Dit bly natuurlik ’n ope vraag hoe lank die twee al die stap beplan het en wat aanleiding daartoe gegee het. Hier is van die naskokke wat tot dusver nuusopskrifte gehaal en die tonge laat klap het.

1. Die ‘seergemaakte en teleurgestelde’ ouma

Die 93-jarige Britse monarg, koningin Elizabeth, het glo opdrag aan haar kleinseun prins Harry gegee om nie die skokkende aankondiging vandeesweek te maak nie, maar Harry en Meghan het teen haar wens opgetree en steeds die nuus bekend gemaak.

Dit kom net ’n week nadat Harry die koningin vir ’n ontmoeting by haar Sandringham-landgoed gevra het om hul ingrypende besluit te bespreek.

Sy sou graag met hom wou ontmoet oor wat as sy "wenslysie" bekend staan, maar wou glo nie hê hy moet die besluit deurvoer voor hy nie in detail met sy pa, prins Charles (71), daaroor gepraat het nie.

Sowel Charles as Harry se ouer broer, prins William (37), het glo eers die egpaar se verklaring onder oë gekry 10 minute voor dit uitgereik is.

Paleisamptenare het na bewering die ontmoeting tussen Harry en die koningin gekeer, hoewel sy dit tog duidelik gemaak het hy moenie voortgaan om hul planne bekend te maak nie. Maar die hertog en hertogin van Sussex het voortgestoom en wel die gewraakte aankondiging op hul Instagram-blad gemaak.

Luidens gerugte is die koningin “seergemaak en teleurgesteld” in Harry en Meghan se optrede, en senior paleisamptenare glo die twee gaan gestraf word.

2. Was dit wraak?

Harry is die sesde aanspraakmaker op die Britse troon. Hardnekkige gerugte doen die rondte dat die amptelike foto wat Buckingham-paleis op 3 Januarie van koningin Elizabeth met haar drie troonopvolgers, prins Charles, sy oudste seun, William, en die se seuntjie, prins George (6), uitgereik het om 'n nuwe dekade in te lui, dalk vir Harry die laaste strooi was. Daar word juis bespiegel daar is onmin tussen Harry en sy broer, William.

3. Slegte tydsberekening of fyn beplanning?

Die aankondiging is laat Woensdagaand gemaak, en Donderdag het dit feitlik alle nuus oorheers.

Maar dit was nie al nie. Dit het ook Harry se skoonsuster, Kate, se 38ste verjaardag geheel en al oorskadu.

Die hertog en hertogin van Sussex het nie die hertogin van Cambridge op Instagram gelukgewens nie – wat natuurlik die gerugte van onmin tussen die twee broers en hul gades hemelhoog aangevuur het.

Die koningin – of liewer haar skakelbeamptes – het wel in ’n onverwagte stap drie foto’s van haar saam met Kate op Twitter gedeel en selfs ’n skakel geplaas na Kate se profiel op die koninklike webtuiste waarop haar werk sedert haar huwelik met William in 2011 uiteengesit word.

4. Hul tuiste

Gaan Harry en sy gesin nogsteeds Frogmore Cottage behou nadat die Britse belastingbetalers ongeveer $3 miljoen (R42,7 miljoen) op herstelwerk aan die woning bestee het?

Die koningin sal eindelik die laaste woord hieroor hê – sy is immers die een wat toestemming moet gee.

Daar bestaan die moontlikheid dat die Sussex-gesin in Kalifornië in Amerika of selfs in Kanada nes gaan skrop – albei plekke waar Meghan vantevore gebly het en waar sy veilig voel. Meghan het sewe jaar in die Kanadese stad Toronto gebly terwyl sy daar aan die regsdramareeks Suits geskiet het.

5. ‘Finansieel onafhanklik’

Meghan en Harry het in hul Instagram-plasing onthul hulle wil werk om finansieel onafhanklik wees. Hulle het nie in hierdie stadium privaat inkomste nie en betaal dus nie belasting nie. Dit kan verander omdat hulle nie belastingvoordele sal geniet wanneer hulle hul eie inkomste genereer nie.

6. Weg met Harry en Meghan

Die ink was nog skaars droog ná Meghan en Harry se aankondiging of die twee se wasbeelde is uit die groep koninklike wasbeelde in die Madame Tussauds-museum in Londen verwyder.

7. Reaksie van die paleis

Twee sinne. Dis al. Daarin word genoem dat samesprekings met die hertog en hertogin van Sussex in ’n vroeë stadium is en dat dit tyd sal neem om alles uit te stryk.

8. Archie bly tuis

Meghan en Harry het hul agt maande oue seun, Archie, in Kanada, waar hulle ses weke lank vakansie gehou het, agtergelaat toe hulle na Engeland teruggekeer het om die aankondiging te maak.

Meghan het drie dae in Engeland deurgebring voor sy na Archie teruggekeer het.

Daar word aangeneem hulle wou Archie teen vlugvoosheid beskerm.

9. Die nuwe webtuiste

Harry en Meghan het ook reeds hul eie webtuiste begin, wat glo al ’n jaar lank in wording is.

In hierdie stadium is die inligting daarop maar skraps en bevat dit ook die aankondiging wat op Instagram gemaak is rondom hul uittrede uit hul koninklike rolle. Die paartjie onthul ook hierin dat hulle nie langer deel van die koninklike stelsel gaan wees wat voorkeur aan 'n klein getal prominente Britse joernaliste gaan gee nie, maar eerder met diverse publikasies wil werk en foto's direk aan hul aanhangers wil voorsien.

Hul webtuiste is in Maart 2019 al geregistreer en is sedertdien in die geheim ontwerp en ontwikkel deur Article, ’n maatskappy van Toronto, wat Meghan gehelp het om haar blog, The Tig, te skep. Sy het die blog en haar persoonlike sosialemediaprofiele in 2017 gesluit nadat sy aan Harry verloof geraak het.

10. Die nuwe handelsmerk

Die twee het ook intussen aansoek gedoen om “Sussex Royal” as ’n handelsmerk te registreer, ’n stap wat baie van hul nuwe liefdadigheidsorganisasie se bedrywighede sal dek.

Daarmee saam het hulle glo in die ses maande voor die Meghxit-aankondiging meer as ’n 100 items geïdentifiseer wat hulle onder hierdie handelsmerk wil vervaardig. Dit sluit gedrukte materiaal, klere, sokkies, potlode, boeke en ’n magdom verwante produkte in.

Die Amerikaanse kleinhandelkenner Andy Barr meen Harry en Meghan se nuwe Sussex Royal-produkryk kan tot £400 miljoen laat inrol.

Bronne: cnn.com,royal.uk, indiatimes.com, marieclaire.com, worldipreview.dom

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.