Nadat hulle in Mei verlede jaar afgehaak het, moes sy dit sluit omdat koninklike protokol die gebruik van die sosiale media verbied.

Maar nou, agt maande sedert sy by die Britse koninklike familie aangesluit het, het dit aan die lig gekom die hertogin van Sussex het ’n geheime Instagram-rekening gehad sodat sy met haar vriende in aanraking kon bly. Sy het dit net voor Kersfees gesluit nadat sy hoofopskrifte en kommentaar oor haarself gesien het, berig The Sun.

“Sosialemedia-trolle het regtig gemene goed geskryf en sy het vanselfsprekend ook die hoofopskrifte oor haar gesien,” het ’n bron aan die nuusagentskap gesê.

“Dit het haar regtig ontstel en op die ou end moes sy dié rekening ook net voor Kersfees sluit om haar geestesgesondheid te beskerm. Sy het baie afgesonder en alleen gevoel.”

Express berig die bron het bygevoeg Meghan was so ontsenu deur van die kommentaar dat sy vir haar lewe gevrees het.

“Sy voel nie veilig genoeg om sonder beskerming op haar eie uit te gaan nie,” het die bron gesê. “Daar is sekere goed waaroor sy uiters paranoïes is, soos om fisiek aangeval te word.” 

Meghan sal egter by haar man vir raad kan aanklop, aangesien Cosmopolitan voorheen berig het dat prins Harry homself al jare lank as 'Spike Wells' op private sosialemedia-profiele voorgehou het. ’n Facebook-profiel onder dié naam is in 2012 uitgewis nadat ’n herrie oor uitgelekte foto's om die prins se kop losgebars het.

Die prins is glo deur raadgewers aangesê om die profiel uit te wis om verdere sekuriteitskwessies te voorkom, nadat Harry by ’n luukse hotel in Las Vegas in sy adamsgewaad gekiek is.

Dit blyk egter nou of die hertog sowel as die hertogin van Sussex op ’n sosialemedia-detoks is. Meghan is tans swanger met haar en Harry se eersteling. Die kleinding sal na verwagting teen einde April gebore word.

Bronne: Express, The Sun, Town and Country, Cosmopolitan