Skaars twee jaar het verloop sedert daardie luisterryke bruilof van die prins en sy beeldskone bruid in die swier van ’n tradisieryke katedraal.

Die wêreld was in vervoering oor dié ware sprokiestroue. Prins Harry, daardie eens verlore en rigtinglose jong man, het sy hart verloor op ’n wêreldwyse aktrise wat duidelik lief was vir haar prins, maar ook ’n sterk wil van haar eie het.

Harry en sy Meghan was ’n formida­bele paartjie – hy met sy natuurlike sjarme en prettige streep; sy die slim en selfversekerde Amerikaanse skoonheid.

Die nuwe koninklike glanspaar gaan dinge deurmekaarkrap, het waarnemers toe reeds voorspel. Maar hulle kon dalk die beste ding gewees het wat in ’n lang tyd met die stugge koninklike familie gebeur het: Hulle was gewild onder gewone mense, meer toeganklik en modern as die res van die koninklike familie en het as sterre in die liga van Hollywood se A-lys groot invloed gehad.

Tog het daar iets geskort, sou dit later blyk: die bereidwilligheid om hul eie drome en behoeftes ter wille van hul koninklike plig te laat vaar. Hulle kon en wou dit nie doen nie. Anders as koningin Elizabeth het hulle hul plig teenoor die monargie en sy mense nie as hul eerste of enigste prioriteit beskou nie.

Dit behoort nie eintlik ’n verrassing te wees nie, want die twee was so te sê uit die staanspoor vasbeslote om dinge op hul eie manier te doen. “What Meghan wants, Meghan gets,” het Harry al kort voor hul troue verklaar.

Dit was ook daarna duidelik hulle laat hulle nie voorskryf nie. Dit het geblyk uit die snoep besonderhede van hul aankondiging oor die koms van baba Archie en hul gereelde gebruik van die sosiale media.

Toe die twee einde verlede jaar kort ná hul toer in Suid-Afrika in ’n televisie­onderhoud met die joernalis Tom Bradby vertel het hulle voel die koninklike familie ondersteun hulle nie en die media teister hulle, het dit duidelik geblyk die egpaar is nie gelukkig met hul werklikheid nie.

Harry het gesê hy weier om toe te laat dat Me­ghan onderwerp word aan dieselfde behandeling deur die media as dit waaraan sy ma, wyle prinses Diana, blootgestel is.

Ek het probeer; ek het regtig probeer. Maar ek dink wat dit aan jou binneste doen, is waarskynlik skadelik.

“Ek sê al vir ’n geruime tyd vir H – dis wat ek hom noem – dis nie genoeg om iets net te oorleef nie, reg?” het Meghan in die onderhoud gesê. “Dis nie die punt van die lewe nie. Jy moet floreer.”

Sy het bygevoeg: “Jy moet gelukkig voel, en ek dink ek het regtig probeer om die Britse idee van die stywe bolip aan te leer. Ek het probeer; ek het regtig probeer. Maar ek dink wat dit aan jou binneste doen, is waarskynlik skadelik.”

Die twee het ook anders as die koninklike gebruik nie Kersfees saam met die koningin en die res van die familie by die Skotse landgoed Sandringham deur­gebring nie – ’n besluit wat die monarg glo aanvaar het.

En toe, kort ná hul ses weke lange vakansie in Kanada oor die feestyd, kom die skielike aankondiging in die tweede week van 2020: Hulle gaan van hul rolle as senior koninklikes “terugtree”, voortaan in Engeland sowel as Noord-Amerika woon, en werk om “finansieel onafhanklik” te raak.

Talle het hul besluit gesteun – die fel kollig van die koninklike lewe is immers nie vir almal nie, en Meghan was al voor die troue ’n werkende ster uit eie reg. G’n wonder sy wou nie meer aan bande gelê word deur die voorskrifte van tradisie nie. Maar dit was die manier hoe hulle die familiesaak vaarwel toegeroep het wat die wêreld laat regop sit en kenners én Jan Alleman laat gons het.

Dit het vir koningin Elizabeth met een van die grootste krisisse in die onlangse geskiedenis van die monargie gelaat, sê koninklike kenners.

“Dis die eerste keer sedert die donker Diana-dae dat daar weer so ’n gevoel van vrees en ongelukkigheid oor die koninklike familie hang,” sê ’n koninklike bron.

Die koningin ’n paar dae nadat die nuus rugbaar ge
Die koningin ’n paar dae nadat die nuus rugbaar geword het. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die monarg het al in haar Kersbood­skap haar familie se “stamperige pad” van 2019 betreur – ’n verwysing na onder meer prins Andrew se rampspoedige onderhoud met die BBC oor sy vriendskap met die veroordeelde seksoortreder wyle Jeffrey Epstein.

Maar as die begin van die nuwe jaar ’n aanduiding is van die jaar wat voorlê, gaan daardie stamperige pad nou in ’n snelweg vol slaggate ontaard.

DIE BEGIN VAN DIE EINDE

Toe Meghan en Harry in Londen aankom ná hul Kersvakansie in Kanada, waar hulle saam met Archie in die herehuis van sowat R203 miljoen van ’n Kanadese mynmagnaat op Vancouver-eiland tuisgegaan het, was hul eerste stilhouplek Kanadahuis, dié land se ambassade in die Britse hoofstad.

Die huis in Kanada waar Harry en Me­g­han ses weke
Die huis in Kanada waar Harry en Me­g­han ses weke lank vakansie gehou het.

Daar was hulle die ene glimlagte en vriendelikheid en het hulle die personeel bedank vir die goedheid en gasvryheid tydens hul verblyf in die land.

Vir waarnemers het dit gelyk asof die twee weer terug op hul pos is, maar dit het gou duidelik geword dis allesbehalwe die geval. Hul besluit om weer hul tassies te pak is op 7 Januarie aangekondig en verduidelik op hul splinternuwe webtuiste, Sussex Royal – en dit het die koningin “hewig ontstel” en prins Charles en prins William “gloeiend van woede” gelaat, vertel mense in die binnekring.

Dié drie koninklikes het eers 10 minute voor die verklaring gedeel is ’n afskrif daarvan per e-pos ontvang, en “soos verwag, het emosies hoog geloop”, vertel ’n koninklike assistent.

Volgens koninklike bronne het Harry kort nadat hulle van Kanada teruggekeer het ’n ontmoeting met sy ouma by Sandringham aangevra. Haar Majesteit het hom ferm beveel hy moet sy planne eers met sy pa bespreek, wat hy nie gedoen het nie.

“Niemand kon dit glo nie,” vertel die assistent. “Daar was soveel onbeantwoorde vrae, maar hulle het dit net gedoen sonder om aan enigiemand anders te dink.”

Ingeligte bronne verduidelik die koningin wou hê ’n manier moes gevind word om Harry en Meghan te probeer tegemoetkom, maar dat planne eers beraam sou moes word wat ook sinvol vir toekomstige geslagte uitgevoer sou kon word.

“Die plan was om toekomsskuiwe te bespreek wat op ’n manier vir almal in die familie werk,” vertel die assistent.

DIE NASKOK

Die koninklike familie het die dag ná die aankondiging by die Kensingtonpaleis by­eengekom om prins William se vrou, Kate, die hertogin van Cambridge, se 38ste verjaardag te vier – maar die Sussex-skandaal het alles oorskadu.

’n Stroewe Kate kom by die Kensingtonpaleis aan vi
’n Stroewe Kate kom by die Kensingtonpaleis aan vir haar 38ste verjaardagviering. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die Sussexe is al in die verlede daarvan beskuldig dat hulle die Cambridges se kollig steel, maar “dit het die kroon gespan”, vertel iemand in die binnekring.

Te midde van die boodskappe in die sosiale media van senior koninklikes wat vir Kate ’n gelukkige verjaardag toewens, was die Sussexe se boodskap aan haar kort: “Ons wens die hertogin van Cambridge vandag ’n gelukkige verjaardag toe!”

Meghan het ook nie lank in Engeland vertoef nie en al drie dae later terug­gevlieg Kanada toe, waar Archie ná die vakansie by sy oppasser en Meghan se hegte vriendin, Jessica Mulroney, gelaat is.

En toe blyk dit haar geliefde honde, die beagle Guy en ’n swart labradorhondjie wie se naam hulle nog nie bekend­gemaak het nie, bevind hulle ook steeds in Kanada – dalk ’n teken dat haar plan nooit was om vanjaar dadelik na Engeland terug te keer nie.

“Dit was nog altyd so met Meghan: Dinge moet op haar manier gedoen word, of glad nie,” het een van Meghan se naaste vertrouelinge aan David Jones van die Daily Mail vertel.

“Meghan hardloop graag weg as dinge te moeilik raak en dan hou sy dit van ’n afstand af dop.”

