Dit was goeie nuus in ’n jaar vol verwyte en hartseer. Min mense kan die vreugde van die koms van ’n nuwe lewe weerstaan, en ’n paar stywe bolippe het versag met die koms van Lilibet Diana Mountbatten-Windsor.

Koningin Elizabeth se 11de agterkleinkind is gebore kort ná haar man, prins Philip, se dood in April en op die hakke van die opspraakwekkende onderhoud waarin Lilibet se ouers met Oprah Winfrey gepraat het oor die verbrokkeling van hul verhouding met die koninklike familie.

Prins Harry en Meghan se droom is bewaarheid – op
Prins Harry en Meghan se droom is bewaarheid – op 4 Junie 2021 het hulle ’n gesin van vier geword. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Prins Harry en sy vrou, Meghan, was twee dae tjoepstil oor hul dogter se koms voor hulle haar geboorte op Sondagaand 6 Junie op hul Archewell Foundation-webtuiste aangekondig het.

“Op 4 Junie is ons geseën met die koms van ons dogter, Lili. Sy is meer as waarvoor ons ooit sou kon hoop. Ons is dankbaar vir die liefde en gebede van reg oor die wêreld. Dankie vir jul omgee en ondersteuning in hierdie baie spesiale tyd vir ons gesin,” het hulle toe gesê.

Harry en Meghan is nou albei met kraamverlof, het ’n twiet van Omid Scobie, wat die boek Finding Freedom oor die paartjie geskryf het, gelui. Lili, soos haar ouers haar noem, is gebore ses dae voor Philip sy 100ste verjaardag sou vier, en sy bring geluk ná Meghan se miskraam van verlede jaar.

Haar uitgebreide familie is duidelik ook oorstelp oor haar koms. “Ons is ingenome met die blye nuus oor die koms van baba Lili. Geluk aan Harry, Meghan en Archie,” het prins William en Kate laat hoor.

Buckinghampaleis het ook ’n boodskap gedeel: “Geluk aan die hertog en hertogin van Sussex met die geboorte van Lilibet Diana! Die koningin, die prins van Wallis en die hertogin van Cornwall is verheug oor die nuus.”

’n Bron na aan die paartjie sê om ’n gesin van vier te word is “wat hulle nog altyd wou hê”. Dit lyk nie of nog klein Sussexe in die toekoms kom nie. Harry het immers reeds gesê: “Twee, dis al.”

HAAR NAAM

Harry en Meghan se dogtertjie se naam bring hulde aan koningin Elizabeth, Harry se ouma, en sy ma, prinses Diana.

Koninklike kenners glo dis die paartjie se manier om te probeer vrede maak met sy familie.

Harry het in sy onlangse onderhoud met Oprah Winfrey asook in programme daarna vertel hy was sielsongelukkig in die koninklike kring en ook beweer die lewe in die fel kollig het Meghan tot op die randjie gedryf.

Lili se name bring hulde aan koningin Elizabeth. F
Lili se name bring hulde aan koningin Elizabeth. Foto: Gallo Images/ Gettty Images

Tog het hy net mooi woorde gehad oor sy ouma. Hy het sy ma aanbid en het al vertel hy rou steeds al die jare ná haar dood in 1997. En nou word albei vroue vereer met sy dogter se name.

Lilibet was koningin Elizabeth se bynaam as kind. Sy kon as kleuter nie haar naam uitspreek nie, en haar pa, koning George, het haar toe begin noem op die naam wat sy wel kon sê: Lilibet.

Dit was ook prins Philip se troetelnaam vir haar.

Lili se name bring hulde aan prinses Diana. Foto:
Lili se name bring hulde aan prinses Diana. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Harry het glo die koningin laat weet sy dogter sal haar naam dra voor hulle die nuus met die wêreld gedeel het. Diana sou op 1 Julie vanjaar haar 60ste verjaardag vier, en nou sal haar kleinkind haar naam dra.

Prinses Charlotte het ook Diana as een van haar middelname.

DIE HOSPITAAL

By die luukse Santa Barbara Cottage Hospital in Santa Barbara, Kalifornië, waar Lili gebore is, kos ’n keisersnee en als wat daarmee gepaard- gaan R380 000, terwyl ’n natuurlike geboorte jou net R200 000 uit die sak sal jaag.

Dis net 10 minute van die paartjie se huis in Montecito. Harry en Meghan se vriendin en buurvrou, die sangeres Katy Perry, se dogter, Daisy Dove, is ook daar gebore.

Die Santa Barbara Cottage Hospital, waar Lili gebo
Die Santa Barbara Cottage Hospital, waar Lili gebore is. Foto: Santa Barbara Cottage Hospital

Die geboortekamers spog volgens die hospitaal se webtuiste met leunstoele, ’n wiegstoel, ’n rusbank en ’n “geboortebed met baie gemaklike kussings”.

Meghan sou ook haar eie jacuzzi vir gespesialiseerde hidroterapie gehad het en ’n pragtige tuinterras waar sy sou kon asemskep in die vroeë stadiums van die geboorteproses.

Daar is ook ’n spyskaart vir kamerdiens en peuselhappies vir ma en pa.

BOET EN SUS

Harry en Meghan kon dié keer doen wat hulle wou, vry van die reëls en tradisies wat met die geboorte van koninklike babas gepaardgaan.

