Dit was asof dit oornag gebeur het. Een oggend, net so meer as sewe jaar gelede, het ’n onvergenoegdheid binne haar kom vasskop.

Michelle Botes
Nadat die aktrise Michelle Botes haarself sewe jaar lank in die Knysnawoud afgesonder het om “heel te word” en na haarself te soek, lag sy weer – en leef sy weer voluit. Foto: Lubabalo Lesolle

Sy het skielik ophou glimlag; haar vurige lewenslus was weg. Dit het gevoel asof sy haarself verloor.

“Ek was uitgebrand. Finished. Ek was nie meer lus vir die lewe nie,” erken die aktrise Michelle Botes vandag. 

Skielik was dit asof die gewoel van die Goudstad haar smoor – die einste stad waaruit sy soveel jare vreugde geput het. En sy kon dit nie peil nie.

Sy het tog alles gehad waaroor sy ooit kon droom: ’n roemryke loopbaan vol hoogtepunte, ’n “uber-luukse” woonstel in die gesogte buurt Killarney, twee mooi kinders. Maar tog was dit asof daar ’n sluier van troosteloosheid oor haar lewe getrek was.

Sy was wroegend en weemoedig, en op daardie einste oggend het alles net te veel geword.

“ ’n Mens word vasgevang in die malende kolk van die lewe,” filosofeer Michelle (58) amper melancholies.

“En dis seker hoe dit moet wees, ten minste vir ’n tyd lank. Jy ry die een golf ná die ander. Jou lewe is ’n hoëspoedjaagtog, ’n aanhoudende een. Jy ignoreer die slae van die lewe en die konstante moegheid. Dan tref dit jou wanneer jy dit die minste verwag: Jy kan nie meer nie.”

En dan, met daardie einste gravitas waarmee sy ikoniese rolle soos dié van die superfeeks Cherel de Villiers in die sepie Isidingo vertolk het, sê sy: “Ek was moeg: fisiek, emosioneel en spiritueel.”

Die grootste rolle in haar lewe en loopbaan het tot ’n einde gekom. Dit was middel 2013 en haar karakter Cherel het finaal, of altans soos Michelle toe geglo het, van SABC3-kykers se skerms verdwyn.

Haar kinders, Cara (toe 23) en Daniel (toe 19), uit haar huwelik met die akteur Ian Roberts, het net ’n paar jaar tevore uitgetrek.

“Jou lewe maak ’n doodstop, en ’n mens vra jouself: Wat nou?” beskryf sy die moedverlore gevoel wat destyds oor haar gesak het.

In haar lewenspad het twee roetes uitgestrek gelê: Kom weg of kwyn weg. Toe verkoop sy al haar “bagasie” – haar huis en byna al haar besittings – klim in haar klein sportnutsvoertuig en gaan vestig haar byna 1 200 km verder tussen die boomtoppe van die Knysnawoud.

Ver weg van die gewoel van die stadslewe waaraan sy soveel jare gewoond was, het Michelle daar in die Tuinroete ure langs die strand gestap, hout gekap, vuur gemaak en heel geword.

“Ek wou nie meer alles beheer nie. Ek het oorgegee; ek het vry geword,” sê sy.

Nou, ná sewe jaar, is sy terug in Johannesburg, en sy glimlag weer. Die aktrise is binnekort weer op ons kassies te sien in die nuwe sterbelaaide telenovelle Legacy op M-Net.

Michelle Botes
Michelle het die rol van Princess in dieTV-reeks Arende vertolk. Foto: Netwerk24

Sy speel Angelique Price, die eksvrou van ’n magnaat wat vervang is deur groener – en jonger – weivelde.

“Dit voel asof ek aan die drumpel van ’n nuwe begin staan,” sê Michelle. “Ek lag weer en leef weer voluit. Ek is weer heel.”

Jy hoor haar effens heserige stem deur die huis weerklink nog lank voor sy vriendelik kom groet. Dis al namiddag, en Angelique is in die middel van ’n enorme familietwis hier in die buitegebied van ’n herehuis in die noorde van Johannesburg.

