CENTURION, SOUTH AFRICA - 1 August 2009: The new M
’n Gewese finalis van die Mev. Suid-Afrika-kompetisie beskuldig die skoonheidskoninginne Joani Johnson (links) en Cindy Nell-Roberts daarvan dat die organisasie net ’n “geldmaakskema” is waar finaliste geboelie word. Foto: Facebook/Ace Models

Haar eens glansryke lewe as ’n voormalige Mej. Suid-Afrika, suksesvolle sakevrou en ma van twee het eensklaps in “ ’n lewende nagmerrie” ontaard.

Sy is al nagte lank slapeloos, huil ontroosbaar en sukkel om te fokus, sê Cindy Nell-Roberts noudat sy haar midde-in ’n storm bevind wat om die Mev. Suid-Afrika-skoonheidskompetisie losgebars het. 

Die onweerswolke het kort ná die kroningsaand in Maart vanjaar begin opsteek toe een van die top-25-finaliste, Chandré Goosen-Joubert, die organiseerders van die kompetisie onder meer daarvan beskuldig het dat dit ’n geldmaakskema is.

Sy het ook gekla dat sy geboelie en misbruik is om geld in te samel vir Women4Women, ’n liefdadigheidsorganisasie waarvan Cindy die uitvoerende hoof is.

En nou waai die hare met mening – tot in die hooggeregshof in Kaapstad waar Joani Johnson, die eienaar en hoof van die Mev. Suid-Afrika-organisasie, ’n dringende aansoek gebring het om te keer dat Chandré (37) die Mev. SA-organisasie “verder beswadder”. 

Maar dié aansoek is aan die einde van Junie van die hand gewys omdat die hof dit nie as dringend beskou het nie. Dit sal wel in Oktober aangehoor word.

Intussen bevind Cindy haar in die spervuur. “Met die eerste inperking verlede jaar het ek en my dogtertjie video’s gemaak en koeke gebak,” vertel die ma van Aenea (7) en Ethan (9).

“Nou is daar net trane en ontsteltenis; ek kan kwalik ophou huil. Dit voel asof ek gestraf word omdat ek vir ander probeer goed doen. Hierdie bewerings het so ’n drastiese impak op my lewe, ek kan nie eens vir my kinders kosmaak sonder om in trane uit te bars nie. Hulle soek net die liefde en aandag van hul ma, maar sy is stukkend,” sê ’n emosionele Cindy aan Huisgenoot.

CENTURION, SOUTH AFRICA - 1 August 2009: The new M
Chandré het die top-25-finaliste in die Mev. Suid-Afrika-kompetisie gehaal. Foto: Facebook/Chandré Goosen-Joubert

“Ek voel misbruik, geboelie en verneder,” sê Chandré op haar beurt. Sy beweer sy moes tydens haar jaar as Mev. Suid-Afrika-finalis byna R2 miljoen uit haar eie sak opdok en “soos ’n slaaf werk” in haar vergeefse stryd om die kroon. 

Terwyl die grootbase agter die gesogte Mev. Suid-Afrika-skoonheidstitel die kompetisie as ’n bemagtingsplatform vir vroue bestempel, sê Chandré sy is glad nie daardeur bemagtig nie. Pleks daarvan is sy “agter die skerms verskreeu en swak behandel”, sê sy.

“Ek was tevore in ’n verhouding waar ek amper elke dag fisiek en emosioneel mishandel is. Ek kon die trauma van my verlede verwerk en het gehoop ek kon ander vroue daarmee bemagtig, maar ná die kompetisie is ek opnuut gebroke.

“Ek was vir hulle net ’n pion – een wat goed daarmee is om geld in te samel.”

En met dié geld wat aan Women4Women betaal is en vir liefdadigheid bedoel was, het daar ongerymdhede plaasgevind, beweer Chandré verder.

Die “onwaar en ongegronde kritiek” het haar diep seergemaak, sê Cindy, Mej. Suid-Afrika van 2002 en die stigter van Women4Women. “Ek is onseker wat Chandré se doel met hierdie vendetta van haar is,” kap sy terug. 

“Hierdie vroue ís bemagtig, ek sien die verandering in hulle duidelik. Ons doen alles volgens wet en sal ons boeke vir enigiemand beskikbaar stel. Ek is gedaan en bitter hartseer nadat ek in die afgelope weke lasterlike aantygings en leuens moes verduur het. 

CENTURION, SOUTH AFRICA - 1 August 2009: The new M
Cindy en Joani in 2009 toe Joani as Mev. Suid-Afrika gekroon is. Foto: Gallo Images/Foto24/Brendan Croft

“Ek verstaan steeds nie waarom sy my by die sage betrek nie – ek kan my net voorstel dat sy hoop my bekende naam sal haar bewerings gewig laat dra en aandag trek.”