Met Archie se koms twee jaar gelede was hulle ongelukkig oor die streng protokol wat hulle moes volg.

Hulle het die kleinding se geboorte geheim probeer hou en nie eens koninklike assistente was aanvanklik bewus van sy koms nie.

Hulle het deurgeloop onder kritiek omdat hulle nie die dokters wat met die geboorte gehelp het se name wou bekendmaak nie – ’n taboe wat koninklike protokol betref – en het ook nie die baba op die trap van die hospitaal aan die wêreld gewys nie, soos van koninklikes verwag word.

Harry en Meghan het op Valentyns­dag aangekondig hulle verwag hul tweede kind. Foto: Instagram/@misanharriman
Harry en Meghan het op Valentyns­dag aangekondig hulle verwag hul tweede kind. Foto: Instagram/@misanharriman

Lili het 3,4 kg met geboorte geweeg, effens swaarder as Archie, wat met sy geboorte 3,2 kg geweeg het.

Sy is vanweë haar geboorte in Amerika nou ’n Amerikaanse burger en – soos haar broer – geregtig op dubbele burgerskap. Archie is die sewende aanspraakmaker op die troon en sy kleinsus die agtste.

Nes haar broer sal sy nie ’n titel dra nie – sy sal bloot bekendstaan as Lilibet Diana Mountbatten-Windsor.

FAMILIE EN NAASTE VRIENDE

Anders as met Archie se geboorte – toe Meghan net haar ma, Doria Ragland (64), aan haar sy gehad het – het sy nou haar beroemde vriende naby haar.

Katy Perry en dié se lewensmaat, Orlando Bloom, asook Oprah Winfrey woon in dieselfde buurt as die Sussexe.

Dis nie bekend wanneer Harry se familie die jongste lid van hul kroos sal ontmoet nie – hulle het Archie immers in 2019 laas gesien.

Meghan en haar beste vriendin, ­Misha NoNoo. Foto:
Meghan en haar beste vriendin, ­Misha NoNoo. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Meghan se vervreemde pa, Thomas Markle (76), is ook steeds nie deel van hul lewe nie. Maar klein Lili sal geen tekort aan maatjies in die omtrek hê nie.

Benewens die nege maande oue Daisy Dove wat in dieselfde straat saam met haar ouers, Katy en Orlando, woon, sal Lili ook kan speel met haar mamma se beste vriendin se seuntjie.

Meghan se beste vriendin, die modeontwerper Misha NoNoo, trek glo binnekort van New York na Montecito, en sy en haar man, die miljoenêr Mikey Hess, het ’n seun, Leo, wat ’n jaar jonger as Archie is.

MEGHAN SE SWANGERSKAPSTYL

Die hertogin is net ’n paar keer tydens haar tweede swangerskap deur fotograwe afgeneem – dit is heelwat minder as toe sy met Archie swanger was en gereeld in die kollig was.

Meghan, wat hou van ’n sjiek maar ontspanne styl, het vloeiende ontwerpersrokke en oorvourokke deur van haar gunsteling- Amerikaanse ontwerpers soos Brandon Maxwell en La Ligna gedra.

’n Swanger Me­ghan in Mei afgeneem in ’n uitrustin
’n Swanger Me­ghan in Mei afgeneem in ’n uitrusting van Carolina Herrera. Foto: Vaxlive

Haar klere vir haar tweede swangerskap het na raming sowat R1,3 miljoen beloop; heelwat minder as die geskatte R10 miljoen wat sy as werkende koninklike destyds met haar eerste swangerskap gedra het.

LILI SE STERRE

Die nuweling is ’n Tweeling nes haar oupagrootjie prins Philip en word sy “koninklike tweeling” genoem.

Astrologiekenners sê klein Lili sal sprankelend wees en met haar “kop in die wolke” leef, terwyl ouboet Archie, wat in Mei gebore is, plat-op-die- aarde en standvastig sal wees – ’n tipiese Bul, nes sy oumagrootjie die koningin.

Mense wat onder die sterreteken van die Tweeling gebore is, is dikwels speels, slim, spraaksaam en gesellig, beweer Debbie Frank, ’n sterrewiggelaar wat ook nou saam met Diana gewerk het.

“Lili gaan ’n mense-mens wees, wêreldwys en nuuskierig, en sy sal hou van gesels.

“Beslis ’n ekstrovert met ’n innemende persoonlikheid wat mense na haar sal aantrek.

“Sy sal ’n vriendelike geaardheid hê asook ’n vermoë om bande met ander te vorm en gaan haar sensitiwiteit gebruik om hul lewe ten goede aan te help en te beïnvloed.”

Die kleinding se maan is in die vurige Ram, sê Debbie, en sy gaan beslis weet wat sy wil hê.

“Sy kan dalk ietwat baasspelerig wees met haar broer, maar sy het ook ’n sensitiewe streep en ’n ryk verbeelding.”

BRONNE: EXPRESS.CO.UK; HELLOMAGAZINE.COM; ELLE.COM; THESUN.CO.UK, USMAGAZINE.COM, DAILYMAIL.CO.UK, PEOPLE.COM, TOWNANDCOUNTRYMAG.COM; FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, MISAN HARRIMAN/DUKE AND DUCHESS OF SUSSEX, SANTA BARBARA COTTAGE HOSPITAL, HARPO
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.