Luister jy fyn, hoor jy die twis gaan oor geld – en natuurlik ook oor mag. Oor en oor speel die twis hom uit.

Elke keer is daar ’n disharmonie van stemme wanneer die stryery tussen die familielede aan tafel sy piek bereik. En dan, ná ’n aantal probeerslae, hoor jy die regisseur sê: “Cut! That’s a wrap.”

Michelle Botes
Sewe jaar gelede was sy emosioneel, fisiek en psigies uitgebrand, sê Michelle. Maar nou is sy weer lus vir die lewe – en opgewonde oor haar jongste tele­visierol. Foto: Lubabalo Lesolle

Michelle is nog as haar karakter Angelique geklee toe sy kom groet en beleefd verskoning maak vir die verfilming van die dag se laaste tonele wat die spertyd effens verbygesteek het.

In lewende lywe lyk dit asof Vader Tyd van haar vergeet het. Op 58 is die immergroen Michelle nog net so mooi soos altyd. Haar vel glinster, en aan haar petite lyf is daar sweerlik nie ’n gram te veel nie. En sy is beskeie. Komplimenteer jy haar, antwoord sy dadelik:

“Dis die grimeerkunstenaars se goeie handewerk!” Tog gee sy toe: Haar sewe jaar “in die bos” – soos sy na haar tyd in die Knysnawoud verwys – het haar laat gloei.

Sy het vir ses jaar ophou rook, vertel Michelle terwyl sy ’n sigaret tussen haar linkerduim en -wysvinger vasknyp.

“Ek kan nie dink dat ek een keer vir myself in die spieël gekyk het nie,” laat sy hoor.

“Oeg, dit was wonderlik. Ek het nooit grimering gedra nie; ek was nooit bekommerd oor hoe my hare lyk nie. Ek het van my selfoon vergeet en van die gejaag van die lewe.”

In 2013, kort nadat sy die karakter Ingrid Jordaan in die sepie Binneland Sub Judice (wat ons nou as Binnelanders ken) gespeel het en daarna weer ’n kort verskyning as Cherel in Isidingo gemaak het, was sy oormoeg en oorwerk.

Michelle Botes
Sy is af en toe te sien in die rol van Ingrid Jordaan in Binnelanders. Foto: Facebook/Binnelanders

Teen daardie tyd was sy al byna drie dekades lank in die televisiebedryf en boonop ’n voltydse ma vir Cara en Daniel ná haar egskeiding van Ian. “My immuunstelsel was afgetakel,” onthou Michelle.

“Ek sou veluitslae kry van die geringste ding; volgestop met kortisoon om die pas vol te hou. Ek was uitgeput en kon net nie meer nie.”

Dit het skielik gebeur. Haar TV-karakter het nog nie eens die deur behoorlik agter haar toegetrek teen die tyd dat Michelle in ’n stampvol motor die langpad na die Wes-Kaap aangedurf het nie. Dié keer was daar geen beplanning nie.

“Ek onthou hoe ek Wildernis vir die eerste keer ervaar het,” sê Michelle. “Dit was magies, daardie skoonheid. Toe hou ek stil – vir sewe jaar.”

Sy wou haarself “gaan vind”, sê Michelle.

“Ek wou al die dinge uitsorteer waarvoor ek in soveel jare nie kans gesien het nie. Ek wou die donker weer ingaan; my kern gaan soek. Ek het nie meer geweet wie ek is nie.”

Daar in die Knysnawoud het sy ’n houthuis gehuur, waar sy die meeste van haar tyd deurgebring het. En sy’t “lekker mal geraak”, spot Michelle.

Michelle Botes
Michelle is van 21 September in die M-Net-telenovelle Legacy te sien. Sy vertolk die rol van Angelique Price, ’n oudprokureur wie se man haar vir groener weivelde verruil het. Foto: Lubabalo Lesolle

“Ek het verskriklik ryk gevoel, al het ek niks gehad nie. Ek het alles verkwansel, elke ding, om myself te soek. Dit het my psige lank geneem om die skielike stilstand te verstaan, veral ná soveel jare. Skielik het niks my meer gejaag nie, en dit was ongelooflik.