Ook Joani, wat self die Mev. Suid-Afrika-kroon in 2009 gedra het, ontken Chandré se bewerings. 

“Ek is al 10 jaar lank by Mev. Suid-Afrika betrokke en beskou myself as ’n sterk mens, maar hierdie valse bewerings en hul rimpeleffek het my geknak. Ek is op breekpunt,” sê sy. “As gevolg daarvan ly ek aan angstigheid – my geestesgesondheid het ’n knou gevat.”

Chandré se aanvalle is “niks anders as dié van ’n ontevrede verloorder nie”, sê sy reguit.

“Ek het vir haar slegte nuus, maar die kroon is nie te koop nie. Dis waar dat Chandré baie geld vir die liefdadigheidsorganisasie ingesamel het, maar ek kan amper nie help om te dink sy het daarom gedink die kroon is hare nie.”

Ja, die emosies het dalk soms hoog geloop, gee sy toe, maar sy ontken dat Chandré ooit verskreeu of geboelie is.

“Die kompetisie ís harde werk, maar ons was deursigtig oor wat van die finaliste verwag word. Hulle het van die begin af geweet die kompetisie is nie net lipstiffie en hoë hakke nie.”

CENTURION, SOUTH AFRICA - 1 August 2009: The new M
Sy is misbruik, sê Chandré Goosen-Joubert. Sy is as Mev. Liefdadigheid gekroon, maar het dié titel van die hand gewys. Foto: Gallo Images/Foto24/Brendan Croft

‘Ek is misbruik vir eie gewin’

Die rusie tussen die drie skoonheidskoninginne het kort ná die kroningsaand op 18 Maart vanjaar losgebars. By die glansgeleentheid by Emperors Palace in Kempton Park is die gesogte Mev. Suid-Afrika kroon op Thenjiwe Mdluli se kop geplaas. Chandré is wel as Mev. Liefdadigheid aangewys, maar het ’n paar dae later dié titel van die hand gewys.

Sy het kort daarna haar mond oor die Mev. Suid-Afrika-kompetisie in die sosiale media begin uitspoel en later ook in die media.

“Die kompetisie is ’n skande vir vroue,” sê Chandré aan Huisgenoot. “Hulle misbruik ons vir eie gewin.” 

Sy beweer die Mev. SA-organisasie het nooit aan deelnemers verduidelik hoeveel dit sou kos om om die kroon mee te ding nie – sy moes glo haar sak met R1,8 miljoen skud vir reis, verblyf en ander uitgawes. 

“Hulle laat jou goed verstaan dat jy dit nie tot by die kroon sal maak as jy nie vir hulle genoeg geld insamel nie. Jy word vooraf vertel jy moet borgskappe kry, maar dis eintlik net ’n sleutelwoord vir geld – dis al wat hulle soek,” beweer sy verbitterd.

Sy moes “in die middel van die pandemie” geldinsamelingsgeleenthede hou. Net met een byeenkoms het sy R136 000 vir Women4Women ingesamel, vertel Chandré. 

CENTURION, SOUTH AFRICA - 1 August 2009: The new M
Thenjiwe Mdluli (middel) is die nuwe Mev. Suid-Afrika. Sumaiya Omar (links) is die eerste prinses en Zikhona Ngxata die tweede prinses. Foto: Gallo Images/Foto24/Brendan Croft

Die finaliste se kontrakte is so streng dat dit “soortgelyk aan slawerny” is, sê sy. Hulle moes “die meeste van hul tyd deurbring deur geld in te samel”.

“Onderteken jy daardie kontrak – in my geval dié van Mev. Liefdadigheid – moet jy vir een jaar sonder vergoeding werk, dít terwyl jy konstant vir hulle geld verdien,” verduidelik sy haar besluit om dié titel te weier.

“Hulle het ons werkwinkels beloof wat ons sou oplei en bemagtig, maar daarvan het daar dadels gekom. Daarmee saam moes ons saam met afrigters werk wat ons sou afrig en oplei – dit het ’n verdere R75 000 beloop.”

Tydens een top-50-geleentheid in Johannesburg is sy deur ’n Mev. SA-bestuurslid “voor 250 gaste verskreeu en verneder”, sê sy.

“Ek het in een stadium my man gevra: ‘Wat doen ek hier?’ Hy het gesê ek is al so ver in en dat ek nie moet opgee nie. En ek het nie,” vertel Chandré, die ma van 11-jarige tweelingseuns, oor ’n gesprek met haar man, Olof Joubert. 

“Nou eis ek antwoorde. Ek wil weet wat hulle met al die geld maak wat ek vir hulle ingebring het. Dis dalk goed ek het nie gewen nie . . . Ek sou hulle op regstreekse televisie ontbloot het as ek daardie aand die kroon gewen het. En nee, dis nie suur druiwe oor ek nie gewen het nie. Dit gaan daaroor om ander te waarsku.”

CENTURION, SOUTH AFRICA - 1 August 2009: The new M
Cindy en haar man, Clive Roberts. Foto: Gallo Images/Esa Alexander

‘Ons het niks om weg te steek nie’

Dis nie Chandré wat geboelie is nie, dis eintlik hulle by die Mev. Suid-Afrika-organisasie, sê Joani in reaksie hierop. En dis nie die eerste keer nie, voeg sy by.

“Ons het in Augustus verlede jaar al ’n waarskuwing aan haar en nog ’n deelnemer gerig oor hul gedrag en hulle aangeraai om liefs die kompetisie te verlaat as hulle houdings nie verander het nie.”

Huisgenoot het dié aanmaning onder oë gehad, waarin daar ook beweer word dat Chandré haar aan intimidasie skuldig gemaak het.

En in ’n skriftelike waarskuwing wat die organisasie aan haar gerig het, sê hulle sy het tydens “een voorval op 9 Augustus 2020 opgetree op ’n manier wat nie gepas of professioneel was nie en nie getuig van die etos van die organisasie nie”. 

Maar teenoor Huisgenoot ontken Chandré dat sy dié waarskuwing ontvang het. Wat die aanmaning betref, sê sy dit was oor ’n geskil tussen haar en ’n ander finalis.

Sy wys daarop dat sy op die kroningsaand as die publiek se keuse van die wenner aangewys is en het ook die Businesswoman-prys ontvang. “Hoekom sal ek soveel titels wen as ek ’n probleem was?” wil sy weet.

In die finaliste se kontrakte is duidelik uiteengesit wat van hulle verwag word, sê Joani.

“Mev. Suid-Afrika werk op ’n borgskapmodel en ons het steeds koste om te betaal – produksiekoste, salarisse en ander oorhoofse koste is deel daarvan. Die finaliste is ook deeglik daarvan bewus dat hulle vir hul eie uitgawes verantwoordelik is tot – en indien – hulle die top-25 haal.” 

CENTURION, SOUTH AFRICA - 1 August 2009: The new M
Chandré het weer liefde gevind by Olof Joubert nadat sy lank in ’n verhouding was waarin sy mishandel is, vertel sy. Foto: Facebook/Chandré Goosen-Joubert

In dié kontrakte, wat aan Huisgenoot verskaf is, word uitgestippel dat die top-100-finaliste R24 000 plus belasting moet insamel. En dié van hulle wat die top-25 haal, moet dan weer dieselfde bedrag insamel deur onder meer kaartjies vir geleenthede te verkoop en borgskappe te werf.

Die geldinsamelingsgeleenthede en borgskappe is eintlik meer “leermediums waar vroue moet leer om hulself as ’n handelsnaam te verkoop”, verduidelik Joani.

“Ons het nooit van Chandré verwag om alles uit haar eie sak te betaal nie, die punt van die hele oefening was om haar – nes al die ander – te bemagtig om borge vir haarself aan boord te kry.

“Toe Chandré die top-25 haal, is hul reis en verblyfkoste na die kroningsgeleentheid in Johannesburg gedek. Twee finaliste moes ’n kamer deel – een waarvoor ons betaal het – maar sy het besluit om liefs haar eie kamer te bespreek.”

Wat van Chandré se bewerings dat sy verneder is en dat daar op haar geskree is?

“Ek dra geen kennis daarvan nie,” sê Joani. “ ’n Geskreeu voor 250 mense is eenvoudig nie waar nie, maar daar is tye wanneer ons almal spanning ervaar omdat ons wil hê alles moet seepglad verloop – die finaliste inkluis.”

Oor Chandré se bewering dat die beloofde bemagtigingswerkwinkels nooit gehou is nie, verduidelik Joani: “Ons was in die greep van ’n pandemie en het geen ander keuse gehad as om hierdie klasse aanlyn aan te bied nie, maar ons het van al die vroue gehoor hoeveel hulle daaruit geleer het. Die klasse het alles ingesluit, van finansiële raad en geestelike welstand tot fiksheid.”

As jarelange beoordelaar by die Mev. SA-kompetisie, was sy nog altyd verstom oor hoe die finaliste gedurende die proses verander en groei,” beaam Cindy.

“Ook Chandré is deur die hele proses nét opgehef,” meen sy.

