Meghan het tydens ’n openhartige rubriek in The New York Times onthul sy het in Julie hul tweede baba verloor. Sy het ook oopgemaak oor die oomblik toe sy besef het haar tweede swangerskap loop skeef.

Volgens die 39-jarige hertogin van Sussex het die dag soos gewoonlik begin. Sy het skielik ’n skerp pyn gevoel toe sy besig was om haar en Harry se eersteling, die jaar oue Archie, se doek om te ruil.

“Ek het op die vloer neergesak, ’n wiegieliedjie geneurie om ons albei kalm te hou, ’n vrolike deuntjie in sterk kontras met my gevoel dat daar groot fout is,” het sy gesê.

Sy het besef sy is besig om haar tweede baba te verloor. "Ure later het ek in ’n hospitaalbed gelê en my man se hand vasgehou. Ek het die klamheid van sy palm gevoel en sy kneukels gesoen wat nat was van ons albei se trane."

Meghan skryf verder hoe uitgeput sy was tydens hul lang besoek aan Suid-Afrika verlede jaar. Toe die ITV-joernalis Tom Bradby haar destyds gevra het of sy oukei is, het sy ’n eerlike antwoord verskaf: “Dankie dat jy vra. Nie baie mense vra of ek oukei is nie.”

Sy sê terwyl sy in die hospitaalbed na haar gebroke man, Harry (36), gekyk het, het sy besef die eerste stap na genesing sou wees om hom ook te vra: “Is jy oukei?”

Meghan beskryf die verlies om ’n kind te verloor as ’n onuithoudbare hartseer wat baie mense ervaar, maar waaroor min mense praat. Sy sê sy en Harry het in ’n vertrek waar 100 vroue teenwoordig was, uitgevind 10 tot 20 van daardie vroue gaan ’n miskraam hê.

“Ons het geleer dat wanneer mense enigeen van ons vra hoe dit gaan, en wanneer hulle reg is om met ’n oop hart en gemoed na ons antwoord te luister, help dit gewoonlik om die las van hartseer en verlies te verlig. Deur deel te word van ons pyn neem ons saam die eerste tree na genesing.”

Meghan is die eerste lid van die Britse koninklike familie wat oopmaak oor die verlies van ’n baba. Die koningin se oudste kleindogter, Zara Tindall, het die hartseer van twee miskrame beleef en prins Edward se vrou, Sophie, het in 2001 hul baba verloor.

  • Dit is in hierdie stadium onseker hoe ver Meghan se swangerskap gevorderd was.

Bronne: nytimes.com, dailymail.co.uk, variety.com

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe