Die dokter se woorde het die wêreld onder haar voete uitgeruk.

In haar wildste drome het sy nooit gedink sy sal hoor sy het dié gevreesde siekte nie. Sy leef dan so gesond, en die siekte is nie eens in haar familie nie . . .Maar dis wat sy ná die mammogram gesê het: “Dit lyk soos kanker in jou linkerbors.”

Die aktrise en draaiboekskrywer Corine du Toit was net 41 toe sy op 8 Mei vanjaar dié skoknuus gekry. ’n Biopsie is dadelik gedoen en daarna moes die mooi donkerkop, wat ons as Jane Edwards in die gewilde M-Net-sepie Egoli leer ken het, twee dae wag vir die bevestiging: Sy het borskanker.

Met die mammogram was sy alleen by die dokter, maar toe sy die uitslag van die biopsie kry, was haar sterk en kalm man, die sakeman Rasmus Jensen (47), oftewel Raz, soos hy bekendstaan, by om haar te ondersteun.

“Die heel eerste gedagte wat deur jou kop gaan wanneer jy hoor jy het borskanker is jou kind. Ek het aanvanklik gedink dit is ’n doodsvonnis en wou vir hom baklei,” sê Corine oor die vierjarige Kiean, haar en Raz se seun.

Die skok was veral groot omdat sy en Raz sedert die begin van die jaar baie gesond lewe en sy eintlik nie beplan het om vir die mammogram te gaan nie. “Ons het ernstig begin dieet en oefen; ons het groot gegaan!” vertel sy.

“Maar ek het deurentyd nie lekker gevoel nie; iets in my liggaam was nie reg nie. Toe besluit ek om die dokter te gaan sien.”

Verskeie mediese ondersoeke is gedoen en haar suiker- en ystervlakke is onder meer getoets, maar die eindelike uitslag het haar verstom.

“Die dokter het gesê ek is 100% in menopouse. Ek wou lag; ek is dan nou eers 41 jaar oud!”

‘Ek dink die Here het my deur menopouse gesit om my lewe te red’ Foto; Fanie Nel

Haar moegheid het eindelik vir haar sin gemaak, het sy gedink. Ná die menopousediagnose het dokters hormoonvervangingsterapie aanbeveel.

Maar om mediese goedkeuring vir dié behandeling te kry, word ’n mammogram vereis om te verseker daar is nie kankerselle in die liggaam wat deur middel van dié terapie kan versprei nie.

So het die groot K sonder waarskuwing vir haar ’n werklikheid geword. Sy vertel haar lewe het “letterlik binne ’n oogwink verander” en sy moes, nadat die gewas uitgesny is en sy agt weke lank daarvan moes herstel, met bestraling begin. Maar vandag, ná intensiewe behandeling, kyk sy met dankbaarheid terug.

“Ek is een van die gelukkiges. Nee, dit was nie lekker nie, maar ek het daardeur gekom en ek was rustig. Baie mense suffer soveel meer met kanker.”

Dit is Corine se eerste tydskrifonderhoud sedert dokters haar op 10 September die wonderlike nuus meegedeel het dat sy, ná net vier maande se behandeling, kankervry is.

Huisgenoot ontmoet haar by haar huis in Fourways, Johannesburg, waar sy saam met Raz en klein Kiean woon.

“Raz was van die begin af positief en het tot aan die einde van alles saam met my sterk gestaan. Hy het bly sê: ‘It’s just a body; we’ll sort it out,’ ” vertel sy in ’n hees stem wat kort-kort dreig om heeltemal weg te gaan.

Sy sukkel die afgelope vier weke met verkoue en haar stem het veral daaronder gely. “My immuunstelsel is nog broos ná die bestraling, maar ek is al heelwat beter; jy kan my darem nou al hoor praat,” lag sy.

Benewens haar man is sy dankbaar vir haar naaste familie en vriende wat haar deur die 23 bestralingsessies bygestaan het.

