Sy kon soos ander popsterre verskiet het ná haar tyd in die kollig en net in die herinnerings van nostalgiese aanhangers voortgeleef het. Maar nie Victoria Beckham nie. Ná haar jare as een van die Spice Girls het sy éérs die leer geklim.

Sy het ’n suksesvolle modebaas geword wie se klerereeks op internasionale loopplanke vertoon word, haar huwelik met die oud- sokkerster David Beckham (43) hou al amper twee dekades en hulle is die toegewyde ouers van ’n kroos van vier.

Maar tog loop die 44-jarige miljoenêr kort-kort deur onder geniepsige kritiek. As dit nie haar stroewe gesigsuitdrukking is wat die bitterbekke laat skinder nie, is dit haar eetgewoontes.

Onlangs is sy weer oor ’n onbenulligheid bygekom, dié keer nadat sy in New York ’n praatjie gelewer het op die onlangse Forbes-vroueberaad, ’n saamtrek waar invloedryke mense hul kennis en insig deel.

Dit is as ’n informele gesprek oor haar sakeonderneming en loopbaan bemark. Victoria het haar beste gegee.

Sy het selfs oor persoonlike sake gepraat, soos haar huwelik en hoe sy moet bontstaan om ’n balans tussen haar persoonlike en beroepslewe te handhaaf.

En tog, ondanks haar openhartigheid, moes sy weer kritiek verduur, dié keer omdat sy durf waag het om te vra dat die 300 teenwoordiges nie foto’s van haar neem nie. En toe doen gerugte sommer die ronde dat haar huwelik moontlik op die rotse is.

Maar Victoria het juis tydens dié geleentheid vertel hoe mooi David haar ondersteun.

“Ons is waarlik gelyk wat huissake betref. Wanneer ek weg is, vat hy die kinders skool toe en maak hy kos.” Sy het ook gesê sy doen haar bes om ’n goeie ma te wees. En dat sy haar nie steur aan wat mense sê nie. “Ek het vandat ek 19 was in die openbare oog grootgeword.

Die dae toe ek my bekommer het oor wat mense van my sê, is lank verby.” Dis dalk maar goed sy steur haar nie aan die gedurige aanmerkings nie, want dit blyk haar kritici sal maar altyd iets kry om Posh oor te kap – kyk net hoe het sy onlangs deurgeloop.

Haar 'gevaarlike maer' modelle 

Toe sy die nuwe brilrame vir haar lente/ somer 2018-reeks bekendstel, was dit nie die brilreeks nie, maar die grootte van haar model, die Litouer Giedre Dukauskaite (foto), wat die tonge laat klap het.

“Ai, Victoria, hoe teleurstellend dat jy ’n uitgeteerde model gebruik,” was een se kommentaar.

“Nie iets waarop jy trots behoort te wees nie en nie ’n goeie voorbeeld vir jou dogter nie.” “Dis ’n gevaarlike beeld om aan jong vroue te verkoop,” het nog ’n gebruiker op Instagram laat hoor.

“Geen maatskaplike verantwoordelikheid nie.”

Die model se grootte het die tonge behoorlik laat klap. Foto: Instagram

Dis nie die eerste keer dat Posh, wat in 2010 onderneem het om net gesonde modelle te gebruik, hieroor onder skoot kom nie. Die vroue wat sy in haar lente/somer 2016-vertoning gebruik het, is ’n “geraamteparade” genoem.

“Hulle is jonk; hulle is maer,” het Posh destyds teruggekap, “maar dit beteken nie hulle is siek nie.”

Koebaai, Spice Girls- en dis haar skuld 

Die Spice Girls se wêreldtoer sou einde September begin het, maar omdat Posh Spice (middel agter) blykbaar so moeilik was, is hul toer van R2,7 miljard afgelas. “Die Spice Girls is in ’n chaos.

Al het Victoria altyd gesê sy sal nooit weer toer nie, het die ander lede, Melanie Chrisholm (links agter), Emma Bunton (regs agter), Melanie Brown (links voor) en Geri Halliwell, geglo die groep se oorspronklike bestuurder, Simon Fuller, sou haar kon ompraat,” het iemand in die binnekring aan die Britse poniekoerant The Sun gesê.

Simon is glo juis nog ’n rede vir die mislukte toer – en weer is Victoria in die middel vasgevang.

