Meghan en Harry het onlangs vir die viering van haar 38ste verjaardag in 'n privaat straler 'n geheime vlug na Ibiza in Spanje onderneem. Hul seun, Archie Harrison Mountbatten-Windsor (3 maande), is ook saam met sy ouers op dié verjaardagvakansie.

Die wegbreek van ses dae was die jong prinsie se eerste vakansie.

Die koninklike paartjie het verlede Dinsdag in Ibiza, ’n eiland in die Middellandse See, aangekom. Hulle het in ’n privaat villa tuisgegaan. 

Die egpaar se besluit om 'n privaat straler vir hul Ibiza-vlug te gebruik, beteken dat die vlug ses keer meer koolstofdioksied per persoon vrygestel het as 'n geskeduleerde vlug van Londen na die Spaanse partytjie-eiland. 

Die vlugte heen en weer sou 12,5 ton koolstofdioksied opgelewer het.

Maar aanhangers van dié paartjie is geskok dat hulle gekies het om ’n straler te neem terwyl hulle beloof het om hul koolstofdioksied-gebruik te verminder. Daar is daagliks sowat 14 vlugte van Londen na Ibiza. 

Harry het selfs onlangs aan die Britse Vogue genoem dat hy en Meghan dalk net twee kinders sal hê weens hul kommer oor die impak op die omgewing. Hul kritici noem die paartjie nou skynheilig. 

“Die hertog van Sussex praat so wonderbaarlik met roerende woorde oor die omgewing en dan vlieg hy vir 'n vakansie na ’n Europese bestemming in ’n privaat straler,” sê Aaron Kiely, Friends of the Earth-woordvoerder. 

“Hy kon ’n boot of trein geneem het. Dit sou die perfekte geleentheid gewees het om 'n voorbeeld te stel oor ons impak op die omgewing.”

Bronne: Daily Mail, Mirror