Die goeie vriend van die hertogin van Sussex (36) sê Thomas Markle het net gemaak of hy ’n hartoperasie moes kry sodat hy die koninklike troue kon misloop, berig die Daily Mail

"Die hele storie oor Meghan se pa wat ’n hartoperasie moes ondergaan, was opgemaak," het die bron aan die Daily Mail vertel.

"Hy moes met ’n goeie rede vorendag kom om nie haar troue by te woon nie, en om enige verdere vernedering te vermy ná die waarheid oor daardie foto’s uitgelek het."

Dié pel van die voormalige Suits-aktrise sê mense moenie Thomas (74) bejammer nie – hulle moet eerder fokus op hoe hartseer die hertogin was nadat haar pa haar troue misgeloop het.

"Natuurlik is Meghan kwaad vir hom. Haar pa het haar nie na die kansel vergesel nie, en dit alles net oor daardie ondeurdagte reklamefoefie," sê die bron.

Hy voeg by Thomas het net probeer simpatie wek nadat die steelfoto’s, waarvoor hy toe die hele tyd poseer het, ’n week voor die troue uitgereik is en Meghan sowel as die koninklikes in die verleentheid gebring het, berig news.com.au.

"Die storie oor swak gesondheid was sy manier om die aandag weg te lei van die foto’s wat ’n totale vernedering vir Meghan en die koninklike familie was."

Die hertogin se pa is twee dae ná sy beweerde hartoperasie met twee McDonald’s Happy Meals en ’n sjokoladedrankie gewaar en het later aandete by KFC geniet, skryf die Daily Mail.

Bronne: Daily Mail, news.com.au