Meghan het haar eerste openbare toespraak as ’n koninklike op Donderdag 20 September gelewer toe sy ’n geleentheid ter viering van die bekendstelling van haar boek, Together: Our Community Cookbook, by die Kensington-paleis gehou het.

Die hertogin van Sussex het vir drie minute sonder aantekeninge soos ’n gesoute spreker gepraat en nie een keer vasgehaak nie.

Prins Harry en haar ma, Doria, wat van Los Angeles gevlieg het om aan haar dogter se sy te wees, het trots toegekyk terwyl Meghan haar roerende toespraak gelewer het.

“Dit was ’n groot liefdestaak om vir die afgelope nege maande aan die projek te werk,” het Meghan gesê.

Vroue van die Hubb-gemeenskapskombuis het resepte tot die boek bygedra.

“Ek het maar onlangs na Londen verhuis en ek het dadelik gevoel die kombuis omarm my – jul warmte en vriendelikheid en ook om in die stad te wees en in die een klein vertrek te sien hoe multikultureel dit is.

“Op ’n persoonlike vlak voel ek baie trots om in die stad te bly wat so baie diversiteit bevat. Twaalf lande word deur dié groep vroue verteenwoordig. Dis baie besonders.”

Die voormalige Suits-aktrise het die boek geloof en gesê: “Ek het in die voorwoord gesê dit is meer as ’n kookboek en daarmee bedoel ek die krag van kos is meer as net die maaltyd self.

“Dis die storie daaragter. Wanneer ons die kans kry om die storie van die resep te leer ken, kry jy die kans om die mens daaragter te leer ken.

“Dis waarvan ons praat wat betref byeenkom om regtig te skakel en gesels en te kan vier wat ons saambind eerder as wat ons verdeel.

“Dit, glo ek, is die waarde van samehorigheid,” sê sy.

Meghan het haar indrukwekkende toespraak afgesluit deur vir haar gaste te sê hulle moet hul maaltyd geniet, berig Harper’s Bazaar.

“Ek weet party van julle het al begin eet – soos julle behoorte te doen. Ek is die laaste een wat sou wou hê die kos moet koud word.”

'Ek is Doria, Meghan se ma'

Terloops, Doria het op haar eie beskeie manier baie diep in talle harte gekruip. Behalwe dat sy haarself bloot as "Meghan se ma" aan belangstellendes bekend gestel het, het Doria elkeen van die Hubb-gemeenskapskombuiskokke wat by die resepteboek betrokke was, met 'n warm omhelsing begroet en vertel hoe opgewonde sy oor die projek is.

"Meghan het baie tuis in die kombuis gevoel (tydens die samestelling van die resepteboek) en ek is so bly ek kan nou 'n gesig koppel aan elkeen van die resepte in die boek! Ek gaan elke dis maak, ek is ernstig daaroor."

Op 'n vraag oor die afkoms van Meghan se oortuigings, het Doria dit eenvoudig opgesom: "Die sterkte van vroue. Ons laat dinge gebeur. Ons is nuuskierig, ons sê ja, ons daag op."

Meer oor die resepteboek

Together: Our Community Cookbook bevat 50 resepte deur vroue van die Hubb-gemeenskapskombuis en die opbrengs uit die verkope daarvan word aan die Hubb geskenk om seker te maak die gemeenskapskombuis se potte bly aan die kook en die deure oop.

Die inisiatief het gevolg op die Grenfell-woonstelbloktragedie wat die lewe van 71 mense in Junie 2017 geëis het en waardeur talle van die plaaslike vroue sonder 'n heenkome gelaat is waar hulle vars kos vir hul gesinne kon voorberei.

Toe begin hulle om by die Al-Manaar-erfenissentrum byeen te kom waar die kombuisgeriewe ingespan is om kos vir die gemeenskap voor te berei. (Hubb is die Arabiese woord vir liefde)

Eers het hulle dit twee keer per week gedoen, maar hoe meer die boodskap versprei het, hoe meer vroue het aangesluit om saam te kook en hul bure in hul tyd van nood by te staan.

Meghan het in Janaurie vanjaar die gemeenskapskombuis vir die eerste keer besoek, 'n besoek wat baie skraal op die radar registreer het. Daarna het gereelde geheime besoeke gevolg. Meghan gaan glo ook gereeld in die aand uit om met hawelose mense in skuilings te besoek om met hulle te gesels.

Nog iemand wat baie gedoen het om die slagoffers van Grenfell te help, is die sangeres Adele.

Sy en manlief Simon Konecki het die dag ná die ramp by die toneel opgedaag om slagoffers te vertroos waarna hulle na die brandweerstasie is om die brandweermanne te bedank en hulle "tee en drukkies" aan te bied.

Bronne: hellomagazine.com, People, royalfoundation.com, ET Online