DANIE DU TOIT

Foto: Instagram (@danie_reenwolf)
Foto: Instagram (@danie_reenwolf)

As kind was dié hoofsanger van die sanggroep Spoegwolf versot op die Britse skrywer J.K. Rowling se Harry Potter-boekreeks. Die boeke oor die towenaar-tiener het sy lewe verander.

“Dit het my geleer om op te staan vir wat reg is en om nie bang te wees nie,” sê hy.

NICOLE FORTUIN

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

Chimamanda Ngozi Adichie se boek Half of a Yellow Sun het veral ’n indruk op dié Alles Malan-aktrise gemaak toe sy dit as tweedejaardramastudent gelees het.

“Dit het ’n dieper waardering vir die natuur en menslike konneksie gewek, maar veral empatie en dankbaarheid in my,” vertel sy. “Die manier waarop sy skryf is so poëties en rou. Ek het die belangrikheid van kwesbaarheid en deursigtigheid besef wat nodig is om ware aangrypende verhale te vertel.”

DAVID JOHNSON

Foto: Willem Botha
Foto: Willem Botha

Die Getroud met rugby-akteur is ’n regte boekwurm.

“Die boeke wat my lewe verander het is Soul Stories deur Gary Zukav, The Celestine Prophecy deur James Redfield en die boek van Spreuke in die Bybel. Ek het Soul Stories gelees toe ek 19 was. Dit het my geleer om met meer as net my vyf sintuie die wêreld aan te vat.” sê hy.

MARCIEL HOPKINS

Foto: Verskaf
Foto: Marguerite van Eeden

Stephen Covey se boek The 7 Habits of Highly Effective People het ’n groot impak op dié model en Boer soek ’n vrou-aanbieder se lewe gehad.

“Ek het die boek gelees toe ek besig was om voor te berei vir Mej. Suid-Afrika in 2015. Ek het al baie daarna teruggegaan om weer dinge te lees wat vir my uitgestaan het,” vertel Marciel. Die vyfde gewoonte in die boek sal haar altyd bybly.

“Dit moedig jou aan om eers iemand of iets anders te verstaan voor hulle jou verstaan.”

ELMA SMIT

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

Die boeke wat dié radio- en TV-vrou se lewe verander het, is Never Let Me Go deur Kazuo Ishiguro, In my vel deur Azille Coetzee, Untamed deur Glennon Doyle en Sevens Heaven deur Ben Ryan.

“Ek het In my vel verlede jaar gelees toe dit uitgekom het,” sê Elma. “Ek was mal daaroor omdat dit tegelyk ’n ware liefdesverhaal is en ook oorweeg wat dit is om te kies om na Suid-Afrika terug te keer, om hier te woon én te wees in ’n wêreld waar ons soveel ander opsies het.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe