Die Amerikaanse presidentsvrou, Melania Trump, het nou om al die verkeerde redes opslae gemaak.

Melania, wat teen die skeiding van immigrantgesinne gekant is, het Donderdag onverwags die kinders besoek wat van hul ouers by die Mexiko-grens geskei is.

Maar haar groen kakiebaadjie met die frase: “I don’t really care, do you” het die aandag getrek.

Melania Trump se baadjie met die frase “I don’t realy care, do you” wat wyd kritiek ontlok het. Foto: Gallo Images/Getty Images

Melania het die baadjie gedra op haar vlug na McAllen in Texas om ’n skuiling vir kinders te besoek en dit boonop net ’n dag nadat haar man ’n uitvoerende bevel onderteken het om nie die immigrante en hul kinders te skei nie.

Al het die baadjie mense die josie in gemaak, is sy weer gewaar met die baadjie toe sy na Washington terugkeer.

Pres. Donald Trump het sy vrou se stylkeuse probeer verdedig deur te twiet die woorde op die baadjie verwys na die media wat vals nuus versprei en nie die kinders wat sy besoek nie.

“Melania het geleer hoe oneerlik hulle is en sy gee glad nie meer om nie,” lui sy inskrywing.

Melania word met haar aankoms gegroet deur verskeie militêre personeel voordat sy op die vliegtuig klim. Foto: Gallo Images/Getty Images

Haar man se kommentaar is egter in teenstelling met dié van haar woordvoerder, Stephanie Grisham. “Dis ’n baadjie. Daar is geen versteekte boodskap nie,” het sy aan Daily Mail gesê. 

Dit is nie die eerste keer dat Melania gekritiseer word vir haar omstrede modekeuse nie. 

Sy het verlede jaar hoë hakke gedra toe sy en Trump Houston in Texas besoek het om steun te wys nadat die storm Harvey verwoesting gesaai het. 

Bronne: DailyMail, BBC News, The Telegraph