Die 36-jarige, wat haar man, prins Harry, se ouma as "haar majesteit" aanspreek en ’n kniebuiging moet doen, kan die monarg soms iets minder formeels noem wanneer al die koninklike formaliteite eers afgehandel is, het Ingrid Seward, hoofredakteur van die tydskrif Majesty, aan Grazia gesê. 

“Dis Ma’am, wat soveel kere moontlik by ’n gesprek ingevoeg word,” sê Seward. 

Maar as dit steeds te formeel is vir Meghan, sê Seward, kan dit dalk later tot “Mama” verkort word wanneer sy so geheg aan die koningin raak as wat wyle prinses Diana was.  

“Dit kan tot Mama verkort word wanneer Meghan haar leer ken soos Diana het. Maar nooit haar troetelnaam Lilibet nie, wat net vir nabye familie en vriende opsygesit is,” sê sy. 

Maar dit lyk of die hertogin die koningin dalk gouer op haar bynaam sal mag noem as wat ons dink. 

Koningin Elizabeth (92) het Meghan onlangs genooi om haar op die koninklike trein te vergesel, ’n eer wat gewoonlik net senior familielede beskore is. Hulle het na Cheshire gery. 

Die hegte band tussen die koningin en die hertogin het duidelik geword terwyl hulle die openingsplegtigheid van die Mersey Gateway-brug bygewoon het.

“Die koningin is taamlik stoïsyns; sy het nie ’n ophef van Meghan gemaak nie, wat iemand kan laat angstig voel. Sy is duidelik vol vertroue oor Meghan se vlak van selfvertroue,” het die lyftaalkenner Judi James aan Daily Mail gesê. 

“Hulle was baie ontspanne. In ’n stadium het hulle soos tieners saam gegiggel. Die koningin het ingenome gelyk om by haar te wees.

“Die koningin het alles reg gedoen vir haar en het haar soos ’n kleindogter of vriendin laat lyk van wie sy hou. 

“Sy was amper net so lighartig en ontspanne met haar eerste uitstappie saam met die hertogin van Cambridge. Dis waaraan dit my herinner het. Dit lyk of dit regtig die koningin se prettige kant na vore bring.”

Die koningin het ook vir die voormalige Suits-ster ’n stel delikate pêreloorbelle gegee, wat Meghan na die geleentheid gedra het, berig Elle.  

Bronne: Dailymail.co.uk, Mirror.co.uk, Independent.co.uk, Elle.com