“Dae aaneen sou ek bloot ure langs die strand stap. Of ek sou vuur maak en lees, in stilte sit en die natuur bewonder. Ek het ’n punt bereik waar dit nie meer saak gemaak het waar ek is nie. Die lewe was weer groter as ek. Ek kon weer lag; ek kon weer na dinge uitsien,” vertel sy.

Maar toe stroop die lewe in 2016 haar weer van haar glimlag. Die nuus was hartverskeurend: Iemand na aan haar het kanker.

“Dis asof ek daar tussen die boomtoppe vergeet het hoe hard die lewe kan klap,” onthou Michelle oor die nuus.

“Jy is stukkend; jy is kwaad. Al jou honderde vrese word geïgnoreer. Net gesondheid maak saak.” Dié persoon het vir ’n jaar by Michelle gaan woon voor hy herstel het.

“ ’n Mens besef nooit eintlik hoe hard jy baklei tot jy ophou nie,” sê Michelle. “Daardie jaar het ons lewe verander en ek het eers later besef hoe ’n groot tol dit geëis het.”

Afgesonder in haar jare in die woud was dit Michelle se kinders wat vir haar ’n lewensaar was. Daniel het sowat drie jaar ná sy ma in haar voetspore gevolg en op ’n ontdekkingsreis deur die wêreld gegaan. Hy werk tans op ’n luukse passasiersboot.

Cara is ’n teateraktrise en woon in Durban. En al was die verlange na haar kinders en die wêreld soms oorweldigend, wou sy nie terugkeer na die Goudstad nie – nie voor sy heel was nie.

“Ek het besef ek sal nooit weer die lig in my lewe kan omhels as ek nie die donkerte ingaan nie. Mý donkerte – die tyd waarin ek weer moes besin oor myself en oor die lewe; toe ek weer moes leer lag en van voor af moes leer leef. Ek kon nog nie teruggaan nie,” sê sy.

En sy het nie. In haar sewe jaar in die Knysnawoud het Michelle in vyf verskillende houthuisies tussen die boomtoppe gewoon.

Die trekkery was elke keer ’n enorme pyn, sê sy en spot: “Ek het elke keer vir die eienaars by wie ek gehuur het, gesê ek bring waarskynlik goeie geluk na die plekke, want nes ek intrek, verkoop die plek. Dan moet ek weer van voor af soek na my volgende tuiste.”

Daar in die woud het sy aan veel meer as net haar psige gewerk. Sy het ook haar leefstyl verander. 

‘Ek was uitgebrand. Finished. Nie meer lus vir die lewe nie’

“Ek moes leer om gluten en melkprodukte uit te sny. En toe ek dit doen, toe verloor ek sommer my boude!” vertel sy spottend en lag.

“Maar dis waaroor dit eindelik vir my gegaan het: om heeltemal gesond te word. Ja, vir my was die grootste ding dat ek nie meer gelag het nie – nooit. Maar ek wou fisiek ook gesond wees.

“Ná al die jare dat ek kortisoon gebruik het omdat ek bloot geweier het om op te hou werk, was ek opgeswel en oorgewig. Die ure in en langs die water en die seelug het my weer die eerste keer in jare soos myself laat voel.”

Maar sy wil ook nie oop-oë jok nie, sê Michelle. “Sommige dae binge ek, dan is dit kaaskoek en wortelkoek en skyfies net waar jy kyk,” vertel sy laggend. “Ek luister mos na my eie raad: ’n Mens moet gebalanseerd leef.”

Sy het weer daarvan begin droom om omring te wees deur mense namate haar dae in die woud verbygevlieg het.

“En ek sou waarskynlik nooit daardie punt bereik het as ek nie weggebreek het van mense nie,” vertel sy.

“Dis daar in my alleenheid dat ek besef het ’n mens het tog ander om jou nodig om al die dele van jouself te ontgin. Selfs dié waarvan jy nie hou nie.”

Sy het in 2019 na Johannesburg teruggekeer. “Maar net omdat my geld op was. Want ek sou in die berge gebly het tot ek nie meer ’n sent gehad het nie.”

