Sy’s nou wel g’n panfluitsensasie nie, maar dít skeel Mielie Senekal van Keeping up with the Senekals-faam min, want deesdae is sy ’n televisiester – en daarby saam een wat vir eindelose drama en komedie in die kykNET-sepie Getroud met Rugby sorg.

Aanhangers van dié sepie is gaande oor die karakter Mielie, suster van Marinda Senekal van Holriete-faam, se verskyning in die reeks – en honderde kykers het na sosiale media gestroom om te vertel dat hulle eenvoudig nie genoeg van die vreemde karakter en haar pittige sêgoed kan kry nie.

Mielie, vertolk deur die aktrise Llandi Beeslaar, het vroeër vandeesweek haar eerste verskyning in die sepie gemaak; en dit nogal so ewe as die smoorverliefde aanhanger van Reitz Bekker (Sean van Noordwyk), ’n lid van die Stryders-rugbyspan.

Mielie Senekal
Mielie Senekal in Getroud met Rugby. Foto: Verskaf

Eers het Mielie ongenooid by die stadion opgedaag om haar liefde aan Reitz te verklaar, en die volgende dag was sy weer ’n keer terug – dié keer met ’n plakkaat wat lees: “Lekker Bekker!”

Toe Reitz oënskynlik nié die boodskap kry nie, het Mielie later by sy huis opgedaag, en selfs nadat hy haar gevra het om te loop, het sy die geskokte rugbyspeler se kleedkamerkassie met hartjies versier . . .

Nou wonder talle aanhangers van die sepie of Reitz tog vir Mielie se streke sal val, maar die Getroud met Rugby-span sê kykers sal maar moet wag om te sien wat die uiteinde van dié verhaal gaan wees.

“Mielie gaan vir eers net so week lank, tot die einde van die week, op die skerms wees,” sê Rudo van Heerden, ’n woordvoerder vir Getroud met Rugby.

“Maar ons weet nie wat nie toekoms inhou nie . . . Mielie bly tog ’n groot Stryder-fan.”

Mielie Senekal
Mielie flankeer met Reitz - maar hy wil bloot niks weet nie. Foto: Verskaf

Hy sê die Getroud met Rugby-span het haar genader vir ’n klein rol in die sepie om vir ’n bietjie komedie te sorg.

“Ons hou daarvan om relevante karakters en gebeure in Getroud met Rugby te laat verskyn. Mielie is ’n huishoudelike naam – en ons het besluit om haar na die reeks te nooi om die komedie-aanslag so bietjie sterker te maak,” vertel hy.

Rudo sê daar is nou soveel komedie op stel dat die akteurs selfs weg van die stel vir Mielie se geite skaterlag.

“In die storie verskaf sy egte-Mielie humor selfs wanneer sy ernstige tonele vertolk, maar Mielie as die karakter is net so ’n karakter dat mens nie kan help om te lag nie.

“Sean en Kate Roothman, die akteurs teenoor wie sy die meeste speel, het haar verskriklik geniet. Baie van die akteurs het self ook nie op hulle laat wag om selfies saam met Mielie te neem nie. Sy was dadelik tuis en dis duidelik dat Llandi ’n goeie en professionele aktrise is.”

Mielie Senekal
Sean van Noordwyk en Llandi Beeslaar agter die kameras. Foto: Verskaf

Net ’n paar klagtes oor Mielie se knap-kleredag het sover die lig gesien, terg Rudo, andersins is sy glo ook ’n groot treffer onder kykers.

“Dit was verseker die regte besluit om vir Mielie tydelik deel van die span te maak. Die kykers is mal oor haar en hoe sy vir Reitz teister, en meeste wil hê Mielie moet in die sepie aanbly.”

Aanhangers van die reeks is glo Woensdagaand (16 Januarie) in vir ’n groot bederf wanneer Mielie haar treffer Riekietiekie op die kassie gaan sing.