MEGXIT: MAANDE SE BEPLANNING

Die besluit om hul tyd tussen hul Engelse tuiste, Frogmore Cottage, en ’n woning in Noord-Amerika te verdeel “lyk of dit meer van ’n deeglik beplande ontsnapping was as wat enigeen besef het”, het The Guardian berig.

’n Groepie vriende en raadgewers het hulle help beplan aan hul “ontsnapping” uit die beperkings van voltydse koninklike pligte – met Meghan wat die leiding geneem het.

Die groep sluit in die Hollywood-­bestuursmaatskappy Sunshine Sachs, waar Meghan se vriendin Keleigh Thomas Morgan – wat haar verteenwoordig het toe sy ’n aktrise in die regsdrama Suits was – met prokureurs en talent­agente gewerk het.

Die egpaar het hul webtuiste al in Maart verlede jaar geregistreer en die dienste van ’n kreatiewe maatskappy in Toronto gebruik – dieselfde maatskappy wat destyds vir Meghan se blog, The Tig, verantwoordelik was.

UITGESTOOT?

Die egpaar se besluit om gedeeltelik van die familie af te stig kom ná “slegte persoonlikheidsbotsings” binne die koninklike familie, sê Tom Bradby, die ITV-joernalis wat met Harry en Meghan in die omstrede dokumentêr ná hul toer van Suider-Afrika gesels het.

Volgens Tom, ’n hegte vriend van die egpaar, is “die kwessie verskeie weke voor die aankondiging bespreek.

“Lede van sy familie het vir Harry gevra om van hierdie idees op skrif te stel. Hy het gesê: ‘Ek wil dit nie eintlik doen nie, want dit lek gewoonlik uit.’

“Hulle het volgehou hy moet dit doen, en hy het toe iets geskryf en dis uitgelek.”

’n Berig oor die paartjie se planne het die dag voor hul aankondiging op die webtuiste van die Britse koerant The Sun verskyn, en daar word bespiegel Harry en Meghan het hul aankondiging gemaak omdat die nuus oor hul planne aan die koerant uitgelek is.

Tom sê ook die Sussexe het “geïsoleer” gevoel toe hulle sien hoe die paleis se fokus verskuif na die direkte aanspraakmakers op die Britse troon, prinse ­Charles, William en George. Met Kersfees het die koningshuis juis ’n foto uitgereik van koningin Elizabeth en die drie.

’n Portret van die koningin en die volgende drie a
’n Portret van die koningin en die volgende drie aanspraakmakers op die troon, prinse George, Charles en William, het glo daartoe gelei dat Harry en Meghan uit­gesluit voel.

Prins Charles het dit al duidelik gemaak hy wil ’n vaartbelynde monargie hê wanneer hy die troon eendag bestyg, en ingeligtes meen Harry en Meghan dink hulle sal dan van die binnekring uit­gesluit word.

“Harry en Meghan het gevoel ‘daar is nie plek vir ons nie. Ons moet leer om op ons eie te leef. Ons wil dus voortgaan en dit doen,’ ” verduidelik Tom hul moont­like gedagteproses.

Maar ’n paleisassistent sê Charles sou nooit vir Harry, die sesde aanspraak­maker op die troon, Meghan of Archie uitgestoot het nie.

“Ja, Charles soek ’n meer vaartbelynde koningshuis, maar hy het nog altyd vir Harry gesê dat hy en Archie, as troon­aanspraakmakers, deel daarvan is. Dit beteken natuurlik daar sal ’n aanpassing wees in hoe dinge gedoen word, maar hulle word nie uitgesny nie.”

’N FAMILIE IN TWEE GESKEUR

Talle glo Meghan is die dryfveer agter Harry se besluit om sy rug te keer op sy familie se manier van dinge doen.

“Sy is ’n gedrewe Amerikaanse vrou uit ’n kan-dit-doen-kultuur,” sê die koninklike kommentator Alexandra Shulman.

Harry, daarenteen, het grootgeword in ’n wêreld waar daar “altyd ’n soort Tommy Lascelles-figuur op die agtergrond rondhang”. Tommy is die stroewe karakter in die Netflix-trefferreeks The Crown, die een wat altyd vir die familie sê wat hulle kan en nie kan doen nie.

Harry offer heelwat op vir die vrou wat hy liefhet, beklemtoon kenners, en die hartverskeurendste is sy verhouding met William. Die broers was altyd baie na aan mekaar en Diana het hulle voor haar dood laat belowe hulle sal mekaar altyd ondersteun.

Die Londense koerant The Sunday Times het ’n vriend van William aan­gehaal wat vertel die prins het gesê hy en Harry dryf verder en verder van mekaar af.

