Zozi het die Mej. Heelal-kroon twee jaar gedra nadat die kompetisie in 2020 weens die covid-19-pandemie uitgestel is.

Vanjaar se kompetisie het vir 'n paar groot oomblikke gesorg waaroor aanlyn gegons is.

1. Die oomblik toe Andrea die titel wen

Andrea Meza, die huidige Mej. Mexiko, het by die 69ste jaarlikse Mej. Heelal-kompetisie 73 ander skoonhede geklop en met die kroon weggestap. 

Mej. Brasilië, Julia Gama, is as die naaswenner aangewys en Mej. Peru, Janick Maceta Del Castillo, het die derde plek behaal.

Andrea is die derde vrou van Mexiko wat die Mej. Heelal-kroon dra. Sy is die oudste van drie sibbes en het 'n graad in sagteware-ingenieurswese.

"Ek is so geëerd dat ek gekies is onder die 73 ander wonderlike vroue by wie ek vanaand gestaan het," het Andrea in 'n verklaring van die Mej. Heelal-kompetisie geskryf.

"Dis 'n droom wat waar word om die Mej. Heelal-kroon te dra, en ek hoop om die wêreld te dien deur voorspraak te maak vir gelykheid in die komende jaar en daarna."

2. Zozi se laaste treë as Mej. Heelal

Zozi het die hartsnare geroer toe sy vir oulaas die verhoog as Mej. Heelal betree het. 

Tydens haar laaste treë as Mej. Heelal het 'n vooraf opgeneemde boodskap van die stralende 27-jarige gespeel. 

"Van die oomblik toe ek gewen het, het ek geweet dat my heerskappy anders sou wees, maar ek het nooit gedroom dat dit tydens 'n wêreldwye pandemie sou wees nie. 

"Nietemin het ek die geleentheid gekry om twee keer soveel lewens te raak omdat die wêreld virtueel geword het," het Zozi vertel.

"Ek het my stem gelig in die stryd teen rasse- en geslagsongelykheid," het sy gesê, terwyl sy stralend oor die verhoog stap. Sy het ook slagoffers van mishandeling ondersteun.

Talle bekendes het boodskappe vir Zozi in die sosiale media gedeel. Hieronder was Mej. Heelal van 2017, Demi-Leigh Tebow, wat ook 'n verskyning tydens die kompetisie gemaak het. 

"Jy het hierdie geskiedkundige afgelope jaar met grasie, nederigheid en elegansie hanteer, en ek sou nie meer trots op jou kon gewees het nie.

"Ek is seker die hele Suid-Afrika sal saamstem. Ek wens jou alle sterkte toe en kan nie wag om jou aan te moedig in al jou toekomstige ondernemings nie!" het Demi-Leigh in die sosiale media geskryf. 

"Jy het naam gemaak en die heelal is 'n beter plek daarvoor! Ek is so trots om jou te ken, trots dat ek 'n getuie was van jou grootheid. Die wêreld is joune, nou kan jy vlieg!" het die stilis en kreatiewe direkteur van Mej. Suid-Afrika, Werner Wessels, laat hoor. 

"Maar kom eers huis toe!" 

3. Toe SA se Natasha Joubert nie die top-21 gehaal het nie

Die aanhangers van Suid-Afrika se Natasha Joubert (23) was geskok toe sy nie die top-21 in die Mej. Heelal-kompetisie haal nie.

Natasha het sedert sy onlangs in Hollywood aangekom het vinnig 'n gunsteling onder aanhangers van die kompetisie geword. 

"Die Mej. Suid-Afrika-kompetisie het Natasha met reg na Mej. Heelal gestuur, want dit is die kompetisie waar alles waardeer word: Haar skoonheid, persoonlikheid en kennis," het die webtuiste Missosology geskryf. 

Bekende skoonhede soos die voormalige Mej. Wêreld Rolene Strauss en Suid-Afrika se eerste Mej. Heelal, Margaret Gardiner, het ook hul steun vir Natasha getoon. 

"Natasha was stralend. Sy het ons so goed verteenwoordig. Ek is so trots op haar," het Margaret in die sosiale media geskryf.

"Soms gebeur dit ná 'n baie sterk vertoning van 'n land 'n paar jaar ná mekaar en sy moenie dit persoonlik opneem nie.

"Sy sal verder gaan met ander groot dinge en naam maak in die heelal," het Margaret onder die kommentaar-afdeling van Mej. Suid-Afrika se plasing geskryf. 

Rolene kon dit nie glo toe Natasha nie die top-21 haal nie. 

"Ek is so omgekrap omdat Natasha Joubert nie die top-21 by Mej. Heelal gehaal het nie. 'n Groot deel van my glo dat daar 'n groot fout moes gewees het," het sy op Instagram geskryf. 

"Natasha, jy sal altyd ons Mej. Heelal bly. Ek is so onsettend trots op jou," het Rolene laat hoor. 

Werner, wat ook saam met Natasha gestap het in haar Mej. Heelal-reis, het sy trots vir haar in die sosiale media gedeel.

"Ek kan nie eers begin om te beskryf hoe trots ek op jou is en hoe jy gegroei het nie!

"Om te sien hoe hard jy gewerk het, hoe toegewyd jy is en dat niks ooit te veel gevra is vir jou nie.

"Jy het alles in jou vermoë gedoen en nou is dit tyd dat God die res doen!" het hy op Instagram geskryf. 

BRONNE: CNN, CHANNEL24.COM, TIMESLIVE.COM
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.