Terug in die Goudstad het Michelle weer kortliks by Binnelanders aangesluit en toe by Isidingo. Hierdie keer het sy Cherel régtig finaal gegroet.

“Cherel is een van daardie karakters wat ’n mens jou lewe lank volg. Oral waar ek kom, het mense van Cherel gepraat. En dit was oukei. Ek kon nie verwag dat iemand my Michelle noem nadat ek haar soveel jare uitgebeeld het nie.

“Sy was binne my; deel van my. Sy was kragdadig, ’n karakter wat nooit bang was om te gaan haal wat sy wou hê nie. Sy was wraaksugtig, ja, maar het ook versoenende karaktereienskappe gehad. Sy het baie jare aan my gekleef; ek wou weet wie ek is sonder haar, sonder die karakter.”

Michelle Botes
Cherel de Villiers, haar karakter in Isidingo, was een van kykers se gunstelingfeekse. Foto: SABC 3

Wat het sy ontdek?

“Dat ek net ek is – nie ’n oorwinnaar of ’n slagoffer nie; nie ’n redder of ’n feeks nie. Ek is iets van alles, maar eindelik is ek net Michelle.”

Ná haar laaste verskyning as Cherel verlede jaar wou Michelle hê die skrywers van Isidingo moes haar karakter laat sterf. Hulle wou nie.

“Ek wou finaliteit hê – ’n manier om te sê dis verby. Dit was ’n voorreg om haar te ken, maar dis ’n hoofstuk wat afgesluit is.”

‘Ek het besef ek sal nooit weer die lig in my lewe kan omhels as ek nie die donkerte ingaan nie. Mý donkerte’

Sy is kort daarna deur M-Net genader vir die rol as die gewese prokureur Angelique in Legacy. Die telenovelle word al drie maande verfilm en maak op 21 September sy debuut.

Onder haar medesterre is Reandi Grey, wat Esti in 7de Laan speel, en Sean-Marco Vorster, wat onlangs in Huisgenoot se tweede fliek, Vergeet my nie, te sien was.

Deon Lotz speel Angelique se eksman, Sebastian. “Ek was mal oor Angelique toe ek die eerste keer oor haar gelees het,” onthou Michelle.

“Elkeen van ons ken die gevoel van iets wat van jou weggeneem word. Dit het ná sewe jaar in die woud met my geresoneer. Angelique is sy eerste vrou wat vir ’n jonger model verruil is.

“En dis ’n tightrope: Soms bly sy staande en ander kere neem wraak oor. Sy het reëls in haar kop oor hoe die lewe moet werk, maar as haar lewe gaan werk soos sy wil hê, gaan sy die bloudruk moet laat vaar.”

Dit herinner haar baie aan haarself, sê Michelle.

“Sy weet sy moet laat gaan. O, maar dis so vrek moeilik.”

Wanneer sy nie op die stel is nie, bring sy haar dae lui in haar kothuis in Linden deur. En dan verwonder sy haar oor hoe mooi die lewe weer geword het.

“Ek sit hier en kyk na die motors wat jaag, na die stadsliggies en na die gewoel van mense. En ek voel weer lewend. Ek is weer lus om dinge aan te pak. Ek is weer opgewonde om in ’n karakter se skoene te klim.”

Net een ding skort: ’n ander helfte.

“Is dit tragies?” vra Michelle. Sy antwoord: “Ek dink nie so nie. Ek hunker weer na iemand in my lewe – daardie mens met wie jy jou lewe kan deel. Dalk is dit nie vir my beskore nie. Dalk daag hy nog op.”

Maar as hy nie opdaag nie, het sy steeds haarself – daardie mens op wie sy daar in die Tuinroete verlief geraak het.

“Ek het ’n ongelooflike beloning in myself gevind daar tussen die bome. Ek wil amper sê ek is gewortel in myself, meer as ooit tevore. Ek het oorgegee en ek is vry, en as jy vry is, is jou hart oop. Dan is niks gedwonge nie en die lewe kan gebeur nes dit moet.”

  • Legacy word van 21 September Maandae tot Donderdae om 19:00 op M-Net (kanaal 101) uitgesaai.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe