Vir sy miljoene aan­hangers was hy een van die beste sangers wat ooit geleef het. ’n Musikale genie met ’n talent so tydloos soos die moonwalk self, die danspassie wat sedert die 1980’s altyd met sy naam verbind sal word. 

Maar hy was ook ’n gefolterde karakter wat glo sy roem en rykdom misbruik het om seuns die hof te maak.

Hy het hulle glo met geskenke oorlaai en gemolesteer. Dié bewering is niks nuuts nie. Voor sy dood in 2009 het stories van kinder­mishandeling jare lank soos ’n kleed oor Michael Jackson se skouers gehang.

Maar ’n skokkende nuwe dokumentêr werp nou lig op die ware omvang van bewerings teen die sanger, en dit kan sy nalatenskap vir ewig verander. 

Michael Jackson
Wade Robson, Dan Reed, die regisseur, en James Safechuck het die dokumentêr gemaak. Foto: AP Pictures

Op die onlangse première van dié dokumentêr, Leaving Neverland, op die Sundance-rolprentfees in Utah, Amerika, was die gehoor teen die einde “doodsbleek” weens die grafiese en ontstellende inhoud van die fliek, berig The Guardian. 

Ná die vertoning was beraders by­derhand ingeval kykers steun benodig het.

“Dit was brutaal ontstellend,” sê ’n feesganger. “Ek het naar gevoel.” 

Die dokumentêr van vier uur lank beskryf in ysingwekkende besonderhede die misbruik wat twee mans na bewering as kinders verduur het toe Michael hulle ­bevriend en hulle tyd op sy Neverlandlandgoed in Kalifornië deurgebring het. 

Resensente loof die getuienis wat Wade Robson (nou 36) en James Safe­chuck (nou 40) gelewer het as “oorwel­digend sterk en oortuigend”. “ ’n Mens sal nooit weer op dieselfde manier na Michael Jackson luister nie,” sê David Ehrlich van die rolprentwebtuiste IndieWire.

“Jy sal trouens dalk nooit weer na hom wil luister nie.”

James was 10 toe hy en Michael mekaar ontmoet het nadat hy ’n rol in een van die popkoning se Pepsi-advertensies gekry het.

Hulle het vriende geword en Michael het so geheg geraak aan die seun dat hy na bewering ’n kamma-troue gehou het waartydens hy met die kind “getrou” het. 

In ’n toneel in die dokumentêr bewe James se hande terwyl hy die diamantring wat Michael vir hom gegee het uit ’n juweelboksie haal. Hy en Michael het die huweliksbelofte afgelê, sê hy, en selfs ’n huweliksertifikaat onderteken. 

Michael Jacskon,sanger
Michael Jackson saam met die 10-jarige Jimmy Safechuck op sy toervliegtuig in 1988. Foto: Gallo Images/Getty Images

James het die nagte saam met die sanger in sy bed begin deurbring en sê Michael het vir hom vertel hy het orale seks op hom uitgevoer terwyl hy geslaap het.

“Hy het gesê ek was sy eerste seksuele ervaring,” sê hy.

Hulle het glo “oral op Neverland” seks gehad, onder meer in die kasteel, swembad, solder en stasie.

Die landgoed was “met versteekte beddens en geheime plekke toegerus, soos ’n geslote, privaat losie met eenrigtingglas in sy rolprentteater” waar die beweerde mishandeling plaasgevind het. 

Hy beweer Michael het ’n “geheime ­teken” gehad vir wanneer hy seks wou hê: Hy sou James se hand vashou en sy palm met ’n vinger krap.

 James sê Michael het hom “driloefeninge” laat doen om te kyk hoe vinnig hy kon aantrek ingeval hulle betrap word. Daar was verskeie klokkies aan die deure wat na die instapkas in sy slaapkamer gelei het sodat hy kon hoor as iemand aankom.

Wade was net sewe toe hy en Michael mekaar ontmoet het. Hy en sy gesin het toe pas van Australië na Amerika getrek.

Hy was toe reeds ’n talentvolle danser.

Nadat hy Michael ontmoet en hulle ’n hegte vriendskap gesmee het, was sy ma, Joy, wat as ’n oorgeesdriftige dansma beskryf word, verheug. Sy het die verhouding aangemoedig. 

Wade het gou Michael se gunsteling geword. Die ster het “my met fakse bestook”, sê hy, en hom op sy troetelname, Little One of Doo Doo, genoem.

“En toe,” sê Wade, “het hy my sewe jaar lank misbruik.”

