By ’n koffierestaurant in Lille. Marita wil hê Mia
By ’n koffierestaurant in Lille. Marita wil hê Mia moet van haar Suid-Afrikaanse wortels weet.

As skrywer is sy al jare lank daaraan gewoond om in afsondering te werk. Om haar karakters op papier te laat leef, moet dinge om háár stil raak. En daardie skryfstilte het gelei tot groot sukses: Haar trefferboek Griet skryf ’n sprokie is in meer as ’n dosyn tale vertaal; haar storie Dis koue kos, skat het op die silwerdoek as fliek gepronk.

In hoeveel Afrikaanse huise sit haar voosgeleesde boeke op die rak: Die dinge van ’n kind, Wegkomkans, Die blou van onthou . . .

Tog het die inperking weens die covid-19-pandemie Marita van der Vyver swaar getref, daar waar sy al meer as twee dekades lank in die suide van Frankryk naby Avignon saam met haar Franse man, Alain (62), woon.

“Die alleenheid het my nog nooit gepla nie, maar daar is ’n verskil tussen alleenheid en eensaamheid,” verduidelik die 62-jarige skrywer vanuit Frankryk. 

Sy skuif nader aan die rekenaarskerm asof sy ’n geheim hier op Zoom wil deel.

“Ek het nog nooit in my lewe eensaam gevoel nie. Ek kon altyd uitreik na vriende of familie, en dit is vir my verskriklik lekker om saam met hulle te kan kuier, maar die inperking het veroorsaak dat ek vir die eerste keer in my lewe werklik eensaam gevoel het.” 

Daarby het die streng inperkingsmaatreëls wat verlede Maart in Suid-Afrika ingestel is, haar finansieel geknou.

Boeke is nie deur die owerhede as ’n noodsaaklike produk geklassifiseer nie, en was daarom nie tydens die strengste vlakke van die inperking te koop nie.

Van die Afrikaanse tydskrifte waarvoor Marita geskryf het, het toegemaak, en met boekfeeste, seminaars en kreatiewe skryfkursusse is daar halt geroep. 

“Die inperkings was ’n besonderse moeilike tyd,” erken sy nou. “My inkomste is onder my uitgeruk.”

Soos miljoene ander mense het sy skielik in die nagmerrie-jaar van 2020 gesit en wonder: Wat nou? Wat moet ek nou maak?

“En dit was toe dat ek baie intens begin skryf het. Dalk die intenste wat ek al ooit in my lewe geskryf het.”

Soos tevore wanneer sy in haar lewe deur diep waters gegaan het, was skryf haar reddingsboei. Maar dié keer het Marita haar “eie storie” vertel – ’n speurtog deur haar grootwordjare in die apartheidsera, maar ook ’n poging van haar as ma om sin te maak uit die onverskillige en wrede wêreld waarin haar dogter haar nou begewe.

Haar jongste boek is dan ook as ’n ontroerende liefdesbrief aan haar Franse dogter, Mia (21), geskryf, met die titel ’n Baie lang brief aan my dogter.

Hoekom het sy besluit om dié outobiografiese werk in die vorm van ’n brief te giet?

“Enigiemand wat my werk ken, sal weet ek het ’n ding oor briewe,” antwoord Marita.

“’n Brief is die naaste wat ek aan ’n praatstem kom, maar dit bly ’n skryfstem. Dit is nie so rou en kru soos ’n dagboekstem nie. ’n Dagboek skryf jy net vir jouself. ’n Brief is altyd vir minstens een ander mens bedoel.

“Ek het gedink dit sal my help om natuurlik oor te kom en informeel. Om gedurig in gedagte te hou dat ek nie net vir myself skryf nie,” verduidelik sy. 

“Dit was die grootste uitdaging van ’n outobiografie skryf, dat jy heeltyd daarvan bewus is dat jy jou eie storie vertel. Daar is ander mense rondom my soos my familie wat deel uitmaak van my storie, maar ek kan nie húl storie vertel nie. Hulle het hul eie stories om te vertel. 

“Hoe vertel ek my storie sonder om te veel inbreuk op hul stories te maak?” vra sy.

Dan kom die antwoord: “ ’n Brief het my gehelp om dit te doen. Ek skryf dit asof ek dit vir my dogter vertel.” 

