Silwerdoeksensasie, fiksheidsghoeroe, tydlose skoonheid, feminis, aktivis – en nou wéér ’n liefling van die skerm. 

Jane Fonda is een van Hollywood se voorste verkleurmannetjies; ’n meester van die kuns om voortdurend ’n nuwe identiteit te skep.

Maar selfs sý het nooit in haar wildste drome gedink haar lewe sou op 80 steeds so suksesvol en bedrywig wees soos toe sy in die 1960’s op almal se lippe was ná haar vuurwarm verskyning in die ikoniese Barbarella nie.

Sy het waarskynlik gereken sy sal teen dié tyd stilweg in haar tuin werskaf, ver van die flitsende ligte en die fliekskerm af.

’n Plakkaat vir die kultustreffer Barbarella.

Maar die lewe het duidelik ander planne vir haar gehad. Die aktrise het onlangs haar 80ste verjaardag gevier en is beslis geen afgeleefde tante wat tevrede is om in haar skemerjare op haar louere te rus nie.

Die nuwe seisoen van haar trefferreeks Grace and Frankie is van 19 Januarie af op die stroomdiens Netflix te sien. Sy het ook ’n paar lokettreffers op pad en is nog net so ’n vurige aktivis soos altyd.

Dis haar ywer as kampvegter vir verdienstelike sake wat haar aan die gang hou, sê Jane.

Ek het nie gedink ek sou weer betoog nie

“Ek het gedink ons sou (teen my 80ste verjaardag) ’n vrouepresident hê,” het sy onlangs aan Vanity Fair gesê. “Ek het gedink ek sou dalk begin tuinmaak. Ek het nie gedink ek sou weer betoog nie, nee.”

Sy was trouens op haar 79ste verjaardag in 2016 saam met haar jare lange vriendin en Grace and Frankie-medester Lily Tomlin (78) by ’n betoging teen die Dakota Access Pipeline. Hulle het saam met duisende mense by die Standing Rock Sioux-reservaat in Noord-Dakota geprotesteer teen die bou van dié ondergrondse oliepyplyn van 1 886 km.

Jane se 80ste verjaardag op 21 Desember verlede jaar was ’n bietjie glansryker, maar sy het steeds die geleentheid gebruik om ’n saak te bevorder wat haar na aan die hart lê. Sy het die Eight Decades of Jane-partytjie in Atlanta gehou om geld vir haar liefdadigheidsorganisasie die Georgia Campaign for Adolescent Power and Potential (GCAPP) in te samel. Dit fokus op opvoeding oor seksuele gesondheid en die voorkoming van tienerswangerskappe.

Carole King, Jane en James Taylor op Jane se 80ste verjaardagviering.

Die gaste het duisende dollars vir ’n plek in die eksklusiewe Whitley-hotel opgedok, waar hulle aan ’n agtgangmaaltyd weggelê het – elke gang het ’n dekade van Jane se lewe voorgestel.

Dolly Parton en Oprah Winfrey het videoboodskappe gestuur wat op die aand gespeel is. Dolly het ’n saamsinguitvoering van haar trefferliedjie 9 to 5 aangebied en Oprah het ’n allemintige $100 000 (sowat R1,25 miljoen) geskenk.

“Deur jou voorspraak en deur jou dade is jy letterlik ’n meesterklas in aksie,” het Oprah oor Jane gesê. Die GCAPP se voorsitter en uitvoerende hoof, Kim Nolte, het heelhartig saamgestem. “Die meeste mense sit agteroor wanneer hulle 80 is – sy versnel die pas,” het Kim op die sterbelaaide geleentheid gesê, waar altesaam R16,25 miljoen ingesamel is. “Ek het nog nooit iemand so hard sien werk soos Jane nie.”

Selfs in haar 80’s is Jane hard aan die werk voor die kameras. En sy is steeds op haar beste, met benoemings vanjaar vir ’n Emmy en Amerikaanse Akteursgilde-prys vir Grace and Frankie. Sy is die vervaardiger en vertolk ook ’n hoofrol in dié reeks oor twee uiteenlopende karakters in hul goue jare wat teen alle verwagting in vriende raak.

Jane by haar Grace en Frankie-medester Lily Tomlin.

“Ek is baie dankbaar vir die program, want dit gee ons ’n kans om aan ouer vroue kultureel gestalte te gee,” sê sy oor die komedie waarin sy die gespanne vuurvreter Grace teenoor Lily se nonchalante Frankie speel.

Sy het ook ’n paar rolprentprojekte aan die kom. Daar’s die romantiese drama Our Souls at Night, waarin sy vir die vierde keer saam met Robert Redford op die skerm verskyn, en dan die komedie Book Club, saam met Diane Keaton en Candice Bergen.

By Robert Redford in hul nuwe fliek, Our Souls at Night.

