Prins Harry en Meghan by die nuwe ANZAC-gedenktuin
Prins Harry en Meghan by die nuwe ANZAC-gedenktuin in Hyde Park, Sydney op 20 Oktober 2018. Foto: Ian Vogler /Pool via Reuters

Soos vooraf deur Oprah beloof, het die hertog en hertogin van Sussex nie tydens hul biegsessie teruggehou nie. Meghan het openlik gepraat oor haar ervarings toe sy aanvanklik van die Britse koninklike familie deel geword het en hoe dit haar emosioneel en geestelik beïnvloed het.

Tussen al die onthullings deur het Meghan en Harry ook die geslag van hul tweede kind verklap. Die egpaar verwag ’n dogtertjie wat haar opwagting in die Amerikaanse somer maak.

Ons kyk na 10 van die opspraakwekkendste dinge wat Meghan (39) en Harry (36) in die onderhoud onthul het. 

1. Meghan het selfmoordgedagtes gehad

Meghan het aan Oprah vertel toe sy met haar eersteling, Archie, swanger was, het sy so vasgevang gevoel dat sy nie meer wou lewe nie. “Ek was skaam om dit te sê in daardie stadium en skaam om dit teenoor Harry te erken. Maar ek het geweet as ek dit nie sê nie, gaan ek dit doen. Ek wou net eenvoudig nie meer leef nie,” het Meghan gesê. 

Sy het erken dat sy in Januarie 2019 Harry na die première van Cirque du Soleil se Totem-vertoning by die Royal Albert Hall in Londen vergesel het omdat sy nie alleen wou wees nie. Meghan sê foto’s van die aand spook steeds by haar. 

“Jy kan sien hoe wit ons kneukels is, want ons glimlag en doen ons werk, maar ons probeer albei net vasbyt. Elke keer wanneer die ligte in die koninklike losie afgegaan het, het ek gehuil,” het sy vertel. 

2. Daar was vrae oor hoe donker Archie se vel sou wees wanneer hy gebore word

Meghan het onthul terwyl sy swanger was met hul eersteling, Archie, het ’n lid van die koninklike familie vrae gevra oor hoe donker haar en Harry se ongebore baba sou wees. 

Toe Oprah vra of die gesprek gegaan het oor “hoe swart” die baba sou wees en of dit ’n probleem sou wees, was Meghan se antwoord: “As dit die afleiding is wat jy maak, dan sou ek sê dis ’n veilige een om te maak”. 

Archie, Meghan en Harry in Suid-Afrika in Septembe
Archie, Meghan en Harry in Suid-Afrika in September 2019. Foto: Gallo Images/Getty Images

Sy wou nie onthul wie die familielid was nie en het gesê dat die gesprek met Harry gevoer is. 

Volgens haar wou die koninklike instelling nie hê dat Archie ’n prins moet wees nie vanweë sy herkoms. Met Archie se geboorte het ’n verklaring van die Buckinghampaleis gesê dat dit sy ouers se besluit was om hom nie ’n titel te gee nie. 

3. Kate het Meghan laat huil, en nie andersom nie

Kate en Meghan woon Wimbledon by in 2019. Foto: Ga
Kate en Meghan woon Wimbledon by in 2019. Foto: Gallo Images/Getty Images

Kort ná die Sussexe se troue in Mei 2018 het gerugte die ronde begin doen dat Meghan en haar skoonsus, Kate (39), ’n onderonsie gehad het oor wat die strooimeisies op die troue sou dra. Kate en William (38) se dogter, prinses Charlotte (nou 5), was een van die strooimeisies, en Kate wou glo hê sy en die ander meisies moes sykouse onder hul rokke dra.

Meghan het aan Oprah erken dat die voorval inderdaad plaasgevind het, maar dat dit sy was wat daardeur in trane gelaat is. 

“Ek sê dit nie om vernederend teenoor enigiemand te wees nie, want die week van die troue was regtig moeilik. En sy was ontsteld oor iets, maar sy het verantwoordelikheid aanvaar en jammer gesê. 

“Sy het vir my blomme gekoop en ’n nota geskryf waarin sy verskoning vra. En sy het gedoen wat ek sou gedoen het as ek geweet het ek het iemand seergemaak: om net verantwoordelikheid te aanvaar,” het Meghan aan Oprah gesê. 

4. Die eintlike troudatum 

In nog ’n verrassende wending het Meghan verklap dat sy en Harry drie dae voor hul sprokiestroue by die St. George-kapel in Windsor reeds afgehaak het.

