Trevor en Tracey het Saterdagaand afgehaak in ’n klein seremonie by ’n huis in Hidden Hills, Los Angeles, waar bekendes soos die werklikheidster Kim Kardashian en haar man, die rapper Kanye West, woon. Tracey se ouers, Stanford en Sheila, woon ook in die rykmansbuurt, maar dis onduidelik of hul dogter by hul huis getrou het.

Op foto’s wat op hul privaat Instagram-rekenings gedeel is, pryk die bruid in ’n ivoorkleurige, skouerlose trourok met ’n romp en die bruidegom, Trevor, in ’n blou pak en pienk hemp. Tracey het haar hare los gedra.

Die twee het in November verlede jaar begin uitgaan. Al is Tracey ’n miljoenêr-dogter, was hul troue ver verwyder van Meghan en Harry se koninklike affêre op 19 Mei in die St. George-katedraal by Windsor-kasteel.

Trevor en Meghan het mekaar in 2004 ontmoet voor sy as aktrise roem verwerf het as Rachel Zane in die regsdramareeks Suits. Hulle het ses jaar uitgegaan voor hulle in 2011 in Ocho Rios, Jamaika, getrou het. Twee jaar later is hulle weens “onversoenbare verskille” geskei.

Trevor het die tonge laat klap toe dit aan die lig kom dat hy aan ’n TV-program werk oor ’n aktrise wat met 'n Britse koninklike afhaak. Meghan se vriende het hom glo intussen oortuig om nie met die projek voort te gaan nie. "Sy het na hom uitgereik, met Harry se toestemming, om hom te bedank dat hy nie hul storie in die openbaar vertel het nie," het ’n bron aan The Sun gesê.

Bronne: harpersbazaar.com, mirror.co.uk, dailymail.co.uk, hellomagazine.com, cosmopolitan.com