vertel André op sy beskeie manier. Toe hy van sy verhouding met die borrelende, sjarmante Margaret vertel, is hy beskermend en privaat, maar toe hy oor sy werk gesels, is hy op sy gemak.

André en Margaret se beroepe verskil wêrelde van mekaar. Juis dié andersheid is ’n “groot pluspunt” en laat hul huwelik al 31 jaar lank werk.

“Ons gee balans aan mekaar se lewe. Ek is in die ernstige, straightforward wêreld en haar lewe is in die vermaakbedryf en gevul met opwindende aktiwiteite,” sê André.

Margaret voer as vermaakjoernalis onderhoude met Hollywood se A-lys-sterre en is al langer as ’n dekade lid van die Hollywood Foreign Press Association, wat veral bekend is vir die Golden Globes wat hulle toeken.

Margaret en die sexy Josh Duhamel. Foto: Instagram.
Margaret het ook met Alicia Vikander (Tomb Raider) gesels. Foto: Instagram.
Jennifer Lawrence en Margaret. Foto: Instagram.
Margaret saam met Ava DuVernay, die regisseur van A Wrinkle in Time. Foto: Instagram.

“Ons steun mekaar as ons moet en ek gaan wanneer sy my vra om haar na glansgeleenthede te vergesel.”

Hul seun, Brandon (23), verkies soos sy pa ’n lewe ver van die kollig. Hy is ’n student in Boston, Massachusetts, meer as 4 000 km van sy ouerhuis in Los Angeles.

“Ons mis hom en kan nie wag dat hy sy studie voltooi om meer tyd saam met hom deur te bring nie,” sê André.

Hy sê hy sien daarna uit om vir die grade­plegtigheid na die Bolandse dorp terug te keer waar sy pad 36 jaar gelede met dié van Margaret gekruis het.

En Margaret?

“Sy is sommer baie trots op my,” laat hy ingenome hoor.

Die vlug van Los Angeles na die Moederstad was langer as 24 uur, maar ’n dag ná hul aankoms lyk André alles­behalwe vlugvoos waar hy in ’n swart broek en blou-en-wit blokkieshemp op ’n rusbank in hul hotelsuite sit en gesels.

André en sy vrou het hul tyd in die Kaap geniet voor hy ’n eredoktorsgraad by sy alma mater, die Universiteit Stellenbosch, vir sy werk in nanowetenskap ontvang het.

Buite pak die wolke saam.

“Ek het gedink ek gaan die Kaapse son kry, maar toe reën dit gisteraand. Ek sal nie kla nie. Hier is mos ’n kwaai droogte,” sê hy en skerts: “Ek het die reën gebring.”

Dié “Transvaler” het as peuter saam met sy ouers en drie sibbes na Plattekloof in die noordelike voorstede van Kaapstad verhuis. Al het hy altyd ’n voorliefde vir wetenskap gehad, het hy besluit om in 1970 medies te gaan studeer.

“Ek wou ’n praktiese werk hê waarop ek kon terugval,” verduidelik hy.

Hul liefdesverhaal

Hy onthou sy studentedae met heimwee. ’n Glimlag sprei oor sy gesig.

Dit is immers op Stellenbosch waar hy en Margaret mekaar in 1982 ontmoet het, vier jaar nadat sy in Acapulco, Mexiko, as die mooiste vrou in die heelal gekroon is. En dit op 18 jaar.

André was ’n gas op ’n universiteits­geleentheid vir mediese studente in die Stellenbosch-stadsaal toe hy die 1,85 m lange skoonheid in lewende lywe sien. Sy was die genooide spreker. Haar skoonheid het hom uitgeboul en hy het behoorlik aan haar lippe gehang.

André het duidelik meer as die Mej. Heelal-skoonheidstitel in Margaret gesien. Vandag praat hy steeds van haar asof hulle pasgetroudes is.

“Sy is pragtig van binne en buite en gaan uit haar pad om die wêreld ’n beter plek te maak op elke lewensterrein of met enigiets wat sy aanpak. Sy is ’n merkwaardige mens.”

Margaret sê weer van hom: “André is een van die slimste mans wat ek ken. Daardie intellek. Die vermoë om ’n sinvolle gesprek te voer. Dat hy as mens groei. Dis alles kenmerke wat ek bewonder en ongelooflik aantreklik vind.”

Amerika roep

Vyf jaar ná hul ontmoeting het hulle op Valentynsdag in 1987 in die St. George-­katedraal in Kaapstad getrou. ’n Jaar later het hulle na Los Angeles verhuis nadat die UKLA van André se werk in immunologie, die studie van die immuunstelsel, te hore gekom en hom ’n pos aangebied het.

Daar was hy lid van ’n span wat in die 1980’s die eerste MIV/vigs-­pasiënte bestudeer het om te kyk hoe dié siekte opgedoen en versprei word.

“Dit was inderdaad ’n geskiedkundige oomblik en dit was ’n voorreg om deel te wees van daardie span,” sê hy.

Nou, twee dekades later, vereer Maties hom vir sy bydrae tot die nanoweten­skap. Dié plegtigheid gaan nie juis wemel van die soort sterre saam met wie hy en Margaret gereeld uithang nie, skerts hy.

Hy was juis onlangs by die glansryke Golden Globes-prysaand. Maar anders as sy stylvolle vrou en haar ander gas, Demi-­Leigh, wat om elke hoek en draai gekiek is, was André nêrens op ’n foto te sien nie.

“Van my word nie verwag om op die Hollywood-geleenthede mense te ontmoet nie. Ek is daar om dit te geniet. Margaret is dan die een wat moet werk,” skerts hy.

Die paartjie is mekaar se grootste ondersteuners.

“Ons reis gereeld saam die wêreld vol na geleenthede waarheen ek genooi word. Margaret gaan altyd saam wanneer sy nog nie ’n land gesien het nie,” vertel hy. China, Engeland, Frankryk, noem maar op en dié twee was waar­skynlik al daar.

Hulle pak dikwels staproetes aan en onderneem graag uitstappies na wyn­land­goedere.

“Ons sin vir avontuur en opwindende ervarings is wat ons as ’n paartjie deel. Ons is lief vir mense, geleenthede en nuwe dinge,” sê André.

Tuis is hulle nes enige ander gewone “tradisionele” gesin.

“Ons kuier saam met vriende en gaan eet saam uit. Kommunikasie is belangrik vir ’n verhouding om te hou.”

Die pad vorentoe

Tot dusver het hy geen planne om af te tree of stil te sit nie. Ook nie Margaret nie.

“Sy is ’n merkwaardige persoonlikheid en trots Suid-Afrikaans,” sê hy.

Hul hart trek op ’n punt Suid-Afrika toe, maar vir eers bly Los Angeles hul tuiste.

“Ons is byna elke jaar of tweede jaar hier. Ons mis alles van die land; die prag, mense, see, kos en kultuur.”

Toe ons fotograaf die kamera uithaal en André vir foto’s regstaan, skerts hy: “Wees maar geduldig. Om vir kameras te poseer is Margaret se werk.”

Maar ons reken hy hoef geen tree vir sy beeldskone vrou terug te staan nie.

FOTO'S: MISHA JORDAAN, INSTAGRAM, VERSKAF