Huldeblyke stroom in nadat die veelsydige Margot vandag in die ambulans op pad na die hospitaal gesterf het.

Well-known SABC radio personality, drama director and actor, Margot Luyt has died. She suffered from Parkinson's disease...

Posted by SABC News Western Cape on Tuesday, 19 January 2021


Nog 'n groot boom het geval - rus in vrede , liefste Margot Luyt , dit was 'n voorreg om jou te ken , saam met jou te...

Posted by Amanda Strydom on Tuesday, 19 January 2021


Kan nie glo Margot Luyt is oorlede nie. Het baie by haar geleer, hoewel ek soms lekker bang was vir haar. As Margot gepraat het, het jy geluister. Margot met die groot hart, mag jy in vrede rus.

Posted by Margit Meyer-Rödenbeck on Tuesday, 19 January 2021


Baie hartseer nuus van Margot Luyt se afsterwe. Toegewyd, talentvol, ‘n groot gees. Sy het diep spore nagelaat. RIV. Medelye aan haar geliefdes.

Posted by Martelize Brink on Tuesday, 19 January 2021

Hartseer nuus: Die veteraan aktrise en radio aanbieder, Margot Luyt is vanmiddag oorlede aan 'n Covid verwante...

Posted by Die Suid-Afrikaanse Legendes Museum on Tuesday, 19 January 2021
UIT DIE ARGIEF: Radiolegende Margot Luyt maak oop oor Parkinsons – Pieter van Zyl, Huisgenoot 19 Julie 2018
Praatwerk is Margot Luyt se brood en botter, maar Parkinsonsiekte het haar kwesbaar gemaak.
 Margot Luyt.
Margot Luyt.

Woorde was nog altyd haar rots; die fondament waarop sy haar vastrapplek in die wêreld vind. Dit was ook die boustene vir haar loopbaan; as omroeper en aktrise het sy lank haar brood en botter daarmee verdien. Nou, ná dekades as die doyenne van die radiowêreld, glip die woorde onder haar weg.

Die bekende radiostem van die 71-jarige Margot Luyt weifel af en toe wanneer sy vertel van die verlies wat sy probeer verwerk nadat Parkinsonsiekte ’n houvas op haar lewe gekry het. Haar oë wys dis vir haar pynlik om daaroor te praat.

“As omroeper is woorde my lewe,” sê sy hier in ’n koffiekroeg naby haar huis in die noordelike voorstede van Kaapstad.

“Ek moes vanoggend sukkel om Chloe uit die huis te kry. Sy het ’n eie wil,” vertel sy oor haar basterbrakkie. Dan bly Margot stil en kyk na die panoramiese uitsig oor Tafelberg.

“Hoekom vertel ek jou dit?” vra sy. Sy dink ’n rukkie na, vee oor haar gesig. “O ja, ek kan haar nie in die huis hou nie. Sy eet skoene.” Margot haal diep asem.

Daar het jy jou eerste bekendstelling aan Parkinsons. Ek is kwesbaar in my krag met woorde. Ek wou iets sê, ek wou jou iets vertel. Dis skielik weg.

“Daar het jy jou eerste bekendstelling aan Parkinsons. Ek is kwesbaar in my krag met woorde. Ek wou iets sê, ek wou jou iets vertel. Dis skielik weg. En dis nie vergeetagtigheid weens ouderdom nie; die roete wat my kop wou vat, het verdwyn.”

Dié neurologiese siekte is al meer as ’n jaar gelede by haar gediagnoseer, maar Margot het tegnieke aangeleer om haar met die struikelblokke te help. Dit help haar om die pouses tussen woorde weg te neem sodat haar stem steeds klink soos die deurwinterde stem wat dekades lank oor die radio gespoel het en ander akteurs as regisseur ook al jare lank in hul stemwerk vir die SAUK lei.

“Weens die siekte klink dit later asof ’n mens dronk is,” sê sy.

Mismoedig vertel die formidabele radioregisseur sy kry deesdae selfdoodgedagtes. Net ’n maand gelede is sy vir twee weke in ’n psigiatriese eenheid van die Tygerberg-hospitaal opgeneem nadat sy aan haar dokter erken het sy wou haar eie lewe neem.

“Ek wou nog altyd pille drink, want ek wil nie my dogter met bloed en derms opsaal nie,” erken Margot.

 Dié radiovrou praat openhartig oor die siekte wat deel geword het van haar lewe. Foto: Misha Jordaan
Dié radiovrou praat openhartig oor die siekte wat deel geword het van haar lewe. Foto: Misha Jordaan

Dan voeg sy by: “In die hospitaal was dit vir my soos ’n baarmoeder. Ek het veilig gevoel, maar ek moes daar uitkom om te kom leef.”

Sy sal nooit die dag vergeet toe die diagnose in 2017 gemaak is nie. Haar huisdokter het opgemerk sy is bewerig. “Ek hou hom lankal dop,” het die dokter gesê en na haar linkerhand gewys wat skud.

My diafragma het geruk. My hele liggaam was uit harmonie. Soos ’n regte aktrise wou ek nie my hande na my gesig bring nie.

Hy het Margot na die Tygerberg-hospitaal se neurologie-eenheid gestuur. Daar is verskeie toetse gedoen en onder meer gekyk hoe sy loop en omdraai.

Mrs Luyt, you have Parkinsons,” het die dokter vir haar gesê terwyl sy op die bed gesit het. “My diafragma het geruk. My hele liggaam was uit harmonie. Soos ’n regte aktrise wou ek nie my hande na my gesig bring nie. Ter wille van die kamera. Dat ek in dié stadium so gedink het, is bisar.”

Sy was bekommerd oor hoe dit haar psige sou raak. Haar pa het destyds sy eie lewe geneem, en depressie en angs gaan dikwels met Parkinsons gepaard. Sy skud haar kop. “Die dag van my diagnose was die ergste dag in my lewe.”

Margot werk sedert 1978 as stemkunstenaar en regisseur vir die SAUK en is soms steeds die aanbieder en samesteller van RSG se radioprogramme Kortom en Vers en Klank. As TV-aktrise was sy onlangs in die tweede seisoen van die kykNET-reeks Sara Se Geheim te sien.

Daarin speel sy die verbitterde, rassistiese tant Marie wat later ’n inkeer beleef. In haar persoonlike lewe het sy in haar ruim hart plek gemaak vir groot liefde. Sy was 40 toe sy haar oor ’n vierjarige bruin meisietjie ontferm wie se biologiese ma nie meer vir haar kon sorg nie.

By haar sesjarige kleinseun, Stephan. Foto's: Verskaf
By haar sesjarige kleinseun, Stephan. Foto's: Verskaf

Dié meisie, Jacky, het haar dogter geword en was “die grootste geskenk” van haar lewe. Sy vertel hoe sy destyds moes “baklei teen apartheid, selfs om haar in ’n Sondagskool te kry”.

Nadat ’n kerk in Seepunt in 1987 ’n spesiale kerkraadsvergadering moes belê om te besluit of Jacky welkom is, het Margot besluit om eerder die St. George- Anglikaanse kerk op Groentemarkplein in die Kaapse middestad by te woon.

Daar het die destydse aartsbiskop, Desmond Tutu, haar in sy erediens sien huil en ná die tyd met haar kom praat.

Hy het aanbeveel dat sy die meisie na ’n skool stuur waar nie net wit kinders is nie.

Vandag is Jacky Luyt Landman ’n maatskaplike werker en sy en haar man, Stephanus Landman, die trotse ouers van Stephan (6) en die tweeling, Mari- Ella en Isabella (11 maande).

Margot se kleinkinders gee haar groot vreugde. Sy is al sedert 1997 “gekys”, soos sy dit stel, aan Graham Clarke (60). Sy het in die 1980’s van hom gelees nadat hy as weerman op Marion-eiland siek geword het.

Hy het as 25-jarige weerkundeassistent op Marion-eiland, sowat 2 170 km suidoos van Kaapstad, ’n beroerte gekry en is daarna van sy tong af ondertoe verlam. Graham leef sedertdien met inkluissindroom, maar Margot het hom opgesoek en onder haar vlerk geneem.

