Sy's op die oomblik die beroemdste swanger vrou op die planeet, en elke keer wanneer sy haar voet in die openbaar sit, word sy met valkoë deur mode­kenners, aanhangers én haters dopgehou.

Meghan baai behoorlik in al die aandag en laat nie ’n geleentheid verbygaan om haar groeiende babamagie ten toon te stel in spogkraamdrag wat g’n gewone mens al gesien het nie.

Ons bekyk die swangerskapstyl van die 37-jarige hertogin wat vasbeslote is om dinge op haar manier te doen.

MAMMA MEG EN PAPPA HARRY

Haar man sal ’n “fantastiese” pa wees, het Meghan tydens ’n uitstappie in Birkenhead gesê.

Die prins is heeltemal op sy gemak met kinders en speel graag met sy broer, William, se kroos: prins George (5), prinses Charlotte (3) en prins Louis (9 maande).

Nes Harry kom Meghan uit ’n gebroke huis en sal dit ’n invloed uitoefen op haar ma-wees, het Michelle Zelli, ’n lewens­afrigter van Londen, aan The Express gesê.

“Haar ouers se egskeiding toe sy ses was, sal beslis ’n uitwerking hê. Maar haar sterk ma stel vir haar die perfekte voorbeeld van hoe om ’n wonderlike, liefdevolle, aanmoedigende en moderne koninklike ma te wees.

“As sy dogters het, sal sy hulle ook lei om sterk, onafhanklike en meelewende mense te wees wat die weg vir hul generasie baan.”

KYK MY BOEP!

Sy soek g’n tannie-agtige los rokke of jasse so groot soos tente waarmee ander koninklikes graag hul swangerskap probeer toehou nie.

Meghan kan nie wag om haar boepie te wys nie, en daar’s omtrent nie ’n foto van haar waar sy nie aan haar maag vat of haar jas skelm ooptrek sodat haar maag uitsteek nie. Maar nie almal dink dis ewe oulik nie.

Die redakteur van die Britse You-tydskrif is keelvol.

“My arm begin pyn as ek net kyk hoe sy poseer,” sê sy. “Dis kompleet Baby Bump Barbie.”

Ander is gawer. Om heeltyd aan jou maag te vat dui op ’n goeie verbintenis met die ongebore baba, sê die sielkundige Julianne Boutaleb.

Hoe dit ook al sy, dit lyk of Meghan die kuns om met haar bababoep te spog vervolmaak het.

DIE NOMMERPAS ROKKE

Meghan weet mense wil deel hê in haar swangerskap. Sy dra dikwels rokke en jasse wat nie spesiaal vir swangerskap gemaak is nie, asook kontrasterende kleure wat die fokus op haar maag plaas, sê die Britse stilis Lucas Armitage.

Die jasoopgooi

Op ’n uitstappie na Birkenhead het sy ’n helderpers rok aangetrek en ’n bloed­rooi jas, en “hier kon jy duidelik sien hoe sy dinge beplan,” het die lyftaalkenner Judi James gesê.

“Toe sy uit die motor klim, het dit ’n oomblik gelyk of haar jas haar boepie sou verberg. Maar behendig het sy haar hand gelig om die jas oop te gooi om die boep vir die kameras te wys.”

Sy het dieselfde gedoen toe sy ’n diereorganisasie in Londen besoek. Meghan het haar beige jas oopgestoot om te wys hoe die rok oor haar maag span.

Die hemelhoë hakke

Meghan se hemelhoë Manolo Blahnik-­hakskoene, wat sy na die dierebewaarplek in Mayhew gedra het en ook na die opening van ’n Cirque du Soleil-opvoering ’n dag ­later, het heftig kritiek ontlok.

“As sy hard val, kan dit stremming op haar maag plaas, en dit kan die baba skade berokken,” het die Britse dokter Sarah Jarvis aan The Sun gesê.

“Jou rug is van die vernaamste dele wat swaarkry wanneer jy hoë hakke dra, want jou balans word verskuif deur die baba wat jy voor dra. Is dit die moeite werd om jou baba in gevaar te stel ter wille van die mode?”

Die kaal bene

Koningin Elizabeth II word op haar oudag verdraag­samer teenoor jonger lede van die koninklike familie, maar sy het seker in ’n roomskon verstik toe sy foto’s sien van dié kere dat Meghan sonder kouse in die openbaar verskyn.

Koningin Elizabeth II word op haar oudag verdraag­samer teenoor jonger lede van die koninklike familie, maar dis onseker hoe sy op Meghan kaalbeen in die openbaar reageer het. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Die koningin sou nie dood gesien word in ’n stywe rok met haar swangerskappe nie,” het iemand in die binnekring gesê.

“En die idee om sonder kouse by die deur uit te gaan– boonop in die middel van die winter – is net ongehoord.”

Die peperduur modes

Die gewese aktrise het nog altyd van ontwerpernommertjies gehou.

Sy het byvoorbeeld in Januarie ’n vrouebemagtigingsorganisasie, Smart Works, besoek in ’n Oscar de la Renta-jas wat ’n stewige R46 600 kos.

Die blink Roland Mouret-aandrok wat sy na ’n Cirque du Soleil-­vertoning gedra het, kos R62 800.

Volgens die paleis word Meghan se klerekas “privaat finansier”, maar dit keer nie haar kritici wat kla sy spog met haar bevoorregte lewe nie.

Die Markle-mode-invloed

Haar skoonsuster, Kate, is nie die enigste een wat ’n groot invloed uitoefen op wat mense dra nie.

’n Paar jeans van die handelsnaam Outland Denim wat Meghan verlede jaar gedra het, het gesorg dat die maatskappy se verkope met ’n ­ongelooflike 640% styg.

Dit het die eienaar, James Bartle, in staat gestel om nog 46 naaldwerksters aan te stel – almal vroue wat slagoffers van sekshandel en gedwonge arbeid was.

“Dis ’n groot ding om uit hul situasie te kom en die volgende oomblik jeans vir ’n prinses te maak,” het James aan People-tydskrif gesê.

Die ekostryder

Die hertogin is ’n groot voorstander van volhoubare mode.

Met haar besoek aan Australië, kort nadat die swangerskap aangekondig is, het sy ’n sonrok gedra wat deur die Amerikaanse handelsnaam ­Reformation gemaak is. Dié klerefirma maak items uit herwonne klere, klere wat nie verkoop het nie en nuwe volhou­bare materiaal.

“Meghan se ondersteuning help om mense te leer dat groenmode nie beteken jy hoef jou styl prys te gee nie,” het Reformation se hoof, Yael Aflalo, verklaar.

Die ongeslypte diamant

Meghan het ook volhoubare juweliersware in haar kissie. In Januarie was sy die eerste koninklike ooit wat diamante gedra het wat in ’n laboratorium gekweek is en wat gemaak is met herwinbare energie in ’n proses wat minder skadelik vir die natuur is.

DIE GEBOORTE EN DAARNA

Meghan en Harry verhuis binnekort na Frogmore Cottage in Windsor, wat be­teken hulle sal nie naby die konink­likes se gunstelingkraamsaal, die privaat ­Lindo-vleuel van die Sint Mary-hospitaal in Londen, wees nie.

Prinses Diana het hier aan William en Harry die lewe geskenk en Kate se drie spruite is ook hier gebore.

Dit lyk weer of Meghan dinge op haar manier wil doen. Mense in die binne­kring sê “planne word beraam” dat die baba gebore kan word in Frimley Park-hospitaal in Sussex, wat ’n “baie toegankliker opsie” is.

Daar word glo 'planne beraam' dat die baba gebore kan word in Frimley Park- hospitaal in Sussex, wat ’n “baie toegankliker opsie” is. Foto: Gallo Images/Getty Images

Wat die babakamer betref, beplan Meghan blykbaar ’n “genderlose” omgewing.

“In pas met die hertogin se voorliefde vir neutrale skakerings het die egpaar glo op ’n kleurskema van wit en grys ­besluit,” het die tydskrif Vanity Fair ­geskryf.

