Suid-Afrika se skoonheidskoninginne kom baie ná aan dié ranglys – of dit nou in Mej. Wêreld of Mej. Heelal is, ons vroue skitter op die wêreldverhoog!

Nie net was dit ons eie Demi-Leigh Nel-Peters wat die uittredende Mej. Heelal was nie, haar opvolger as Mej. SA, Tamaryn Green, het ook groot skokgolwe die wêreld ingestuur toe sy vroegoggend SA tyd in Thailand as die eerste prinses in die gesogte Mej. Heelal-kompetisie aangewys is. 

Die senuwees moes behoorlik geknaag het in daai laaste oomblikke . . . 

Al wie Tamaryn kon uitstof was die beeldskone Mej. Fillipyne, Catriona Gray. Demi-Leigh het in haar swanesang die kroon oorhandig.

Aan dié twee se sensualiteit is daar g’n einde nie!

Demi-Leigh was die afgelope jaar op die loopplank vir die wêreld se voorste ontwerpers, het die planeet platgereis en selfs by die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering gepraat. Maar, al het haar sprokiesjaar tot ’n einde gekom, het sy meer as genoeg herinnerings om ’n leeftyd lank te koester.

“Die jaar het al my verwagtings oortref, die bestes en die slegstes,” het die skoonheid uit die woonstel in 57th Street, New York, wat die afgelope jaar haar huis was, onlangs aan Huisgenoot vertel.

Die 23-jarige het ook verklap sy bring haar wêreldberoemde kêrel, die Amerikaanse voetbalster Tim Tebow, huis toe vir biltong en braaivleis!