Margot, haar lewensmaat, Graham Clarke, wat met inkluissindroom leef, haar dogter, Jacky, en dié se man, Stephan Landman. Foto: Verskaf

Graham “praat” met sy oë deur ’n spesiale masjien waar hy met ’n sensortjie aan die pet op sy kop op ’n paneel tik sodat die praattoestel dit in ’n blikstem teruglees.

Hy woon in die Eric Miles Cheshire Home in Milnerton saam met sy versorger, maar Margot gaan haal hom oor naweke om vir haar te kom kuier. Maar dinge het verander sedert sy ook siek geword het.

“Dit is nou hy wat vir my sorg,” vertel Margot.

“Ek gee nie om om nou versorg te word nie. Graham weet wat om te sê om my beter te laat voel. Hy kan die TV en musiek met die spesiale toestel aanskakel. Hy speel vir my klassieke musiek. Mahler, onder andere.

“Hy oorreed my ook dat ons by die see uitkom, gewoonlik by Big Bay (by Bloubergstrand). En hy sal sy versorger skelmpies stuur om vir my drie Peppermint Crisp-stafies te gaan koop.”

Haar rou openhartigheid is aangrypend; hartverskeurend. “Ek wil nie vir hom ’n las word nie. Hy het my nie meer nodig nie. Maar ter wille van my kleinseun, Stephan, is ek nog hier.”

Sy vertel sy het een oggend drieuur wakker geword en begin skree. Jacky het haar probeer kalmeer, maar dit was ’n hewige paniekaanval. Nou druk sy op haar bors wanneer sy daaraan terugdink.

 Margot Luyt.
Margot Luyt.

“Dit gaan sit hier.”

Sy is toe vir twee weke in ’n hospitaal daar naby opgeneem. “Ek leef volgens roosters. Om ouer as 70 te wees was nie deel van my rooster nie. Ek het gedink ek gaan in my 60’s in ’n motorongeluk sterf,” vertel sy.

“Parkinsons was ook beslis nie deel van my rooster nie.”

Graham wil hê sy moet ophou werk sodat hulle kan toer na plekke soos die oop Tankwa-Karoo waar hy vryheid ervaar. As sy dan moet, sal sy graag op die stoep wil sit en al Karel Schoeman en Elsa Joubert se boeke lees.

Maar haar sig is ook besig om vinnig te verswak. Aanvanklik het kortisoon-oogdruppels gehelp, maar nou moet sy ’n vergrootglas gebruik.

“Dis ’n probleem,” merk sy op. Wat as Parkinsonsiekte veroorsaak dat haar aftakeling erger raak? Sy skud haar kop. “Volgende vraag.”

Intussen sluit sy haar radioprogram Kortom steeds af met dieselfde welbekende en geliefde groet: “Ek is Margot Luyt. Alles van die aller-aller-állerbeste. Mag dit met ons almal goed gaan.” 

Parkinsonsiekte
  • Dit is ’n breinsteuring waar spesifieke selle in ’n deel van die brein, die substantia nigra, sterf. Dit kan nooit weer teruggroei nie, verduidelik prof. Soraya Bardien-Kruger van die afdeling molekulêre biologie en mensgenetika aan die Universiteit Stellenbosch. Sy is hoof van die navorsingsgroep oor Parkinsonsiekte.
  • Simptome is onder meer dat ’n mens stadiger beweeg, jou hande en bene styf raak, jou gesig uitdrukkingloos bly, jy stadig praat en soms kwaai bewe, sê dr. Pieter Kritzinger, ’n neuroloog van die Netcare Pretoria-Oos-hospitaal. Angstigheid, depressie, slaapsteurings, rustelose bene en kwaai nagmerries kan voorkom, sê die Kaapse neuroloog dr. Dion Opperman. Jy kan sukkel met balans en apatie en psigose ervaar, sê Soraya.
  • Sy sê volgens ’n teorie kan gifstowwe in die omgewing soos swaar metale of plaagdoders tot die siekte lei. Kopbeserings kan dit ook veroorsaak.
  • Medikasie is beskikbaar om die simptome te vertraag. ’n Duur operasie kan gedoen word om ’n batteryaangedrewe neurostimuleerder in die brein te plant om gebiede te stimuleer wat beweging beheer.