“Simon is gevra om haar te oorreed om die aanbod te aanvaar,” sê die ingeligte, “maar noudat hy misluk het, voel die groep hy het hulle net gebruik om sy naam weer in die nuus te kry.”

Die ander Spice Girls het Posh glo gekonfronteer en daarop aangedring dat sy tussen hulle en Simon kies.

Melanie Chrisholm (links agter), Emma Bunton (regs agter), Melanie Brown (links voor) en Geri Halliwell, Foto: Instagram

Posh het glo Simon se kant gekies, “die man wat die Beckham-handelsmerk tot ’n sakeryk van dermiljoene ponde ontwikkel het”.

Haar vrugtige verjaardag-'koek' 

Posh was nog altyd openlik oor haar gesonde leefstyl.

Sy het al in 2014 aan die tydskrif Elle gesê: “Ek eet baie gesond. Ek eet baie vis, baie groente en baie vrugte. Ek oefen ses of sewe dae per week.”

Maar haar Instagram-volgelinge was onlangs geïrriteerd met haar verjaardagkoek – ’n waatlemoen wat in die vorm van ’n koek gesny is met bessies bo-op.

“Jy ontneem jou van ’n regte koek op jou verjaardag,” het een geskryf.

“Kan jy nie net een dag normale koek eet nie?” het ’n ander een gevra.

Dit was nie die eerste keer dat sy op haar verjaardag aan ’n bord vrugte weggelê het nie. In 2012 het sy ’n foto van haar verjaardagete – ’n bord vol vrugte – met haar Twitter-volgelinge gedeel.

“Verjaardagete! So ’n lekker dag!” het sy daarby geskryf.

Foeitog, het die lekkerbekke gedink...

Altyd op hul perdjie 

Soos enige ander ma wou sy net ’n kiekie van haar dogter deel, maar toe Posh ’n foto van klein Harper op ’n perd se rug in die sosiale media plaas, was die gort gaar onder haar 21 miljoen Instagram-volgelinge.

Hulle het die kroon op die perd se flank gesien en Posh daarvan beskuldig dat sy die perd laat brandmerk en hom dus seergemaak het.

Riding in the sunshine ?? kisses from Harper and her prince ?? x #mummytime x

A post shared by Victoria Beckham (@victoriabeckham) on

’n Paar van haar volgelinge het haar verdedig. “Wat ’n mooi foto,” het ’n aanhanger geskryf. “Die kommentare is skreeusnaaks.

Dis hoe die perd se hare gesny is – gaan kyk op Google hoe dit werk. Klim tog net van jul perdjie af.” “Die kommentare is baie snaaks,” het ’n ander een bygevoeg, “maar ek is seker sy het dit verwag.”

‘Victoria lyk asof sy op pad is na ’n begrafnis. Glimlag daai vrou dan nooit?’

Kan sy dan nooit glimlag nie? 

Toe die Beckham-egpaar by prins Harry en Meghan Markle se troue opdaag, het Victoria nie heeltemal so vrolik soos die ander gaste gelyk nie. Inteendeel.

“Victoria Beckham lyk asof sy op pad is na ’n begrafnis. Glimlag daai vrou dan nooit?” wou ’n Twitter-gebruiker weet.

Miskien is dit omdat sy tevore nogal sleg oorgekom het toe sy lewendiger voor die kameras probeer wees het. In ’n video vir haar tweede grimeerreeks vir Estée Lauder het sy haar bes gedoen om haar optrede meer lewe te gee.

Victoria en David by Harry en Meghan Markle se troue. Foto: Gallo Images/Getty Images

Maar die kykers het gekla sy lyk vervelig en soos ’n houtpop. Sy het weer opgeruimd probeer voorkom toe sy ’n grimeerles vir This Morning op ITV moes aanbied.

Sy het grappies gemaak terwyl sy gewys het hoe om bleek lipgrimering aan te wend.

En weer is die kykers koud gelaat. “VB is so ’n natuurlike aanbieder... het niemand nog ooit gesê nie,” het een getwiet.

’n Ander een het voorgestel sy los haar werk, wat dit ook al is. Sedertdien sien ’n mens haar byna nooit glimlag nie.

Bronne: DailyMail, BramptonGaurdian.com, The Sun, Independent.co.uk, HarpersBazaar.com, WomensHealthMag.com, Cosmopolitan.com