Die gewilde deelnemers aan die 11de seisoen van Boer Soek ’n Vrou Réan Clasen en Rox-Zee Veldhuizen het hul harte op mekaar verloor.

Hy het ’n foto van hulle saam met hom en sy Jack Russell, Lielie, die “ander vrou” in sy lewe, op Instagram geplaas. “Dis my pêlle, ek moet hulle help,” verduidelik hy.

Almal weet nou al dat hy en Rox-Zee Veldhuizen van KwaZulu-Natal – albei 27 – die skoot hoog deur het, nadat hulle mekaar op die gewilde maatsoekprogram op kykNET ontmoet het. “Dit gaan baie goed. Dis net die afstand wat erg is,” vertel Réan oor die foon. Hulle moet sowat 1 200 km aflê om by mekaar uit te kom.

’n Vriend wat ook saam met hom ’n topvyf boer op die pas afgelope 11de seisoen van Boer Soek ’n Vrou was, is een van die manne wat by Réan kuier. Hy het nie liefde in die reeks gevind nie. Die enigste Engelsman, met ’n spogplaas in die Vrystaat naby Verkykerskop.

“Sy foon is vuurwarm,” laat Réan weet oor die reaksie wat Duncan (37) sedert die Instagram-inskrywing ontvang het.

“Gisteraand toe dit begin donker raak, hou die manne aan praat oor hoe verlang hulle na die teenwoordigheid van ’n vrou. Dis toe ek besluit ek moet inspring,” voeg Réan dik van die lag by.

Die ander mans wat ná Réan se hulp nou 1 000 en meer volgelinge op Instagram het, is Ernest Haarhoff (26), Francois Pretorius (27) en Jannie van Zyl (41). Hulle is almal boere uit sy omgewing.

Boer Rean
Réan se vriende wat hy help vrou soek deur Instagram. Van links is dit Ernest Haarhoff (26), Réan met Lilie die hond, Francois Pretorius (27), Duncan Mackay (37) en Jannie van Zyl (41). Foto: Verskaf.

“Hulle het hul aas nou ver uitgegooi en hulle het baie byte gekry.” Vandag word daar nie onder hierdie manne geboer nie. Hulle is heeltyd op hul fone, verklap Réan. “Ek kan nou niks meer vir hulle doen nie.”