Wade het die eerste keer ’n nag op Neverland deurgebring nadat Michael vir Joy gevra het om haar seun te laat oorslaap terwyl die res van die gesin die Grand Canyon besoek. 

Michael Jackson
Neverland-landgoed is waar Michael jackson glo vir James en Wade seksueel misbruik het. Foto: Fotostock SA

Volgens Wade was dit die nag dat Michael orale seks op hom uitgevoer en hom toe oopmond gesoen het.

“Hy het vir my gesê: ‘Dit is hoe ons ons liefde toon.’"

Hy beskryf hoe Michael hom glo toe hy 14 was na sy hotelsuite genooi en probeer het om met hom seks te hê, maar dit was te pynlik.

Die volgende dag het een van Michael se assistente hom glo aangesê om “sy onderklere vir bloed te bekyk” en indien nodig van die broek ontslae te raak.

James en Wade is op die ou end uit Michael se lewe geskuif toe jonger seuns sy binnekring betree.

“Jy was nie meer spesiaal nie,” sê James.

Ná die première het die regisseur daarvan, Dan Reed, saam met James en Wade op die verhoog verskyn.

Hy het die moed geprys van die twee mans wat hoop dat hulle deur die verbreking van hul stil­swye ander slag­offers van seksuele mishandeling sal help na vore kom.

James het verklaar: “Ge­heime sal jou opvreet.”

Veral Wade, ’n gevierde choreograaf, loop nou deur onder van Michael se aanhangers en familie. Hulle beskuldig hom daarvan dat hy die ster jare ná sy dood verraai.

Wade het vierkant agter Michael gestaan toe Evan Chandler, pa van die toe 14-jarige Jordan, hom in 1993 daarvan beskuldig dat hy ’n kindermolesteerder is.

Wade en ’n vriend, Brett Barnes, het destyds ’n mediakonferensie toegespreek waarin albei gesê het hulle het met Michael ’n bed gedeel, maar niks seksueels het gebeur nie.

Die Chandlersaak is later buite die hof geskik – glo vir $22 miljoen (toe sowat R72 miljoen).

In 2003 het Wade weer vir Michael opgekom toe Gavin Arvizo, wat kanker oorleef het, beweer Michael het hom ver­skeie kere gemolesteer.

Die saak is later verhoor, en Wade het in die getuiebank gestaan om te vertel van die meer as 20 keer dat hy by Michael oorgeslaap en hoe daar nie een keer iets onbehoorliks gebeur het nie. 

“Jare lank het sy Wade aanhou vra of dit waar was, en hy het altyd volgehou niks het gebeur nie.”

Michael is toe vrygespreek. Maar nou sing Wade ’n ander deuntjie.

“Ek verstaan hoekom dit moeilik is om te glo,” het hy ná die dokumentêr se première sy vroeëre ontkenning en stil­swye verduidelik.

“’n Mens kan net iets aanvaar en verstaan wanneer jy gereed is om dit te doen.” 

Wade se ma was met afgryse vervul toe sy haar seun se vertellings van misbruik hoor.

“Joy was geskok,” sê ’n familiebron. “Jare lank het sy Wade aanhou vra of dit waar was, en hy het altyd volgehou niks het gebeur nie.”

Taj Jackson (45), ’n neef van Michael, beskuldig Wade en James daarvan dat hulle geldhonger leuenaars is. 

“Ek en my familie ken Wade en sy gesin sedert hy Amerika toe gekom het. Moenie vir my sê ’n vier uur lange, eensy­dige karaktermoord is geloofwaar­diger as mense wat hom werklik geken het nie,” het hy op Twitter getier.

“Dit gaan alles oor geld en die desperate behoefte om weer relevant te wees.” 

Maar die regisseur, Dan, sê geld speel nie ’n rol nie. “Wade en James is op geen manier, direk of indirek, betaal nie,” het hy aan The Hollywood Reporter gesê.

“Die familie is nie vergoed nie. Daar was niks. Geen vergoeding van enige aard nie. Ek dink dis belangrik om dit te noem.” 

Michael se boedel noem die rolprent “ ’n verregaande en patetiese poging om Michael Jackson uit te buit en te melk”.

Maar James en Wade bly onwrikbaar. Albei worstel met depressie, angstigheid en selfhaat. “Ek dink nie tyd genees dié een nie,” sê James. “Dit raak net erger.” 

Bronne: Rolling Stone, US Weekly, The Mirror, Los Angeles Times, Daily Mail, Variety, The Guardian