Die finaliste word aangemoedig om geld in te samel, want die doel van die kompetisie is om in die gemeenskap terug te ploeg, verduidelik Cindy.

Women4Women vind baat by 70% van die geld wat deur die Mev. SA-organisasie ingesamel word, terwyl die res van die geld gebruik word om hul uitgawes te dek. Huisgenoot het verslae onder oë gehad oor sommige van die veldtogte waarby die organisasie betrokke is.

’n Onafhanklike ouditeursfirma en ’n boekhouer wat albei met die Women4Women-geld werk, het aan Huisgenoot bevestig geen fondse word “aan enige trustees betaal of beskikbaar gestel nie”. Cindy en Joani tel onder Women4Women se trustees.

“Daar is niks om weg te steek nie,” sê Cindy. “Ek nooi Chandré uit om saam met ons aan ’n tafel te kom sit sodat ons vir haar kan wys waarvoor elke sent aangewend is. Ons wil graag vir haar wys hoeveel ongelooflike, jong meisietjies se lewens ons met projekte verbeter en presies hoe ons die geld uitgee wat sy ingebring het.”

Nadat die ernstige aantygings oor die Mev. Suid-Afrika-kompetisie ’n mediaherrie ontketen het, het die gemoedere hoog geloop. Huisgenoot het ’n afskrif van ’n boodskap wat Chandré in dié tyd aan Cindy gestuur het. “Ons gaan lekker speel,” skryf sy daarin.

“Dis glad nie ’n dreigement nie – in geen sin van die woord nie,” sê Chandré hieroor en verduidelik: “Ek het dit gestuur omdat Cindy my sosiale media dopgehou het.”

Intussen vra Cindy haarself af wat agter die debakel steek.

“Ek het lank nagedink oor hoe sy moet voel en waarom sy dit doen, en ek kan dink dat sy baie pyn moet hê en dat sy regtig dink sy is misbruik – maar ook dat sy al daardie geld uitgegee het in die hoop om te wen,” sê sy oor Chandré.

“Daar is woede en frustrasie, ja, maar ook empatie. Ek het in die verlede self al baie geld aan rokke en afrigters bestee en gereis na kompetisies waarvan ek baie verloor het – ek het trouens die meeste daarvan verloor. Ek weet hoe teleurstellend dit kan wees, maar tog het ek my ervarings gebruik om ’n suksesvolle loopbaan te bou. Ek weet om te verloor kan net so kragtig wees as om te wen.”

Die omstredenheid het sy tol van haar geëis.

“My hart is stukkend. Ek is absoluut in flenters. Ek stort soveel van myself in hierdie werk, sonder om een sent terug te ontvang. My gesin moes toekyk hoe die vernedering my amper breek.

“Ek wil nie hierdie patetiese ou dingetjie wees wat al huilend is en vir wie mense jammer kry nie,” stel Cindy dit duidelik. “Maar dis die feite. Haar optrede was ongelooflik ontwrigtend vir my eie lewe en dié van my gesin. Ek wéét Chandré is kwaad omdat sy nie gewen het nie, maar haar wrede, ongenaakbare aksies is nie regverdigbaar nie.”

‘Die kroon is aan niemand beloof nie’

Wat sê van die ander deelnemers? 

Die Mev. Suid-Afrika-organisasie was vanaf die eerste dag deursigtig oor wat van die deelnemers verwag word, sê Ellenore Meyer, ’n finalis in die 2020-kompetisie. “Ons het geweet dat die meeste van die koste uit ons eie sak moet kom – minstens tot ons die top-25 haal.”

Sy is nie bewus van enige geboelie nie. “Ek stem saam dis harde werk, maar niemand dwing jou om dit te doen nie. Enige finalis kan enige oomblik uittree.”

Sy verskil ook van Chandré dat vroue nie deur hul deelname bemagtig of opgehef is nie, hoewel sy sal wil sien dat selfs meer vir die bemagtiging van vroue gedoen word.

Nog ’n finalis wat anoniem wil bly, sê die organisasie het sover gegaan as om tabelle op te stel waarin die uitgawes uiteengesit is.

“Die probleem hier is eenvoudig: Chandré het gereken die kroon is aan haar beloof, maar dit was nie. As Chandré dalk nie haar hele gesin na elke geleentheid saamgeneem het nie, was haar uitgawes dalk nie so enorm nie,” voeg sy by.

“Sy kan gerus onthou dat sy enige oomblik tydens die kompetisie net kon weggestap het – absoluut niemand het haar gedwing nie.”

  • Die saak tussen Chandré, die Mev. Suid-Afrika-organisasie en Women4Women word op 5 Oktober in die hooggeregshof in Kaapstad aangehoor.
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe