Dié keer het die 53-jarige met The Sun gepraat en heftig ontken haar halfsuster, Meghan, hertogin van Sussex (37), sal hul pa, Thomas Markle, op haar eersdaagse besoek aan Amerika besoek.

“Ek praat elke dag met hom en dis hartseer, maar nee, hulle het hom nie genader nie,” het die oudaktrise en -model, wat dalk binnekort op die Britse Celebrity Big Brother sal verskyn, gesê.

“Daar’s geen ontmoeting beplan nie; dis reklamepraatjies. Die reklamemasjien kan ophou probeer maak of sy ’n poging aanwend – sy doen dit nie,” het sy bygevoeg.

Samantha, wat in ’n onderhoud met Good Morning Britain erken het sy het in 2015 laas met Meghan gepraat, is baie krities jeens haar halfsuster sedert Meghan se verlowing aan prins Harry (33). 

Op die voormalige aktrise se verjaardag op Saterdag 4 Augustus het Samantha haar weer op Twitter die kop gewas, berig Daily Mail

In ’n twiet het sy Meghan snedig ’n gelukkige verjaardag toegewens en gevra dat sy asseblief vir hul pa ’n laat verjaardagkaartjie vir sy 74ste verjaardag stuur. Dit was op 18 Julie.

Meghan het haar eerste verjaardag as ’n lid van die Britse koninklike familie gevier terwyl sy prins Harry se beste vriend se troue bygewoon het. 

Die koninklike familie se amptelike Instagram-blad het ’n oulike foto van Meghan en die koningin gedeel met die byskrif: “Gelukkige verjaardag aan haar koninklike hoogheid die hertogin van Sussex! #HappyBirthdayHRH”

Happy Birthday to HRH The Duchess of Sussex! #HappyBirthdayHRH

A post shared by The Royal Family (@theroyalfamily) on

Dit was nie die eerste keer dat Samantha op Twitter teen haar halfsuster uitvaar nie. 

Nadat Elle onlangs berig het Meghan en Harry sou ’n blaaskans uit die openbare oog neem, het Samantha met nog ’n bitsige antwoord in die sosiale media losgetrek.

“Oukei, so Cruella de Ville wyk terug, LOL . . . Laat my weet hoe dit vir jou werk,” het sy getwiet.

Bronne: Thesun.co.uk, Dailymail.co.uk, Elle.com