Dié twee het nie teruggehou toe hulle Frogmore Cottage laat opknap nie – die R53,8 miljoen is onder meer gebruik vir ’n joga-ateljee met ’n spesiale vloer en ekovriendelike verf wat veganisties, niegiftig en reuk­loos is.

“Hulle is so opgewonde om daar in te trek,” het ’n vriend aan Vanity Fair vertel.

“Meghan is stylvol en wil die plek vol lig hê – modern maar met ’n tikkie shabby chic waarvoor sy so lief is.”

Prins Harry en Meghan het nie teruggehou toe hulle Frogmore Cottage laat opknap nie. Foto: Gallo Images/Getty Images

’n Splinternuwe gastevleuel vir Meghan se ma is ook aangebring. Doria Ragland sal glo byderhand wees om die egpaar te help aanpas by ouerskap, en geen kinderoppasser sal nodig wees nie – in elk geval nie aan die begin nie.

Die Diana-faktor

Meghan het die koppe laat draai in daardie pers-en-rooi uitrusting, maar nie net omdat dit so helder was nie.

Dit het baie gelyk na ’n kleurkombinasie wat haar oorlede skoonma, prinses Diana, dikwels gedra het toe sy onder meer Thailand in 1988, Hongkong in 1989 en die Taj Mahal in Indië in 1992 besoek het.

Meghan het die koppe laat draai in daardie pers-en-rooi uitrusting tydens hul besoek aan Birkenhead. Foto: Gallo Images/Getty Images
Prinses Diana het dikwels die kombinasie gedra toe sy onder meer Thailand in 1988, Hongkong in 1989 en die Taj Mahal in Indië in 1992 besoek het. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die blink vlootblou Roland Mouret-rok het ook baie herinner aan die asemrowende blinkerrok wat Diana in 1995 na A Concert of Hope in Cardiff se Internasionale Arena in Wallis gedra het.

Diana in 1995 by A Concert of Hope in Cardiff se Internasionale Arena in Wallis. Foto: Shutterstock
Die blink vlootblou Roland Mouret-rok het ook baie herinner aan die asemrowende blinkerrok wat Diana in 1995 na 'n konsert in Wallis gedra het. Die goue armband het ook aan Diana behoort. Foto: Gallo Images/Getty Images

Om alles te kroon het sy hierby ’n pragtige goue armband met blou stene gedra – dié armband het aan Harry se geliefde ma behoort.

DIE BOEP VOORSPEL

Meghan en Harry het al gesê hulle wil hê hul baba se geslag moet ’n verrassing wees wanneer hy of sy in April opdaag, maar beroepswedders weet blykbaar reeds die geslag.

'n Dogtertjie sal glo Harry se hart baie bly maak. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hulle is glo daarvan oortuig dat dit ’n dogtertjie is; daarom is alle weddenskappe oor die baba se geslag in Januarie gestaak. Dit kan iets te make hê met die ouvrou­storie wat beweer ’n mens kan die geslag aflei uit die manier waarop die ma dra.

Volgens die vroedvrou Amande Bude kan dit ’n dogtertjie wees as die boepie breed en laag is en as die ma ’n “boomstompmiddellyf” het.

Volgens haar kan dit ’n seun wees as die maag hoog sit en gepunt is.

Maar Meghan se maag is hoog en groot; dus help hierdie metode nie veel nie.

’n Dogtertjie sal Harry se hart baie bly maak.

By die Invictus-spele, wat hulle in Australië bygewoon het kort ná die swangerskap bekendgemaak is, het ’n vrou uitgeroep, “Ek hoop dis ’n dogter!” waarop die prins geantwoord het: “Ek ook!”

BRONNE: THE EXPRESS, DAILY MAIL, US WEEKLY, PEOPLE, THE SUN, HELLO!, E! ONLINE, HARPER’S BAZAAR
Foto's: Gallo Images/Getty images, Gallo Images/Alamy, Great Stock/Shutterstock