’n Ma en dogter se verhouding

Op foto's van haar en Mia lyk die twee stralend. Op een staan hulle knus langs mekaar met die Arc de Triomphe in die agtergrond. Op ’n ander is hulle in ’n nou stegie by ’n koffiewinkel iewers in Lille.

Dis duidelik dat Marita ’n besonderse hegte verhouding met haar enigste dogter het. Maar pols jy haar hieroor, gooi sy wal: “ ’n Mens moet dit eintlik eerder vir die dogter as vir die ma vra. Ek wantrou altyd ma’s wat sê hul dogter is hul beste vriendin. Ek dink nie dit is vir die ma om te sê nie. Ons wil almal glo ons is ons dogters se beste vriendin. 

“Ek sal nooit sê ek is my dogter se beste vriendin nie. My dogter het ander vriende en vriendinne, maar ons kom baie goed klaar,” sê Marita, ook die ma van ’n seun, Daniël (29), wat as argitek in Lausanne, Switserland, werk. 

Die ma-dogter-verhouding het ook sy uitdagings, erken sy.

“Daar was al die ups and downs van die tienerjare. Dit sou onnatuurlik gewees het as ons nie op tye verskriklik vasgesit het nie, soos wat ek met my ma vasgesit het nie. Ek was maar ’n lekker opstandige tiener en dan kan jy nie verwag dat jy sedige kinders gaan grootmaak nie.

“Ek het altyd gedink aan wat my ma vir my gesê het toe ek ’n tiener was: ‘Wag maar tot jy ’n dogter het, en dan sal jy verstaan.’ En dit het my vreeslik bang gemaak om ’n dogter te hê, want dit het gevoel soos ’n vloek wat my ma oor my uitgespreek het. 

“Ek het van die dag dat Mia gebore is, gedink sy gaan my as ’n tiener absolute hel gee en ek het myself voorberei op iets verskrikliks. Ek kan eerlikwaar sê – noudat die tienerjare verby is – dit was nie naastenby so erg as wat ek gedink het dit gaan wees nie.

”Mia studeer nou in Lille om ’n ontwikkelaar van videospeletjies te word. Aanvanklik het Marita dié beroepskeuse ietwat vreemd gevind, tot Mia haar daarop gewys het dat sy eintlik in haar ma se voetspore wil volg, al is dit op ’n ander, nuwe manier.

“Sy wil stories vertel, maar sy wil dit vir die 21ste eeu doen met prentjies eerder as woorde,” verduidelik Marita.

“Sy ontwerp die stories, die karakters en die agtergrond van die videospeletjies.” 

By ’n katedraal in Frankryk.
By ’n katedraal in Frankryk.

Daarmee het Mia haar ma aan “die vreemde nuwe wêreld” van videospeletjies blootgestel. 

“Daar was in my tyd net pinball-masjiene, maar jy het ook nie daaraan geraak nie, want die ordentlike meisies het nie pinball gespeel nie,” sê die skrywer met ’n glimlag. 

Al is Mia in Frankryk gebore en getoë, kan sy Afrikaans verstaan.

Het sy al haar ma se baie lang brief aan haar gelees? “Nee, dit was nog nie beskikbaar nie,” antwoord Marita oor die boek.

“Ek het vir haar gesê sy kan dit in manuskripvorm lees, maar sy het gesê sy wil nie. Sy vertrou my. 

“Ek gaan nie altyd daar wees om my storie vir haar te vertel nie,” voeg sy.

“Die ironie van die lewe is dat jy op ’n sekere ouderdom kom waar jy begin vrae vra oor jou oumas en oupas, en dan is hulle nie meer daar nie. Dit is wat met my gebeur het. 

“Ek wil hê my kind moet van haar familiegeskiedenis weet en ook van haar Suid-Afrikaanse wortels. Dis ’n brief wat ek eendag vir haar agterlaat.” 

’n Liefde vir lees 

Op die skerm sien ’n mens ’n reuseboekrak agter Marita daar in haar tuiste op die Franse platteland.

“Ek het nie meer spasie in my boekrak nie,” kla sy. “Ek moet nou die boeke dwars draai sodat ek kan plek maak. Die hele huis is besaai met die boeke.” 

Haar indrukwekkende boekrak getuig van die skrywer se eerste groot liefde – vir lees. Daarvan vertel sy ook in ’n Baie lang brief aan my dogter

“Ek wil graag die liefde vir lees aan ander oordra soos ’n sendeling,” vertel sy.

Sy het immers as sewejarige ewe plegtig ’n belofte aan God gemaak dat sy eendag ’n sendeling sal word.

“Ek wens ek kon hierdie eksistensiële krisis op ’n ander plek soos by die see gekry het, maar ek het dit in my ouma se badkamer gekry,” vertel sy van een van die oomblikke wat haar lewe in ’n ander rigting gestuur het.

“Ek het skielik bewus geraak van my eie sterflikheid. Ek weet nie hoekom ek juis in daardie stadium besef het ek gaan ook eendag doodgaan nie, maar ek kon nie ophou dink aan hoeveel boeke ek nog wou lees en al die speletjies wat ek nog wou speel nie.

“Ek het toe begin bid en vir Liewe Jesus gesê as ek net ’n grootmens kan word, sal ek ’n sendeling word en die heidenkindertjies in Afrika gaan bekeer.” 

Nou, meer as vyf dekades later, het Marita toe geen siele gaan bekeer nie. Tog beskou sy haarself as ’n soort “sendeling”. 

“Ek is ’n sendeling van die woord met ’n kleinletter. Ek wou altyd ’n skrywer word, en die besef dat ek eendag gaan doodgaan het my aangespoor om vroeg te begin skryf en te publiseer. Ek put ongelooflik baie genot daaruit as iemand na my toe kom en vir my sê hulle het een van my boeke gelees en dit geniet.” 

Maar as sendeling van die geskrewe woord probeer sy ook die jeug aanspoor om te lees en te skryf.

“Ek was betrokke by ’n fantastiese projek waar ek as jeugboekskrywer skole in Suid-Afrika besoek het om kinders aan te moedig om te lees.” 

Uit dié projek in 2019 is die boek Jy sê, ek sê, ons sê, gebore wat praat-poësie deur skoolkinders bevat. 

’n Sirkel wat voltrek word

’n Week voor ons aanvanklike afspraak, laat weet Marita per e-pos sy moet die onderhoud uitstel. Haar pa, Daniël van der Vyver (87), is daardie oggend van 17 Maart in ’n hospitaal in Kaapstad oorlede.

“Hy was lank siek. ’n Mens het dit verwag,” vertel sy nou.

“Dit is altyd moeilik, maar op ’n vreemde manier voel dit vir my soos ’n sirkel wat voltrek word. Ek skryf ook in die boek van sirkels wat ’n mens moet voltooi om met nuwe sirkels te begin. My nuwe boek is letterlik gebore op die dag dat my pa dood is. Dit was vir my ’n teken dat die lewe aangaan.” 

Op sy sterfdag is die eerste eksemplare van haar nuwe boek by haar uitgewer in Kaapstad afgelewer.

Daarin skryf Marita met verwondering oor haar pa – oor sorgelose vakansies op Franskraal, maar ook oor hoe haar pa ’n planmaker en sakeman was en dat dit meegebring het dat hulle baie moes rondtrek.

Hulle het eers in die Noordelike voorstede van Kaapstad gewoon, toe in Pretoria en later naby die dorpie Hazyview in die huidige Mpumalanga.

Saam met ’n vriend, Douw Steyn.
Saam met ’n vriend, Douw Steyn.

Toe haar pa daar ’n piesangplaas koop, was die trek Laeveld toe geweldig traumaties vir haar.

“Die omgewing is natuurlik beeldskoon. Eksoties. As ek nou vir my mense vertel hoe naby ons aan die Krugerwildtuin gebly het, klink dit vir hulle ongelooflik. Dan klink dit vir hulle of ek Karen Blixen in Out of Africa was.

“Maar toe dit met my gebeur het, was ek 16 en ek wou nie hierdie wilde lewe hê nie. Ek wou die wilde lewe van die stad hê. Dit was op die ouderdom dat ek na disko’s wou gaan. ’n Mens kry kêrels en jy wil in die stad gaan rondjol en oor naweke inkopies doen. Daar sit ek toe op ’n plaas in die middel van nêrens met slange om my,” lag sy.

Dit was ook in Mpumalanga dat sy tydens haar laaste skooljaar die trauma van twee motorongelukke beleef het. Sy het as groentjie-bestuurder haar pa se bakkie afgeskryf en was ook saam met haar skoolkêrel in ’n kombi wat gerol het. Hulle is gelukkig nie beseer nie.

