Dít is die prentjie wat die voormalige mej. Heelal Margaret Gardiner (60) skets in ’n plasing op Facebook oor die chaos wat in Los Angeles in Amerika woed weens die coronavirus.

Dié virussiekte, wat in die stad Wuhan in China ontstaan het, het binne drie maande na meer as 100 lande, insluitende Amerika, versprei.

Margaret en haar man, André Nel, woon al sedert die 1980’s in Los Angeles.

“Liewe vriende. Ek plaas ’n paar foto’s van dinge wat in Los Angeles gebeur as gevolg van die coronavirus. Mense neem voorsorgmaatreëls, maar doen ook paniek-aankope.

"Om voorsorg te tref het ek ’n week gelede solank aankope gedoen en vandag gegaan om dinge soos garnale, vars vis, ens. te koop. Dit is wat my begroet het,” skryf sy. 

“As jy water, papierhanddoeke of toiletpapier wil hê moet jy ’n uur wag. Andersins stap jy net in soos normaal.

"Jy moet wag totdat iemand hul mandjie uitpak voordat jy een kan kry, want daar is baie mense in die winkel. Daar is geen handewasseep te vinde nie. Dit word al weke lank uitverkoop soos die maskers,” skryf sy. 

Sy raai haar Facebook-vriende aan om ’n lys te maak van wat hulle dink hulle vir die volgende drie of vier weke gaan nodig hê voordat dinge hand uitruk. 

“Begin met vars produkte wat jy in die eerste week kan eet. Hopelik kan jy volgende week weer gaan inkopies doen, maar as jy nie kan nie, koop gevriesde kos. Dinge waaruit jy ’n paar maaltye kan maak.

"Laastens, as die ergste sou gebeur, koop droë goedere. Hopelik sal niks daarvan nodig wees nie. Maar doen dit as jy bekommerd is.

Volgens Margaret het Australië ’n soortgelyke paniek gehad wat twee weke lank geduur het en dinge is nou weer terug na normaal.

“Ek hoop dat dit hier oor ’n week ook die geval sal wees.” 


Volgens Margaret is sy seker die winkelrakke in Los Angeles sal môre weer vol wees en dat sy oor ’n maand van nou af na haar inkopies aan kyk en wonder wat sy met agt blikke tuna gaan maak. 

Sy vra verder haar vriende om veilig te bly en hulle nie te laat ontstel deur haar inskrywing nie. 

“Dit is net ’n oomblik. Nog een ding vir perspektief, Tom Hanks en sy vrou, Rita, het dit en hulle lyk heeltemal fine.”