Hulle het ewige trou aan mekaar beloof in ’n intieme seremonie met die aartsbiskop van Kantelberg, Justin Welby, teenwoordig. Die seremonie was sommer in hul agterplaas by hul destydse tuiste, Nottingham-kothuis by die Kensingtonpaleis. 

Op hul troue in 2018. Foto: Gallo Images/Getty Ima
Op hul troue in 2018. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Ons het die aartsbiskop gebel en gesê dié ding, hierdie spektakel, is vir die wêreld, maar ons wil hê ons verbintenis moet net tussen ons wees,” het Meghan gesê. 

Die Daily Mail berig egter dat volgens die Kerk van Engeland se reëls moet daar twee getuies teenwoordig wees vir ’n huwelikseremonie om geldig te wees. Dis nie duidelik of die aartsbiskop dit kan verander nie. 

Meghan het ook aan Oprah vertel dat sy op die dag van die groot troue glad nie senuweeagtig was nie, en sy het na die popgroep The Dixie Cups se liedjie "Chapel of Love" geluister. 

5. Harry was bang dat die geskiedenis homself sal herhaal

Harry het al verskeie kere verwys na die feit dat hy bang was Meghan sou dieselfde paadjie as sy ma, wyle prinses Diana, stap. Die media se beheptheid met Diana het eindelik tot haar dood gelei, en Harry het reeds in 2017 ’n verklaring uitgereik oor hoe die media Meghan, toe nog net sy meisie, behandel het. 

“Ons wou asemskep. Van die konstante bestoking. My grootste vrees was dat die geskiedenis homself sou herhaal. En wanneer ek praat van geskiedenis wat herhaal, verwys ek na my ma,” het Harry, die sesde aanspraakmaker op die Britse troon, gesê. 

6. Charles het opgehou om Harry se oproepe te antwoord

In teenstelling met wat ’n jaar gelede berig is toe Meghan en Harry hul besluit bekendgemaak het om as senior koninklikes uit te tree, het die skokaankondiging nie Harry se ouma, koningin Elizabeth (94), of pa, prins Charles (72), onkant betrap nie.

Harry het aan Oprah vertel dat hy drie gesprekke met sy ouma en twee met sy pa gehad het, voor sy pa opgehou het om sy telefoonoproepe te beantwoord. 

“Ek voel regtig in die steek gelaat omdat hy deur iets soortgelyk is. Hy weet wat pyn is en Archie is sy kleinseun. Ek sal altyd lief wees vir hom, maar daar het baie seerkry plaasgevind,” het Harry oor sy pa Charles gesê. 

7. Die koninklike familie is bang om hul verhouding met die poniepers te verongeluk

Harry sê dat sy familie baie bewus is van die feit dat die Britse poniepers enige oomblik hul rug op die familie kan draai. Dit het hom hartseer gelaat dat niemand van sy familie uitgepraat het toe die media Meghan afgekraak het nie. 

“Daar is ’n onsigbare kontrak tussen die instelling en die poniepers,” het hy verklap. 

8. Vasgevang in koninklike lewe

Hy het vasgevang gevoel in die stelsel van koninklik wees, het Harry vertel. In nog ’n skokkende wending het hy gesê sy pa en broer is steeds vasgevang.

“My pa en my broer – hulle is vasgekeer. Hulle kan nie wegbreek nie, en ek het deernis daarvoor,” het hy laat hoor.

9. Die rede vir hul wegbreek

Oprah wou by die egpaar hoor wat die finale strooi was wat hulle gedryf het om van die koninklike familie weg te stap. Harry se antwoord hierop was “’n gebrek aan ondersteuning en verstandhouding”. 

10. Geen ondersteuning van Harry se familie

Charles, William, Kate, Meghan en Harry in 2018. F
Charles, William, Kate, Meghan en Harry in 2018. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dis geen geheim dat die verhouding tussen Harry en William die afgelope paar jaar vertroebel het nie. 

Harry het erken dat hy niemand gehad het om mee te praat nie en dat dit moeilik was om te erken dat sy vrou gesukkel het. 

“Ek is baie lief vir William. Hy is my broer. Ons is saam deur hel. Ek bedoel, ons deel ’n ervaring. Maar ons is op verskillende paaie,” het Harry geantwoord. Hy het ook aan Oprah gesê dat hul verhouding tans “een van ruimte” is. 

Bronne: Daily Mail, People, Evening Standard

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe