Piers het dié keer Meghan daarvan beskuldig dat sy met hom kontak verbreek het nadat sy met prins Harry (34) begin uitgaan het, berig Daily Mail.

Die 53-jarige, wat nooit van omstredenheid wegskram nie, het in Dinsdag se Good Morning Britain teen Meghan uitgevaar en beweer die voormalige aktrise stel net in roem en rykdom belang, berig USA Today.

“Ek het my eie ervaring met haar gehad, wat eerlikwaar nie goed was nie. Ek het haar sowat ’n jaar en ’n half geken,” sê Piers.

“Ek het baie goed met haar oor die weg gekom en, boem, sy ontmoet iemand belangriker en skuif my dadelik opsy,” voeg hy by.

Hy het volgehou Meghan het agter Harry aangeloop en beweer hy het haar in die eerste plek ’n taxi saam met die prins laat haal.

“Meghan Markle is ’n genadelose statushonger aktrise wat die rol van haar lewe losgeslaan het en vasbeslote is om dit met alle mag te melk; en dis hoekom die paleis teen haar begin draai.”

Piers het ook opgemerk die hertogin moet in ag genome haar posisie in die monargie verwag om in die openbare oog te wees.

 “Jy kan nie ’n prins van die land in die oog hê wat ’n aanspraak op die troon het en verwag om agterna ’n normale, privaat lewe te lei nie,” sê hy. “Dis deel van die ooreenkoms. As jy op ons onkoste in paleise bly, verskyn jy in koerante. Mooi en lelik.” 

Bronne: USA Today, Daily Mail, News.com.au