Tamaryn (24), wat in haar finale jaar van studie was toe sy in Mei 2018 as Mej. Suid-Afrika gekroon is, sê sy is baie opgewonde om weer haar mediese studie voort te sit.

Die skoonheid het onlangs foto’s van haar terug in die teater op Instagram geplaas. 

"Ek het lanklaas hierdie aangehad. Ek sien uit daarna om weer in die teater te wees," het sy by ’n foto van haar in haar uniform geskryf.

Foto: Instagram/@tamaryngreen
Foto: Instagram/@tamaryngreen

Op nog ’n foto is sy besig om in die teater te assisteer.

Foto: Instagram/@tamaryngreen
Foto: Instagram/@tamaryngreen

En het die pasiënt geweet Mej. Suid-Afrika gaan ook in die teater wees?

"Ons het die pasiënt laat weet dat ek ’n finalejaar- mediese student is, maar sy het nie geweet dat ek Mej. Suid-Afrika was nie," vertel Tamaryn aan Huisgenoot.

"Ons het wel toestemming gevra dat ek mag assisteer en sy was heel gemaklik daarmee," sê sy.

Foto: Instagram/@tamaryngreen

"Ek begin ook amptelik met my studies op 1 April," vertel Tamaryn aan Huisgenoot.

Tamaryn, wat oorspronklik van die Paarl is, het tot voor die Mej. Suid-Afrika-kompetisie nog in die koshuis gewoon. "Ek het daarvan gehou om naweke huis toe te gaan om flieks te kyk en my ma se lekker Sondagkos te eet," het sy voorheen in ’n onderhoud aan Huisgenoot vertel.

Sy beplan om te praktiseer wanneer haar jaar as Mej. Suid-Afrika tot ’n einde kom en wil in pediatrie spesialiseer. "Ek is baie lief vir kinders," sê sy.

En hoe dan anders. Albei haar ouers, David (60) en Ellirene (53), werk in die opvoedkunde – haar ma as onderwyseres en pa as leerplanraadgewer.

View this post on Instagram

Thinking of my family tonight ?? My strength.??

A post shared by Tamaryn Green (@tamaryngreen) on

Omdat sy haar ouers, suster, Lauren (26), en kleinboet, Dawson (20), so min sien, het hulle die naweek lekker gesinstyd saam by die Sun City-vakansieoord deurgebring.

Sy het verskeie foto’s van hul "mini-vakansie" met haar 300 000 Instagram-volgelinge gedeel.

"Ek het ’n wonderlike naweek gehad en opgevang met my suster en broer. Met ons wat in verskillende provinsies werk en studeer, het ons skaars tyd saam. Om tyd vir my familie te maak is ’n prioriteit. Ek wens hulle ’n geseënde paar maande toe. Tot ons mekaar weer sien," skryf sy. 

Tamaryn, wat in Desember as eerste prinses in die gesogte Mej. Heelal-kompetisie aangewys is, is nie al Mej. Suid-Afrika wat medies geswot het nie.

Adè van Heerden (27), wat die Mej. Suid-Afrika-kroon gedra het nadat Demi-Leigh Nel-Peters (23) in November 2017 as Mej. Heelal gekroon is, is ’n gekwalifiseerde dokter.

En sy is nie al een nie. Rolene Strauss (26) was ook ’n mediese student aan die Universiteit van die Vrystaat toe sy as Mej. Suid-Afrika aangewys is. Nadat sy in 2014 as Mej. Wêreld aangewys is, het sy na die universiteit teruggekeer om haar studie te voltooi. Sy is ook deesdae die ma van ’n tweejarige seuntjie. 

Rolene het juis Tamaryn inspireer om in te skryf vir die Mej. Suid-Afrika-kompetisie. "Ek wou eers my studie voltooi, maar toe bewys sy ’n mens kan albei doen," vertel Tamaryn.