Dit was nie sommer net skinderpraatjies nie: Onder haar dak het jy sowaar van byna net water en liefde geleef . . . Dat sy ’n vrou van vele talente is, is gewis.

Sy is een van die gewildste sangers in Afrikaans, ’n TV-aanbieder, modelmooi en boonop ’n raakvatterma van drie. Maar ’n voorslag in die kombuis? Nie Karlien van Jaarsveld nie. Sy kan dan skaars ’n eier kook . . .

“My grootste bekommernis op my troudag was eenvoudig: Ek het nie geweet wat ek vir die man gaan maak om te eet nie,” spot die blondekop oor haar bedenklike kookvernuf en haar vrese voor haar troue met die sakeman Joe Breytenbach in 2017.

Maar nou het die koningin van ek-kan-nie-kook-nie se eie kookboek pas op die rakke verskyn. En die titel? Ewe kordaat: Karlien kan nie kook nie.

“Dis vrek snaaks – ek is mal daaroor,” sê-lag sy, en diep kuiltjies keep in haar wange.

Maar dat Karlien nié kan kook nie, is nie meer die reine waarheid nie. Want haar Joe, ’n ekspert in die kombuis én om die braaivuur, se liefde vir kos maak het iets in haar kom wakker maak.

“Joe maak buitengewoon lekker kos – die smake, die geure . . . Ek is die gelukkigste vrou op aarde.

“Eers wou ek net weet watter bestanddele hy vir daardie ongelooflike smake gebruik. Toe het ek op ’n dag – so ewe met Joe op die selfoon – stap vir stap ’n Thaise hoendergereg gemaak. Nou kook ek al; nie vreeslik nie, maar dis heel aangenaam.”

En as sý dit kan doen, sê Karlien, kan enigiemand.

In ’n gesellige restaurant in die ooste van Pretoria vertel sy van die vreemde reaksie in die sosiale media nadat sy ’n paar dae tevore ’n foto van haar by ’n yslike pampoen gedeel het.

Daarby het Karlien geskryf: “Vrydag (13 September) het ek nogal flippen exciting nuus om te deel . . . Dis iets wat ek nooit gedink het ek sal doen nie.”

Dis die dag dat haar eie kookboek op die winkelrakke verskyn het – tot die verbasing van baie van haar aanhangers.

“Niemand kan glo ék het enigiets met kos maak uit te waai nie,” gesels sy oor ’n glas vars vrugtesap.

En hoekom sou hulle? In die kombuis staan haar hande immers vir álles verkeerd.

“Ek het eenvoudig nooit leer kook nie. My ma het lekker gekook, maar nie fancy nie. Ons het nooit die geleentheid gehad om self te kook nie,” terg sy oor Ronel Brink, vandag ook haar bestuurder.

’n Skielike lagbui laat Karlien se oë fyn skrefies trek voor sy wegval met ’n staaltjie uit haar en haar sangerbroer, Bobby, se kinderjare: “Ons was nog jonk, ek en Bobby. Ons het een Sondagmiddagete by familievriende gaan kuier en Bobby het sy sjokoladekoekbordjie uitgelek.”

Ronel het nie eintlik self gebak nie, en koek was ’n bederf.

“Ek onthou die ontstelde kyk in my ma se oë; hoe sy vir hom met haar oë probeer wys het hy beter hom gedra.”

Lank voor die talentvolle broer en suster supersterre geword het, in ’n tyd toe hul ma nog elke sent moes omdraai, was daar twee geregte in hul huis: brood en pasta. 

“En groentesop,” onthou sy dan. “Dit moet ek toegee: My ma maak wonderlike groentesop.”

Karlien het in haar jongdae nooit self haar hand aan kos maak gewaag nie. En toe haar loopbaan eers op dreef kom, was daar geen tyd vir agter die stoof staan nie. In haar huis het wegneemetes toe koning gekraai.

En as jy gelukkig is, dalk iets soos visvingers wat sy net in die oond kon druk. Maar toe sy Joe in 2016 ontmoet, het alles verander.

“Ek onthou hoe hy my een aand na sy eenmanwoonstel genooi het. Hy het sommer self ’n visgereg gemaak. Ek het lekker gekyk – omdat hy so mooi is – en lekker geëet, die lekkerste wat ek nog geëet het.”

