As jy nie van beter geweet het nie, sou jy dalk kon dink dis mense uit twee verskillende wêrelde. 

Op een foto: ’n vrou in ’n noupassende, sexy uitrusting wat selfversekerd straataf stap in ’n sneeu­bedekte New York met die sorgeloosheid van vry wees.

Op ’n ander foto: ’n stemmige vrou, op ’n amptelike besoek aan Marokko, in ’n ontwerpersrok met ’n hoë halslyn wat een tree agter haar man stap en bedees glimlag terwyl sy nie ’n voetjie verkeerd sit nie.

Dié twee foto’s, wat net ’n paar dae uitmekaar geneem is, vertel die storie van ’n vrou wat tussen twee wêrelde vas­gevang is: Op die eerste is sy ’n glansryke ster, ’n Amerikaanse aktrise vol self­vertroue en charisma. Op die tweede is sy ’n Britse koninklike wat dinge op ’n spesifieke, beskeie manier moet doen.

En soos dit maar altyd die geval met Meghan is, lig die wenkbroue van die­gene wie se goedkeuring sy nie wegdra nie hemelhoog.

RABAT, MOROCCO - FEBRUARY 24: Meghan, Duchess of S
Meghan, die hertogin van Sussex, op besoek aan Marokko. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die 37-jarige hertogin van Sussex, wat oor twee maande die lewe aan haar en prins Harry se eersteling sal skenk, het weer bewys niks wat sy aanpak, is ooit doodgewoon nie.

Watwou ’n stemmige ooievaarstee met ’n paar hegte vriendinne in haar gesellige kothuis by die Kensingtonpaleis – hare was ’n ses dae lange affêre wat gewemel het van die glansmense by The Mark in Manhattan, ’n establishment so spog­gerig dat dit onbeskaamd na homself as “New York se gulste hotel” verwys.

’n Privaat straler het Meghan na en van die Groot Appel gevlieg waar sy in ’n tweeslaapkamersuite vertoef het wat R280 000 per nag kos. 

Kanye West se gunstelingharpspeler het opgetree en sy en haar vriendinne het weggelê aan glutenvrye makrolletjies wat deel was van ’n suikertoring uit ’n bakkery in Parys – vir ’n stewige R6 350. Boonop het die hertogin en haar gaste aan steaks van R2 750 elk gesmul en gekoer oor ’n R6 700-bababedjie van Babyletto Hudson wat sy present gekry het. 

Die ooievaarstee het glo altesaam ’n allemintige R5,44 miljoen gekos, en een kritikus het dit beskryf as “meer Kardashian as die Kensingtonpaleis”.

Tog lyk dit nie of die Britse belastingbetaler daarvoor opgedok het nie. Die tenniskampioen Serena Williams, een van Meghan se hegte vriendinne, het die meeste van die koste gedek en die advokaat Amal Clooney het vir die vlug met die privaat straler betaal.

Die ooievaarstee het glo altesaam ’n allemintige R5,44 miljoen gekos, en een kritikus het dit beskryf as “meer Kardashian as die Kensingtonpaleis”.

Maar dié uitspattige luukses is vir sommige mense kommerwekkend – insluitend twee mense wat die koninklike familie goed ken: prinses Diana se oudbutler Paul Burrell en haar voormalige privaat sekretaris Patrick Jephson. 

Albei meen die hertogin moet kies: Wil sy ’n glanspersoon of ’n koninklike wees?

“Die lyne is besig om te verdof,” sê Paul. “Daar is ’n duidelike skeidslyn tussen die twee en Meghan ken nie die verskil nie.” 

Terwyl Meghan die tyd gate uit geniet het op haar besoek aan New York, het Harry ingeloer by ’n liefdadigheidsorganisasie wat middagetes vir kinders tydens skoolvakansies reël. 

“Drie en sewentig persent van die armste gesinne kan nie altyd kan bekostig om hul kinders tydens die skoolvakansies kos te gee nie; dit is'n leemte wat sowat 3 miljoen jong kinders van oor die hele Engeland beïnvloed," het die Kensingtonpaleis getwiet saam met 'n foto van Harry se besoek.

Die ironie het die koninklike rubriekskrywer Jan Moir nie ontgaan nie. “Intussen was Meghan in New York in stewels wat R14 500 kos op 'n reis wat buitensporige vertoonsug skree,” het Jan geskryf. 

NEW YORK, NY - FEBRUARY 20: Gayle King arrives at
Die TV-aanbieder Gayle King kom by The Mark aan - die hotel waar Meghan se ooievaarstee gehou is. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Niemand se sy moet 'n jammerlike bestaan voer vodde dra nie. Maar daar is darem perke en ons het dit hier bereik.”

Dink maar aan koningin Elizabeth wat bekend is vir haar spaarsaamheid, het sy bygevoeg, “wat al hierdie twak op haar televisie in haar sitkamer sit en kyk langs haar tweestaaf- elektriese vuurtjie met ’n koppie warmsjokolade. Wat moet sy hiervan dink? Niks goeds nie.”

Paul en Patrick meen daar is ook iets anders ter sprake – en as Meghan nie versigtig is nie, kan dinge lelik ontspoor.