“Ek kon nie veel doen nie. Ek het vir baie doktersafsprake gegaan en daar was tye dat ek letterlik nie die melk uit die yskas kon haal nadat my bors geopereer is nie. Ek mag nie my arms gelig het, bestuur het of swaar goed opgetel het nie. My hande was afgekap.”

Sy waardeer veral haar ma, Lulu du Toit, van Kaapstad se bystand en hulp met klein Kiean. “Sy was heeltyd hier en het my baie met hom gehelp.”

View this post on Instagram

A boy and his dog... #myloves

A post shared by Corine du Toit (@corinedutoit) on

Haar seun was immers die hoofrede waarom sy besluit het om die siekte te beveg en nie te gaan lê nie. Sy sê dit was aanvanklik vir haar moeilik om vir ander van die diagnose te vertel en sy het besluit om die nuus net met ’n uitgesoekte groepie mense te deel.

“Hoe sê jy dit vir iemand? Jy weet daar gaan ’n geskokte reaksie wees en dat jou mense gaan seerkry, maar almal het my so baie ondersteun.”

Vir Corine self was daar moeiliker en makliker dae.“Aan die begin het ek baie op en af dae ervaar, maar ek is gelowig en het eindelik rustig geword. Ek dink die Here het my deur menopouse gesit om my lewe te red, want as dit nie daarvoor was nie, sou ek my nooit vir kanker laat toets het nie.”

Dit is juis die een ding wat sy vir alle vroue wil sê – om hulself gereeld te ondersoek. “Dit is so belangrik om selfondersoek te doen. As jy nie weet wat ‘normaal’ voel nie, gaan jy nooit weet wat ’n ‘abnormale’ gevoel is nie. Leer ken jou borste en voel gereeld vir ’n moontlike knop. Ek wens vandag ek het dit gedoen.”

En ja, sy het wel met tye aan die dood gedink, maar sy het bly vertrou.

“My lewe is in God se hande. Ek het aanvaar as dit beteken dit is die einde van my pad, dan is dit so. Ek het natuurlik gehoop en gebid dat dit nie my tyd sal wees nie, want my seuntjie is nog jonk. Wanneer ek vir bestraling gegaan het, het ek na potsendings van (die Christelike motiveringsprekers) Joyce Meyer en Joel Osteen geluister om my moed te gee.”

VANDAG kyk sy met ander oë na die lewe en benader sy gesondheid op ’n holistiese wyse. “Ek besef ek het ’n tweede kans gekry. Ek waardeer die lewe soveel meer en let op na wat ek in my liggaam sit.

“Die kosse wat ons eet, is so belangrik. Groente en vrugte skakel kankerselle af, terwyl die gemors wat ons eet dit aanskakel. Ek probeer ook om my seuntjie van jongs af op ’n gesondheidspad te sit sodat dit deel kan word van sy lewe. Ons as ouers is ons kinders se leermeesters, en ek wil hê hy moet by my leer.”

Sy en haar gesin eet nou net organiese kos en drink daagliks groen smoothies. “Ek besef nou ’n mens is absoluut wat jy eet. Jy het een lewe en een liggaam. As jy jou liggaam voed, gaan jy dit beskerm.” Haar boodskap van hoop aan ander vroue met borskanker is om dit nie as ’n doodsvonnis te beskou nie.

“Haal diep asem en moenie paniekerig raak nie. Dit gaan jou oë oopmaak en jy gaan die lewe op ’n splinternuwe manier sien. “Probeer ook om altyd op die positiewe te fokus.”

En wat het sy van haarself geleer?

“Dat ek in moeilike situasies kalm kan bly en nie uit-freak nie. Hierdie ding het my baie nader aan die Here gebring. Ek is van nature ’n control freak en het geen ander keuse gehad as om my heeltemal in sy wil te berus nie.

“Ek kyk beslis met ander oë na die lewe.”