Ná hul troue in 2017 het Joe die leisels in die kombuis oorgeneem.

“Ek kon my vingers met elke gereg afeet, en ure lank na hom staar: Hy is so geesdriftig wanneer hy kook. Hy braai ’n biefstuk soos niemand anders nie, en die sampioensous eet ek soos sop.”

Verlede jaar het sy passie vir kos maak ook in haar vlam gevat. En toe Lapa Uitgewers haar vroeg vanjaar nader met die idee vir ’n kookboek met eenvoudige resepte wat enigiemand kan maak, het sy dadelik ingestem.

“Die tyd was perfek. Ek het pas in kos maak begin belangstel. Ek onthou hoe ek op ’n dag besluit het: Nou wil ek iets probeer. Ek het in die kombuis gestaan en Joe gebel. Hy moes my stap vir stap verduidelik hoe om Thaise hoender te maak. En heeltyd sê hy: ‘Liefie, ek is nou-nou tuis.’ Maar ek wóú dit doen.”

Hoe het dit toe gesmaak?

“Ek sal nie jok en sê ek het Joe vir ’n ses geslaan nie, maar ek was natuurlik baie beïndruk met myself.”

Die kookboek was vir haar dus ’n geleentheid om meer oor die fynere kuns van kos maak te leer.

“Die idee was om dit tong-in-die-kies te hou: maklike geregte wat enigeen kan maak, want Karlien kan mos nie kook nie. Maar ná die boek bak en brou ek veel meer in die kombuis. Dit het vir my heerlik geword om dinge te beproef.”

Steeds is sy g’n sjef nie, erken Karlien. En die kinders, die tweeling, Daniël en Eliah (byna 6), en Elah (byna 2), se fiemies maak dit nie makliker nie.

“Elah moet gesonder eet oor haar gesondheid,” sê sy oor haar en Joe se kleinding wat ’n lewensgevaarlike siekte het weens ’n bloedklont in die poortaar wat die lewer, milt, maag en pankreas van bloed voorsien.

Karlien en Elah
Karlien en Elah. Foto: Willem Botha

“Maar Daniël en Eliah? Hulle eet geen groente nie, nes hul ma. As ek gelukkig is, kan ek hulle dalk soms oorreed om ’n appel te eet.

“Ek moes leer om die kinders ’n rat voor die oë te draai: Ek maak plaatkoekies met patat, en hulle lek hul lippe af. Dis omtrent al manier waarop ek groente in hul lyfies kry.

“Maar nou, ná die resepteboek, is dit soveel makliker as voorheen om slinks met kos te wees.”

Eens was wegneemetes die norm in haar huis, maar nou is Karlien net so gemaklik agter die kospotte as agter ’n mikrofoon. Foto: Willem Botha

Die kookboek was ’n familiepoging. Joe se trefferbiefstuk en sampioensous en sy nou reeds bekende Thaise hoendergereg verskyn daarin, en ook sy ma, Renette Breytenbach, se resep vir Peppermint Crisp-tert, Karlien se gunstelingnagereg, en Ronel se groentesop.

“En daar is selfs ’n groentegereg in die boek,” spog sy.

“Maar die kans dat ek dit vir myself sal maak, is bitter skraal. Dalk één keer, net om seker te wees ek hou steeds nie van groente nie.” Sy is “ongelooflik lief” vir eet, bieg die slanke Karlien.

“Daarom besoek ek die gimnasium drie keer per week. Maar om weg te bly van stysel en suiker . . . Oe, nee!”

Die geregte in haar kookboek het al almal op haar eetkamertafel verskyn. Sy hoop nou dié boek sal vir ander wys ’n mens kan op enige ouderdom leer kook.

“Dis eers wanneer ’n mens werklik begin kos maak dat jy besef hoe spesiaal dit is: die stories daaragter, die oomblikke wat ’n mens deel,” gesels die sangeres oor haar nuutgevonde voorliefde.

“Ons dek nie sommer ’n tafel nie, behalwe op vakansiedae. Maar nou, met meer geleenthede om resepte te beproef, gebeur dit ál meer dat ons om ’n tafel kuier. Want dis meer as net kos; dit bring mense bymekaar.

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.