In 1978 het Margaret as Mej. RSA aan die Mej. Heelal-kompetisie deelgeneem en met die louere weggestap. Vandag is sy net dankbaar om gesond en gelukkig te wees.

Op Facebook het sy ’n hele reeks mense en instansies bedank vir al die steun wat hulle vir haar oor die jare gebied het. Sy is op 16-jarige ouderdom alleen Parys, Frankryk, toe om haar drome te verwesenlik om ’n model te word.

 

“Ek is dankbaar dat ek twee keer met kanker gedans het en nou daardie littekens dra, maar steeds kan dans,” skryf sy.

Margaret het aan die einde van Augustus verlede jaar ’n operasie gehad om ’n kankergewas uit haar neus uit te sny. 

Margaret het op Valentynsdag in 1987, vyf jaar nadat hulle mekaar ontmoet het, met André Nel in die St. George-katedraal in Kaapstad getrou. ’n Jaar later het hulle na die deelstaat Los Angeles in Amerika verhuis waar die Universiteit van Kalifornië vir hom ’n pos aangebied het.

Margaret Gar­diner en haar man, André Nel, vanjaar by die Golden Globes in Kalifornië. Foto: Verskaf.

“Ons sin vir avontuur en opwindende ervarings is wat ons as paartjie deel. Ons is lief vir mense, geleenthede en nuwe dinge,” het André vroeër aan Huisgenoot gesê.

En dit is dalk net hul liefde vir die lewe en avontuur wat hulle so jonk hou. 

Margaret Gardiner

Vroeër vandeesweek het sy ook op Facebook geskryf: “Ja, ja. Ek verstaan. Ek het plooie. Ek kan nie so vinnig hardloop tussen dinge nie. Ek lyk nie soos ek gelyk het toe ek jonger was nie.

“Ek is deur menopouse – maar raai wat? Ek leef steeds. Ek lyk nie meer soos ek gelyk het in ’n kortbroek nie, maar my bene werk nog. Ek het lelike littekens aan my lyf en my siel. Maar ek het ook lagmerkies van onbedaarlik lag,” sê sy.

Die voormalige Mej. Heelal Demi-Leigh Nel-Peters en Margaret Gardiner by die Golden Globes in Januarie 2018. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Hoewel sy meer selfvertroue met sekere dinge gehad het toe sy jonger was, is sy nou weer meer selfversekerd oor ander dinge, meen sy.

“Ouderdom is die beloning van die lewe. En pssst, hier is die geheim: Ek is GELUKKIG!” skryf sy.