Hoewel die twee volgens berigte reeds op 6 Oktober verlede jaar tydens 'n privaat seremonie in Hidden Hills in Los Angeles getrou het, word daar beweer dit was allesbehalwe 'n huwelikseremonie, maar veel eerder 'n groot partytjie om hul verlowing wat in Junie 2018 plaasgevind het, te vier.

Gerugte doen die rondte dat die twee wel in Oktober tydens die seremonie huweliksbeloftes aan mekaar afgelê het.

Wat bygedra het tot die verwarring was die feit dat Tracey in 'n lang, elegante wit rok geklee was en Trevor 'n ligblou pak gedra het.

Dit blyk nou egter die nuwe egpaar het op 11 Mei vanjaar 'n groot bruilof gehou! Dié keer het die wêreld kennis geneem van die groot gebeurtenis, anders as met die privaat verlowing in Junie.

Die 42-jarige Amerikaanse rolprentvervaardiger, wat vir twee jaar met Meghan (37) getroud was, het op Saterdag 11 Mei sy huweliksbelofte voor talle vriende en familie aan Tracey (31), ’n voedingkundige, by Rosewood Miramar-strand in Montecito, in die Amerikaanse deelstaat Kalifornië, afgelê.

"Dit kon nie meer van die koninklike troue verskil het nie," het iemand in die binnekring verklap.

"Dit was nie ’n stywe affêre nie! Dit was pret en ontspanne en absoluut pragtig. Almal het hul gate uit geniet, veral Trevor en Tracey."

'Koninklike' huweliksregister

Maar die twee se huweliksregister verklap die paartjie se eksotiese smaak. Daarop verskyn 'n Hermes-eetservies wat met 24 karaat goud versier is en uit 16 borde en 16 nageregbakkies bestaan. Die waarde? Wel, $374 (meer as R5 300) per bord en $180 (sowat R2 500) per nageregbakkie.

Nog 'n paar ekstras en die eetservies kan 'n vrygewige trougas $11 024 (sowat R157 000) uit die sak jaag.

Dan is daar glo ook 'n paella-pan, springmieliemaker, 'n pizza-oond, silwerware, kraffies, kristalbakke en glase op die uitgebreide wenslys vir die nuwe mnr. en mev. Engelson.

In teenstelling met die uitgebreide wenslys, het Meghan en Harry verkies dat hul gaste skenkings aan liefdadigheidsorganisasies maak.

Troubeloftes

Volgens die foto’s wat gaste in die sosiale media gedeel het, het die paartjie besluit om hul troubeloftes onder wit rose en liggies uit te ruil.

Die bruidegom het ’n klassieke swart pak gedra en die beeldskone bruid – erfgenaam van ’n multimiljoendollar-fortuin, was asemrowend in ’n moulose kantrok.

Die paartjie het hul verlowing verlede Junie, twee weke nadat Harry en Meghan in die huwelik getree het, aangekondig nadat hulle drie jaar saam was.

"Gelukkigste ou wat ek ken! Reg om partytjie te hou!" het Trevor geskryf by sy foto om hul verlowing op Instagram aan te kondig. In die foto spog Tracey met haar verloofring.

Meer oor Tracey

  • Sy het in 2008 haar graad in kommunikasiekunde aan die Universiteit van Suid-Kalifornië (USC) behaal waarna sy haar meestersgraad in voedingkunde in 2014 aan die onderwyskollege van die Columbia-universiteit in New York verwerf het.
  • Sy is die dogter van Stanford en Sheila Kurland. Benewens Tracey se eie stewige bankrekening wat nie te versmaai is nie, is haar pa 'n multi-miljoenêr bankier wat glo $200 miljoen (meer as R2 849 biljoen) sterk staan.

Meer oor Trevor

Hy is as Trevor Joe Engelson op 23 Oktober 1976 in New York gebore. Trevor is 'n rolprentvervaardiger wat bekend is vir flieks soos Deep Blue Sea (1999), Remember Me (2010), License to Wed (2007) en All About Steve (2009).

Volgens Entertaiment Tonight het Trevor in September 2017 begin werk aan 'n enkelkamera-komediereeks wat liggies raak aan sy eie lewe, dié van 'n man wat gelos is vir 'n koninklike. Die reeks se prikkel is as volg: "Egskeiding is taai. Om toesig te deel, nog taaier. Om toesig met die Britse koninklike gesin in die meedoënlose kolllig van Londen se poniepers te deel, is nog 'n verdere vlak (van taai)."

Hoewel hy en Meghan nie kinders gehad het nie, is daar genoeg ooreenkoms met hul lewens om te vermoed Trevor het hierdie idee op sy eksvrou gemik.

Trevor en Meghan

Trevor Engelson (L) en Meghan Markle by die Beverl
Trevor Engelson (L) en Meghan Markle by die Beverly Hilton hotel op 11 Oktober 2011. Foto: Michael Kovac/WireImage

Die twee het in September 2011 by ’n strandoord in Jamaika getrou nadat hulle vir ses jaar uitgegaan het. Hulle het volgens The Telegraph twee jaar later, op 7 Maart 2014, weens onversoenbare verskille geskei.

Die paartjie se huwelik het glo verbrokkel nadat Meghan Kanada toe getrek het om die treffer-regsdramareeks Suits te verfilm.

Bronne: wikinetworth.com, dailymail.co.uk, yourtango.com, deadline.com, imdb.com, US Weekly, People, Telegraph