Prins Harry se vrou, Meghan (37), het ’n moeilike verhouding met haar familie sedert sy deel van die Britse monargie geword het, berig Marie Claire. En dit help natuurlik nie dat haar halfsuster Samantha Markle heeltyd in die media haar mond uitspoel oor hul verhouding versuur het nie.

Samantha (54) het weer eens na haar beroemde halfsuster gekap deur ’n paar Nuwejaarsvoornemens voor te stel wat sy meen Meghan in 2019 moet volg.

In ’n onderhoud met die Daily Star sê Samantha sy wil hê Meghan moet hul pa, Thomas (74), bedank vir alles wat hy vir haar gedoen het. Sy praat direk met die koninklike en sê: “Jou Nuwejaarsvoorneme behoort te wees om eerlik te wees en hulde te bring aan diegene wat jou die meeste gehelp het, soos jou pa.

“Bedank hom vir jou universiteitsopvoeding, jou loopbaan, die bou van elke verhoog waarop jy jou voet gesit het, maar waardeer regtig die mense wat vir jou omgee,” voeg sy by.

Sy voeg parmantig by die voormalige Suits-aktrise moet “’n bietjie sjokolade eet” om haar gesindheid vir die komende jaar te versoet.

Volgens Samantha het hul pa, van wie Meghan vervreem is, nog nie heeltemal herstel van die hartaanval wat hy verlede jaar kort voor Meghan en Harry se troue gehad het nie. “Sy hart is nog beskadig – die spier sal altyd beskadig wees,” sê sy.

Samantha onthul dat haar pa “regtig gelukkig is en goed doen”. “Hy laat nie toe dat die mediasirkus hom onderkry nie, hy het beter goed om te doen. Dit gaan beter met my pa en ek is baie gelukkig vir hom.”

Samantha word gereeld in omstredenheid gehul en in berigte word beweer sy is op Scotland Yard se lys van “gefikseerde mense”, wat beteken sy hou ’n bedreiging vir die reputasie van die monargie in – ’n bewering wat sy hewig ontken, berig Evening Standard.

“Scotland Yard noem nie name tensy hulle aangekla is nie. Hulle het duidelik gesê ek is nie aangekla nie,” twiet sy.

Bronne: Marie Claire, Evening Standard, Cosmopolitan, Express