Martin het onlangs foto’s op Instagram gedeel van hoe hy voor die tyd gelyk het toe hy 94,5 kg geweeg het, en hoe hy nou lyk nadat hy 8 kg afgeskud het.

Hy voel nou soos ’n nuwe mens, vertel die sanger van die liedjie Ek Het Geweet.

Sy volgelinge op Instagram het hom gelukgewens met sy vordering. Onder hulle was sy kollega die Jacaranda-omroeper Danny Painter.

“Jy het so goed gedoen. Die transformasie is ongelooflik. Welgedaan,” skryf sy.

Volgens Martin het hy homself net te lank laat gaan, veral ná sy nuwe oggendroetine as omroeper op Jacaranda FM, wat hom van sesuur tot negeuur soggens op die lug hou. Hy toer ook baie as sanger.

Soggens eet hy pap en jogurt omdat hy vroeg uit die vere moet wees vir sy radioprogram, vertel Martin. Laatmiddag peusel hy aan 80 g biltong en ’n stukkie pynappel. Hy het ’n paar goed, soos brood, uit sy dieet gesny en het seker gemaak hy eet goeie koolhidrate soos patat, vertel Martin. “Ek het net nou en dan aartappels en rys geeët. Ek het gemaalde beesvleis geeët of vis en maaskaas, en amandelmelk pleks van koeimelk gedrink.”

Een keer per week het hy ’n “cheat meal” – Noord-Indiese kos op ’n Sondagmiddag. “As jy ’n cheat meal doen, doen dit aan die einde van die dag,” is Martin se raad. Dit keer dat jy later lus raak daarvoor. Hy’t ook onder meer kardio-oefening gedoen.

En sy raad aan Huisgenoot-lesers wat van die ekstra vetjies ontslae wil raak?

“Neem die besluit en begin net. Dit raak makliker, maar jy moet begin aktief raak en gesonder keuses maak wanneer dit kom by wat jy eet en drink.

“Daar is soveel maniere om goeie raad te kry oor hoe om reg te oefen en reg te eet. Dis makliker as wat jy dink, al lewe jy ’n vol lewe en kan net drie keer ’n week gim!,” sê hy.