Ondanks haar sukses op die skerm en elders het Jane se reis allesbehalwe seepglad verloop. Sy sê sy het as ’n jong ster nie eens gedink sy sou 30 haal nie. “Ek het my nooit 30 voorgestel nie,” sê sy. “Ek het aangeneem ek sou nie baie lank leef nie en dat ek eensaam en as die een of ander verslaafde sou sterf.”

Jane se sosialevlinder-ma, Frances, het haar eie lewe geneem deur haar keel af te sny toe Jane 12 was. Die aktrise het al onthul sy het deur moeilike kinderjare saam met haar afsydige pa, die Hollywood-ikoon Henry Fonda, geworstel.

Ek is grootgemaak om vet te voel

Jane het haar pa ondanks sy emosionele koudheid verafgod, en dit het tot ’n “spanningsvolle adolessensie” gelei. 

“Ek is grootgemaak om vet te voel,” het sy aan die koerant Daily Mail gesê nadat haar outobiografie, Prime Time, in 2011 uitgegee is. “Al sou my pa my nie regstreeks sê nie, sou hy een van sy vroue (hy was vyf keer getroud) kry om vir my te sê ek behoort nie ’n bikini te dra nie.

“Eendag het ek hom oor my hoor praat – ek kan jou nie eens vertel wat hy gesê het nie; dit het my getraumatiseer. Ek kan nie voorgee ek sal daaroor kom nie.”

Gevolglik het Jane ’n stryd teen bulimie gevoer en verskeie onstuimige verhoudings gehad. Sy het van drie “alfamans”, soos sy hulle noem, geskei – Barbarella se regisseur, Roger Vadim (wat in 2000 in die ouderdom van 72 jaar dood is), die sosiale en politieke aktivis Tom Hayden (wat verlede jaar op 76 dood is) en die mediamagnaat Ted Turner (79).

Romantiese liefde is vlietend

Jane is nou heel gelukkig enkellopend nadat sy en die musiekvervaardiger Richard Perry (75) hul verhouding van agt jaar in 2016 beëindig het.

“Romantiese liefde is vlietend,” het sy net voor haar verjaardag aan die tydskrif People gesê. “Ek voel vol liefde. Maar dis nie romantiese liefde nie.” “(In verhoudings) wil jy raakgesien word. Jy wil veilig wees. Jy wil op die hande gedra word. As jy nie raakgesien, veilig of op die hande gedra voel nie, stap weg.

Jane by haar biologiese kinders, Vanessa en Troy, en haar skoondogter, Simone Bent (heel regs).

“Daar is baie depressielyers in my familie. Vir my kinders sou ek sê: ‘Probeer om nie met iemand te trou wat dit gaan erger maak nie.’ ”

Sy het Vanessa (49) uit haar huwelik met Roger, en Troy (44) by Tom. Sy het nog ’n kind, Mary Williams (50), grootgemaak vandat die meisie 14 was. Terwyl sy nou haar verhoudings met haar kinders koester, is sy spyt oor haar gebrek aan betrokkenheid as ’n ma toe hulle jonger was.

“Dis die een ding wat ek wens ek kon oordoen,” het sy aan People gesê. “Maar ek sê vir my kinders ek is jammer. Ek het nie geweet hoe om ’n betrokke ma te wees nie, en ek is baie, baie jammer.”

Amper 40 jaar nadat sy haar Jane Fonda’s Workout-ryk in die 1980’s begin het, spog sy steeds met ’n benydenswaardige figuur op die rooitapyt. Sy skryf dit grootliks aan “geluk” toe, maar oefen so dikwels as wat sy kan en verkies stap en pilates – selfs ná ’n knie- en heupvervanging.

Die destydse fiksheidsghoeroe doen haar ding.

“Ek het geweet as ek nie weer begin oefen nie, sou ek nie die mens gewees het wat ek vandag is nie. Nie net liggaamlik nie; geestelik ook.

“Ek hou dop wat ek eet; ek mediteer. Ek het genoeg geld om ’n afrigter te kry en vir masserings te gaan,” sê sy reguit.

Sy erken ook ruiterlik sy was al onder die mes. “Ek het later moeg geword van moeg lyk terwyl ek nie was nie,” skryf sy in haar biografie.

Sy het chirurgie aan haar kaaklyn en onder haar oë ondergaan. “Maar ek wou steeds soos ek lyk, net ’n uitgeruste ek.”

Maar Jane is die trotsste op hoe sy aan die binnekant verander. “Ek is dankbaar ek het in die 80 jaar beter geraak,” sê sy. “Ek is minder veroordelend. Ek is vergewensgesind. Ek het baie hard gewerk om ’n beter mens te word.”

Bronne: People, Daily Mail, Vanity Fair, Variety, wwd.com, Vice

Foto's: Gallo Images/Getty Images, Instagram