“Dit lyk of al Meghan se vriende in die glanswêreld is, en dit kan op ’n ramp afstuur,” skryf Paul in die koerant The Sun.

Hy sê as Meghan nie oppas nie, kan sy “in dieselfde strik met die media val” as haar ontslape skoonma. 

“Diana het sekere aspekte van haar lewe met die media gedeel en dit het nie goed geëindig nie.”

Hy sê as Meghan nie oppas nie, kan sy “in dieselfde strik met die media val” as haar ontslape skoonma.

Patrick draai nie doekies om nie. “Die opskudding wat Meghan se besoek aan die Groot Appel veroorsaak het, sou sweerlik nie erger gewees het as sy kaal in Broadway afgehardloop en die Union Jack in Times Square verbrand het nie.”

Tog het Meghan aanvanklik laaggelê en onder ’n wolk van geheimhouding in New York geland.

Maar die “privaat” affêre het gou in ’n mediasirkus ontaard nadat bekendes, onder andere Amal, Serena, Gayle King ­(Oprah se boesemvriendin) en Abigail Spencer (Meghan se medester in die TV-reeks Suits) op die vyfsterhotel toegesak het.

“Dit was dol buite The Mark – versperrings moes opgerig word vir al die aanhangers en fotograwe,” vertel Sara Nathan van Page Six, ’n webtuiste wat oor die sterre se doen en late skryf. 

“Mense is werklik versot op haar. Sy is hul Amerikaanse hertogin. Die Amerikaners is lief vir die koninklikes, en hulle is mal daaroor dat een van hul eie nou deel is van die familie.”

En Meghan, wat glo haar eie grimeerkunstenaar en haarstilis saamgevlieg het, het skynbaar die aandag geniet en in die kameras se kollig gebaai terwyl mense oor hul voete val om haar te sien.

NEW YORK, NY - FEBRUARY 20: Amal Clooney leaves T
George Clooney se vrou, Amal, was ook daar. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die feit dat haar skatryk vriende dalk vir die rekening betaal het, is nie die punt nie, sê Patrick. 

“Meghan se gefuif in Manhattan lyk uit alle oogpunte onvanpas. Nie net omdat dit so oordadig was nie – hoewel dit ontstellend is – maar oor die berekende roekeloosheid daarvan. As prinses Diana se privaat sekretaris het ek geleer die lyn tussen amptelike en privaat reise gaan nooit net oor die geld nie. Dis ’n ongeskrewe reël, en as jy dit oortree, maak jy ’n Pandora-­kis van onopsetlike gevolge oop.” 

“Ryk mense se stralers kom altyd teen ’n prys, selfs al is dit nie die soort wat jy met ’n hertogin-van-Sussex-­kredietkaart kan betaal nie.”

En dit lyk of Meghan se beroemde vriende heelwat by haar bloubloedstatus baat vind. Tydens die ooievaarstee het Serena selfies uit die badkamer gedeel waarop sy haar eie klerereeks bemark. En Abigail, wat die rol van Dana Scott in Suits vertolk, het vir Meghan ’n swart pet met die naam van haar nuwe reeks, Rectify, daarop gegee om daarvoor voorbrand te maak.

Die handelsname wat by die partytjie betrokke was, kon dit ook nie weerstaan om hul produkte te bemark nie. 

Die bloemis Lewis Miller het al haar “goeie vriende” op Instagram bygehaak, kompleet met foto’s van die rangskikkings. “Sjoe, dit was gister soveel pret om ’n wonderlike blommeles vir Meghan Markle (Sy is so dierbaar! So belangstellend! Eersteklas!) en haar hegte vriende by die The Mark-hotel te gee,” het sy geskryf. Die inskrywing het soos ’n veldbrand versprei. 

“As enigeen nog getwyfel het of haar reis oor bemarking en (produkaanbieding) gaan, behoort dít die twyfel uit die weg te ruim,” het een gebruiker laat hoor.

Volgens Paul volg die koningin die mantra: “Ons is nie glansmense nie – om koninklik te wees is baie anders.”

In Marokko het Meghan weer die rol van die kuis koninklike eggenote gespeel. Sy was die toonbeeld van ’n volmaak versorgde hertogin.

Sy het Harry se hand en haar boepie vasgehou terwyl sy ambassadeurs in Casablanca ontmoet, tyd saam met jong skoolmeisies in die landelike Hoë-Atlas-bergstreek deurgebring en met ruiters gepraat het wat perde­terapie inspan om kinders met spesiale behoef­tes te help.

Maar dié wat weet, sê Meghan sal moet kies wie sy is. Volgens Paul volg die koningin die mantra: “Ons is nie glansmense nie – om koninklik te wees is baie anders.”

Patrick sê die teenstrydigheid tussen  die oordaad van New York en die koninklike pligte in Marokko verteenwoordig ’n kritieke kruispad vir Meghan.

“Die pad wat sy gaan kies, sal nie net haar eie toekoms bepaal nie, maar ook dié van die monarg, wie se lot nou deur ’n huwelik en genetika met hare verbind is.” 

BRONNE: THE TELEGRAPH, THE DAILY MAIL, THE SUN, THE EXPRESS, PEOPLE