“Ek het ons hele lewe lank my arm om my broer geplaas, en ek kan dit nie meer doen nie,” het William aan sy vriend gesê. “Ons is aparte entiteite.”

Die verhouding tussen Meghan en Harry en William e
Die verhouding tussen Meghan en Harry en William en Kate het glo erg versuur. Foto: Gallo Images/Getty Images

En dis duidelik dat Kate en Meghan nie ooghare vir mekaar het nie. Die twee hertoginne het ses maande laas kontak met mekaar gehad nadat Meghan ’n WhatsApp-familiegroep verlaat het.

Prins Charles en die koningin is glo bekommerd oor Harry se geestesgesondheid en wou so gou moontlik ’n werkende ooreenkoms met hom en Meghan bereik. Dit “moes dae neem, nie weke nie”, het sy glo aangedring.

Haar Majesteit wou ’n oplossing bereik wat binne 72 uur sou werk, vertel iemand in die binnekring.

“Dit het haar meer geraak as prins Andrew se onderhoud met die BBC. Dit het verreikender gevolge vir die koninklike familie.”

Penny Junor, wat ’n biografie oor Harry geskryf het (Prince Harry: Brother, Soldier, Son), is “bekommerd en hartseer” oor die prins se gedrag.

“Ek voel iets skort. Die Harry wat die nasie liefgekry het, ’n sjarmante, vrolike ou wat met homself kan spot, is al maande lank nêrens te sien nie. Ek is bekommerd oor sy nuwe benadering tot die lewe. Hy verlaat sy familie.”

BLOUDRUK VIR DIE TOEKOMS?

Teen druktyd is die uitkoms van die sogenaamde Sandringhamberaad tussen die koningin, prins Charles, William, Harry en Meghan – deur ’n konferensie-oproep – nog nie bekendgemaak nie.

Maar teen die einde van die dag het die koningin ’n verklaring uitgereik waarin sy sê sy “steun Harry en Meghan se wens om ’n nuwe lewe uit te kerf as ’n jong gesin met haar hele hart”.

Sy het bygevoeg daar sal ’n tydperk van aanpassing volg waarin die Sussexe tyd in Kanada en Brittanje sal deurbring.

Haar Majesteit wou glo ook ’n bloudruk hê wat vir volgende generasies gebruik kan word – en ook van toepassing kon wees op ander koninklikes verder af op die troonopvolglys, soos William en Kate se kinders prinses Charlotte en prins Louis.

Belangrike knelpunte soos of die Sussexe hul titels en Frogmore Cottage sal behou, moet nog getakel word. Die koningin het die huis aan die twee geskenk kort nadat hulle getroud is, en die opgradering het glo sowat R60 miljoen gekos.

Nog ’n kwessies wat uit­geklaar moet word, is of die belastingbetaler steeds vir die paartjie se veiligheidswagte en -maatreëls moet opdok – iets wat glo jaarliks tot R12 miljoen kos.

“Almal hoop dit kan gouer eerder as ­later uitgeklaar word,” sê ’n assistent.

REEDS IN DIE BANK

Ons sal moet sien wat Harry en Meghan bedoel met hul voorneme om finansieel onafhanklik te word “terwyl hulle Haar Majesteit die koningin ten volle ondersteun”, soos hulle op hul webtuiste onderneem het.

Harry het R375 miljoen van ­Diana se boedel geërf en R130 miljoen van sy ­oumagrootjie die koninginmoeder.

Hy en William is ook ryk­lik geseën uit die boedel
Hy en William is ook ryk­lik geseën uit die boedel van sy ma, Diana. Foto: Gallo Images/Getty Images
Harry het destyds ’n aardige bedraggie by sy ouma­
Harry het destyds ’n aardige bedraggie by sy ouma­grootjie die koningin-moeder geërf. Foto: Gallo Images/Getty Images

Meghan is na raming R72 miljoen werd. Sy het R700 000 per episode verdien vir haar rol as die regsassistent ­Rachel in Suits en het ook in verskeie flieks, insluitend romantiese komedies en die 2010-fliek Remember Me, verskyn. Sy het ook sowat R1,2 miljoen per jaar met haar leefstylblog, The Tig, verdien.

Meghan het flink geld verdien as ­Rachel in Suits.
Meghan het flink geld verdien as ­Rachel in Suits. Foto: Gallo Images/Getty Images

TOT SIENS, TOELAES?

