Die hertogin van Sussex se vroulike lyfwag het ná minder as ’n jaar in die pos bedank, berig The Sun.

Die assistent – wie se naam om sekuriteitsredes nooit bekendgemaak is nie – het die pos van inspekteur beklee, en prins Harry se voormalige sekuriteitshoof, sers. Bill Renshaw, vervang wat in in 2018 uitgetree het, berig Daily Mail

Die lyfwag was nooit ver van Meghan af nie tydens die Statebondstoer in Oktober en baie ander geleenthede wat sy en Harry bygewoon het. Sy het ingeskakel en selfs op geleenthede hoëhakskoene gedra. 

Sy is nie die enigste personeellid wat onlangs by die koninklikes weg is nie. In November verlede jaar het die voormalige aktrise se sekretaresse, Samantha Cohen (49), bekendgemaak sy bedank nadat sy amper 20 jaar by die koninklikes gewerk en van die koningin se persoonlike mediaspan deel was. 

En in Desember het Meghan se persoonlike assistent, Melissa Touabti, aangekondig sy verlaat die paleis.

’n Bron in die binnekring het aan The Sunday Times gesê die hertogin sukkel om by die koninklike lewe aan te pas. 

“Anders as iemand wat in die koninklike famlie grootgeword het en van kleins af gewoond is om nabye beskerming te hê, kan dit beperkend wees,” sê die bron.

“Al was (Meghan) ’n beroemde aktrise, kon sy vryelik rondbeweeg soos wat sy wou,” voeg die bron by.

Bronne: The Sun, Daily Mail, The Sunday Times