Of dit is waar Lizzie Cundy sê, wat beweer Meghan het haar gevra om haar te help om ’n “beroemde Britse man” te vind.

Lizzie, ’n voormalige WAG (die term vir ’n vrou of meisie van ’n beroepsportster) en deesdae televisie-aanbieder, sê sy en die hertogin het hegte vriende geword nadat hulle in 2013 ’n liefdadigheidsdinee saam bygewoon het.

“Ons het gesels en toe sê sy: ‘Ken jy enige beroemde ouens? Ek is ’n enkelloper en is mal oor Engelse mans.’ Toe sê ek: ‘Ons kan uitgaan en vir jou een kry’,” het Lizzie aan The Sun vertel.

Maar Lizzie (50) sê Meghan het haar soos ’n sak patats eenkant toe gestoot toe sy met prins Harry begin uitgaan. 

Volgens die Daily Mail het Lizzie vir die voormalige Suits-aktrise ’n foto van Ashley Cole gewys, maar is die Britse beroepsokkerspeler weens sy reputasie as moontlike kêrel uitgeskakel.

Lizzie sê sy was geskok toe die nuus van Harry en Meghan se verhouding uitkom. “Ek het vir haar ’n teksboodskap gestuur en gesê: ‘Sjoe, ek het gehoor van Harry’. En sy het geantwoord: ‘Ja, ek weet. Ons sal probeer om by jou uit te kom’.”

Maar Lizzie het nooit weer van haar gehoor nie en glo Meghan is aangeraai om “kontak te beëindig met mense wat sy in die media bevriend het”.

Lizzie is nie al mediapersoonlikheid vir wie Meghan sonder rede uit haar lewe gesny het nadat sy met Harry begin uitgaan het nie.

Die Good Morning Britain-aanbieder Piers Morgan het vertel hoe sy platoniese vriendskap met die hertogin kort ná haar eerste afspraak met Harry gesneuwel het.

“Ek het haar oor ’n tydperk van twee jaar goed leer ken. Ons het gereeld vir mekaar boodskappe en e-posse gestuur,” het hy in Maart vertel.

“Ek het ’n paar biere en sy het martini’s gedrink,” het Piers vertel van ’n keer toe hulle drankies in ’n Londense kroeg gedrink het.

“Sy het agterna gesê: ‘Ek het ’n lekker tyd gehad. Sou jou graag weer wil sien.’ Ek moet net byvoeg dit was heeltemal platonies. Sy het daardie aand in daardie taxi na ’n partytjie gegaan waar prins Harry was, en die volgende aand het sy op ’n afspraak saam met hom gegaan. Ek het nooit weer van haar gehoor nie.”

Piers het nie doekies omgedraai oor die indruk wat dit skep dat sy hom nie weer gekontak het nie. “Ek hou nie van mense wat so optree nie. Dis ongeskik. Dit het vir my gewys sy is ’n aansiensoeker.” 

En hy het Harry gewaarsku: “Sterkte aan Harry. Ek hoop hy weet wat hy doen. As alles skeefloop, moenie by my kom huil nie. Moenie sê ek het jou nie gewaarsku nie.”

Bronne: The Mirror, Daily Mail, The Sun