In haar nuwe boek beskyf sy ook ’n latere traumatiese gebeurtenis toe sy een van die seerste laagtepunte in haar lewe beleef het. 

“Ek wou vir die leser drade gee tot waar ek nou is – wat later in my lewe gebeur het en hoe dit daarmee verbind is,” verduidelik sy.

Haar eersteling, ’n seuntjie met die naam Ian uit Marita se eerste huwelik, het met sy geboorte in 1990 in Kaapstad breinskade opgedoen.

Sy was daarna vir ’n jaar in en uit die hospitaal met hom tot hy kort voor sy eerste verjaarsdag dood is. 

“In daardie stadium het my huwelik ook uitmekaar geval; my ma het kanker gekry. Dit was so ’n opeenstapeling van dinge dat jy nie kan glo dat so baie dinge op een slag kan gebeur en jy steeds staande bly nie.

“Hoe ek staande gebly het, kan ek nie vir jou sê nie. Jy vat dit voetjie vir voetjie. Een van my ou universiteitsvriendinne het vir my gesê jy het nie nodig om te swem nie. Dobber net.” 

Dit was toe dat skryf vir die eerste keer vir haar ’n reddingsboei geword het.

“Dit was in hierdie geweldige moeilike tyd wat ek Griet skryf ’n sprokie geskryf het. Dit het my hele lewe verander. Ek het tevore jeugboeke geskryf en was redelik onbekend. 

“Alles om my was so verskriklik aaklig dat ek myself in die wêreld van fiksie ingedink het. Ek het my lewe gered deur te skryf.” 

In ’n Baie lang brief aan my dogter vertel Marita ook hoe tekste uit haar fiksieboeke met werklike gebeure in haar lewe verband hou.

Mia saam met haar Franse pa, Alain.
Mia saam met haar pa, Alain.

“Ons skrywers kry geweldig baie die vraag of ons tekste outobiografies is. Natuurlik is daar dinge waaroor jy skryf wat in jou lewe gebeur het. Die emosionele lewe van ’n karakter moet jy uit jouself kry. 

“Ek het gedink dit sal ’n interessante oefening wees om hier en daar iets uit te lig wat ek in my boeke geskryf het, maar dan ook te sê wat regtig gebeur het. En soms is dit wat regtig gebeur het, vreemder as fiksie.” 

Wat is die een boodskap wat sy in haar jongste boek vir lesers wil oordra?

“Dat ons altyd moet onthou dat die verlede ’n ander land is. Dat ons nie die verlede moet oordeel met die maatstawwe van vandag nie,” antwoord sy.

“Ek maak verskoning by my dogter oor al die dinge wat ek verkeerd gedoen het. Op dieselfde manier kyk ek terug na my ouers en voorouers se sondes, maar ’n mens moet dit nie oordeel aan vandag se standaarde nie.” 

Oor wat die dag van môre inhou, wik en weeg sy en haar man nog. Alain tree vanjaar af en hulle het planne gehad om in Suid-Amerika of Europa te gaan toer.

Hulle oorweeg dit ook om hul huis te verkoop en ’n kleiner blyplek te koop, dalk in Suid-Afrika of dalk in Frankryk.

Met die coronavirus wat nog nie gewyk het nie en reisbeperkings wat steeds geld, sal enige toekomsplanne eers moet wag.

Maar watter rigting haar lewenspad ook al inslaan, Marita sal altyd genoeg stof daarop vind vir nuwe stories. En dít is haar baie lang brief aan haar lesers wat nog lank nie sy einde bereik het nie.

Marita van der Vyver se jongste boek.
Marita van der Vyver se jongste boek.
  • ’n Baie lang brief aan my dogter word deur NB-uitgewers uitgegee. Dit is by alle boekwinkels teen R330 beskikbaar.  
  • Huisgenoot het in sy uitgawe van 15 April 2021 in dié artikel oor Marita van der Vyver verkeerdelik berig haar dogter, Mia, verskyn saam met haar oupa op een van die foto’s. Mia verskyn inderwaarheid saam met haar pa, Alain, op die foto. Huisgenoot het ook in ’n onderskrif by ’n foto van Marita op ’n bromponie verkeerdelik berig haar man, Alain, verskyn saam met haar op die foto. Dit is inderwaarheid ’n vriend, Douw Steyn, wat saam met Marita op die foto verskyn. Huisgenoot vra om verskoning vir dié foute en stel graag die feite reg.