Doria Ragland (62) het blykbaar stilletjies Engeland toe gevlieg om haar dogter te gaan bystaan na daar blykbaar ‘n relletjie was tussen prins Harry en Thomas Markle (74).

Volgens The Metro het die geheime besoek al in Julie plaasgevind.

‘n Joernalis wat oor die koninklikes skryf, Omid Scobie, het aan die tydskrif Harper’s Bazaar gesê: “Doria Ragland het die afgelope somer lank by Meghan en Harry gekuier by hul tuiste in Oxfordshire. Doria het blykbaar ‘n nou band met Harry en is soos altyd ‘n steunpilaar vir haar dogter.”

‘n Maand gelede het Thomas gesê hy het die foon neergesit nadat hy en prins Harry aan die stry geraak het. Harry was blykbaar dik die joos in omdat Thomas so aanhoudend met die media praat, het die webwerf Mail Online berig.

“Ek is nie kwaad vir Harry nie. Ek is nie kwaad vir Meghan nie. Ek is lief vir hulle en ek wens hulle net die beste toe, maar wat die res betref . . . f**it, ek’s klaar,” het hy agterna gesê. 

Haar eksman se tirade was seker vir Doria die laaste strooi, want sy het daar en dan op ‘n vliegtuig gespring en van Los Angeles na haar dogter gevlieg. 

Volgens The Sunday Express het ‘n vriendin van Doria wat ook in Los Angeles woon, gesê sy vermoed die jogajuffrou sal uiteindelik permanent Engeland toe verhuis.

“Ek dink sy sal so gou as moontlik gaan,” het die bron gesê. “Sy’s nou al ‘n ruk lank nie by haar huis nie. Sy was net af en toe hier en dan was daar elke keer ‘n lyfwag by haar.

“Sy is geweldig lojaal teenoor haar dogter en sal haar nooit so verraai soos die ander familie nie.”

Die vriendin vertel dat die Engelse natuurskoon ook die 62-jarige se hart gesteel het. “Sy het verlief geraak op die land en het vir my gesê dis nou ‘n plek waar sy maklik sou kon woon.”

Doria het onlangs haar werk as maatskaplike werker by die Didi Hirsch-kliniek in Culver City, LA, bedank. 

Daarby het sy blykbaar babasorgklasse geneem by die Cradle Company in die nabygeleë Pasadena, berig News.au

“Meghan wil eerder nie ‘n babaoppasser in diens neem nie,” het iemand in die binnekring aan Daily Star verklap. “Die beste plan sou wees dat haar ma by hulle intrek en haar kleinkind oppas.”

En dit lyk of Doria al heel goed toegerus is hiervoor. “Sy het alles geleer oor borsvoeding, basiese babasorg, kunsmatige asemhaling en noodhulp. Die kursus leer jou ook van slaappatrone, hoe om die nuwe ma by te staan en hoe om die baba van die bors af te kry.”

Bronne: The Metro, Mail Online, The Sunday Express, News.au