Harry en Meghan het op hul webtuiste aangekondig hulle sal nou hul jaarlikse toelae van die koningin prysgee. Dit vorm deel van die geld wat Britse belastingbetalers elke jaar vir die monarg opdok. Volgens die paartjie se webtuiste was dit net 5% van hul inkomste.

Die oorblywende 95% van hul inkomste het gekom van die geldelike voordele van prins Charles se hertogdom van Cornwall.

Charles het verlede jaar R92 miljoen uit sy hertogsinkomste aan sy seuns gegee, waarvan net minder as die helfte aan Harry gegaan het, berig Daily Mail.

Dit was teen druktyd nie duidelik of Harry en sy vrou vorentoe steeds ’n toelae van Charles sou ontvang nie, en hulle het nie op hul webtuiste ’n woord gerep oor die toekoms van dié toelae nie.

’N NUWE INKOMSTE

Die Sussexe is tans wêreldwyd gewild en sal waarskynlik winsgewende kontrakte aangebied word en in aanvraag vir televisieonderhoude wees.

Tom Bradby, die ITV-joernalis wat verlede jaar ná hul toer in Suider-Afrika ’n onderhoud met die paartjie gevoer het, het aangedui die twee kan binnekort ’n onthullende onderhoud toestaan.

Harry en Meghan praat met die ITV-verslaggewer Tom
Harry en Meghan praat met die ITV-verslaggewer Tom Bradby ná hul toer van Suider-­Afrika. Tom glo die twee gaan binnekort weer hul harte uitstort in ’n onderhoud.

Daar is ook sprake dat hulle dalk gaan gesels met die invloedryke televisie­joernalis Gayle King, ’n hegte vriendin van Meghan.

En hulle het natuurlik sterk bande met Oprah Winfrey – Harry en die mediamagnaat werk aan ’n nuwe reeks oor geestesgesondheid vir Apple se stroomdiens.

Die paartjie sal waarskynlik groot bedrae geld aangebied word om toesprake te lewer en kan soveel of dalk selfs meer betaal word as die oudpresidente Barack ­Obama en Bill Clinton, wat tot sowat R1,4 miljoen per geleentheid vra.

En as hulle ’n boek sou skryf, kan die voorskot draai by die R934 miljoen wat aan Michelle en ­Barack Obama betaal is toe hulle hul memoires uitgereik het nadat hulle die Withuis verlaat het.

Die Sussexe kan ook mode- en handelsnaam­ooreenkomste aangaan. Daar is reeds sprake dat Meghan met Givenchy gaan saamwerk – en dat hulle “ ’n ­sakeryk kan bou soos die Obamas, Gwyneth Paltrow en die Kardashians”, berig The Guardian.

“Hul wêreldwye sakeryk kan tot R7 miljard laat inrol,” sê Andy Barr, ’n Amerikaanse kleinhandelkenner.

“Hulle sal basies geld maak met hul ­koninklike titels – wat ironies is, aangesien hulle skynbaar daarvan probeer ontsnap.”

Hulle is as senior koninklikes met permanente pligte in die Britse koningshuis nie voorheen toegelaat om ’n privaat inkomste te genereer nie.

DIE SUSSEX-HANDELSNAAM

Harry en Meghan het in die weke voor hul aankondiging handelsnaamaansoeke vir byna 100 items ingedien, waar­onder handboeke, skoene, sokkies, jasse en skryfbehoeftes – iets wat hulle in staat kan stel om winsgewende sake­geleenthede na te jaag.

Nog ’n teken dat hul wegbreek van die familie goed beplan was, is dat Meghan ’n ooreenkoms onderteken het om stemwerk vir Disney te doen in ruil vir ’n ­skenking aan ’n olifantliefdadigheids­organisasie, Elephants Without Borders, het die Londense The Times berig. Harry het glo in Julie sy vrou se talente besing teenoor Bob Iger, uitvoerende hoof van Disney, by die Londense vertoning van The Lion King.

“Weet jy sy doen stemwerk?” het die prins laat hoor, waarop Bob geantwoord het: “O, werklik?”

Terwyl sy vrou ’n drukkie van Beyoncé kry, besing
Terwyl sy vrou ’n drukkie van Beyoncé kry, besing Harry haar lof as stemkunstenaar by Disney se Bob Iger. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die reëling met Disney dui op Meghan se toekomstige loopbaanplanne, “wat kan beteken die paartjie gaan hul sterstatus ten bate van liefdadigheidsorganisasies van hul keuse inspan”, sê ’n bron.

HULLE MOET VERSIGTIG TRAP

Harry en Meghan moet versigtig wees met wie hulle sake doen wanneer hulle hul eie potjie krap, het die Britse publisiteitsghoeroe Mark Borkowski aan The Guardian gesê.

“Hul stigting het ware oogmerke en hulle wil projekte aanpak wat die wêreld verbeter; daarom moet enige skenkings of beleggings skoon geld wees,” sê hy.

“Die soort mense wat hul eie beeld wil poets deur ’n verbintenis met die koninklikes aan te gaan is die einstes van wie hulle moet wegbly. Hulle het nie veel van ’n keuse nie en sal heelwat ooreenkomste moet aangaan wat dalk afbreuk kan doen aan hul pogings tot goeie dade.”

Hulle sal ’n gedugte span wees, sê hy.

“Maar dis ’n lang pad en daar is altyd kompetisie. Hulle gaan meer as ’n paar bekers en borde moet verkoop om hierdie ding te laat werk.”

HARRY GAAN DALK SUKKEL

Die prins werk hard aan sy liefdadigheidsorganisasies en het ’n sukses van die meeste daarvan gemaak, insluitend die Invictus-spele – maar hy het nog nie ’n smakie van die regte wêreld gehad nie.

Die prins is baie lof toegeswaai vir sy werk met d
Die prins is baie lof toegeswaai vir sy werk met die Invictus-spele. Foto: Gallo Images/Getty Images

En Meghan, wat nie te lank gelede nie ’n hardwerkende aktrise was wat daaraan gewoond was om haar eie geld te verdien, sal waarskynlik gouer as haar man by hul nuwe leefstyl aanpas.

“Die beste wat hy kan doen, is om sy vrou te ondersteun en by haar te leer,” sê Patrick Wanis, ’n leefstylafrigter vir die sterre. “Hy gaan goeie idees moet hê. Hy moet probeer dink waar sy passie ’n ver­skil kan maak.


Ander werkende koninklikes

Peter Phillips

Peter Phillips. Foto: Gallo Images/Getty Images
Peter Phillips. Foto: Gallo Images/Getty Images

Met geen koninklike verpligtings wat hom aan bande lê nie, het die koningin se guns­telingkleinseun al vir Jaguar en die Williams-F1-span gewerk. Hy het toe by die bestuurspan van die Royal Bank of Scotland aangesluit en werk nou as direkteur van die sport-en-vermaakmaatskappy SEL UK.

Zara Tindall

Zara Tindall. Foto: Gallo Images/Getty Images
Zara Tindall. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die koningin se kleindogter is ’n bekwame ruiter, ’n ambassadeur vir Land Rover en iCandy-stootwaens, en het ’n juwelierswarereeks geskep.

Prins Edward, graaf van Wessex

Prins Edward, graaf van Wessex en sy vrou, Sophie,
Prins Edward, graaf van Wessex en sy vrou, Sophie, gravin van Wessex. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hy het eens probeer om sy koninklike verpligtings met die bestuur van ’n televisie-­produksiemaatskappy te kombineer, maar dit het nie gewerk nie. Die koningin se jongste seun het talle van sy pa se verpligtings oorgeneem nadat dié verlede jaar sy aftrede aangekondig het.

Sophie, gravin van Wessex

Sy het haar eie beeldpoetsfirma bestuur, maar het dit laat vaar nadat sy betrap is waar sy op ’n taktlose wyse oor die koninklikes praat.

Prinses Beatrice

Prinses Beatrice. Foto: Gallo Images/Getty Images
Prinses Beatrice. Foto: Gallo Images/Getty Images

Beatrice werk in finansies en konsultasie en is nou die adjunkvoorsitter van ’n sagtewaremaatskappy.

Prinses Eugenie

Prinses Eugenie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Prinses Eugenie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Sy is ’n direkteur by die ­Londense kunsgalery Hauser & Wirth.

BRONNE: DAILY MAIL, THE SUN, THE GUARDIAN, THE TELEGRAPH, THE WASHINGTON POST, THE SUNDAY TIMES, THE EXPRESS, PEOPLE, HELLO!, BBC, SUSSEX ROYAL, DAILYMAIL.CO.UK, NEWS.SKY.COM, THESUN.CO.UK, TELEGRAPH.CO.UK

FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, GALLO IMAGES/AFP/RANALD MACKECHNIE / BUCKINGHAM PALACE, GALLO IMAGES/ALAMY REALTIME IMAGES/MEGA, SOTHEBYS, INSTAGRAM/@SUSSEXROYAL

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.