Die TV-aanbieder Minki van der Westhuizen straal l
Die TV-aanbieder Minki van der Westhuizen straal langs die Eersterivier op Stellenbosch, waar sy en haar gesin woon. Foto: Jacques Stander

“Ek voel eintlik so half skuldig daaroor, maar dit was regtig vir my ’n wonderlike jaar,” vertel die aanbieder Minki van der Westhuizen terwyl sy haar op ’n vlootblou bank in haar gesin se ruim huis op Stellenbosch tuismaak. 

Dis ’n pragtige somerdag en Minki is so borrelend soos altyd – vir haar skyn die son byna altyd. Ook toe die covid-19-pandemie en die inperking die land vroeër vanjaar tot stilstand geruk het, het dit haar nie in ’n gat of groef laat beland nie.

Sy het dit geniet om meer gehaltetyd saam met haar man, die sakeman Ernst Joubert (40), en hul drie dogters deur te bring, vertel sy – dit was geseënde gesinstyd.

Op 36 het Minki haarself ook in dié tyd beter leer ken. “Ek het nogal so 10 weke in die inperking in vir my skoonsussie gesê ek het eintlik besef ek is ’n introvert . . .

“Toe lag sy en sê: ‘Nee, jy is nie, jy is net ’n huishen!’”

Daardie lieflike glimlag waarvoor sy bekend geword het sprei oor haar mond en haar oë vonkel.

Soos baie ander ouers moes sy en Ernst ook vanjaar met die skoolwerk inspring. Toe hul kinders tydens die inperking maande lank moes tuisbly, het elkeen “’n kind gehelp” met skoolwerk: hy vir Elise (6), wat volgende jaar in gr. 1 sal wees, en sy vir Katerien (7), wat volgende jaar gr. 2 toe gaan. 

Met ’n laggie erken Minki sy het besef dat sy “glad nie ’n juffrou is nie”.

“Ek het besef ek het nie die geduld daarvoor nie. Ek is so dankbaar vir alle juffrouens daar buite.”

En tussendeur kon sy eindelik na hartelus tyd deurbring met klein Elsa (2), iets wat sy nie voor die inperking werklik kon doen nie.

Anders as haar twee oudstes wat in Engeland gebore is toe Ernst destyds daar klubrugby gespeel het en Minki ’n tuisbly-ma was, het die Jouberts hul jongste hier op eie bodem verwelkom. Teen daardie tyd was Minki al terug voor die TV-kameras as die aanbieder van die kykNET-maatsoekreeks Boer soek ’n vrou.

“Ek het basies nie eens kraamverlof met Elsa gehad nie, want ek het dadelik weer begin werk,” sê sy.

“So sy het dalk nie my volle aandag gekry soos die ander twee nie. 

“Maar ek kon met die hele inperking sien sy floreer. Haar liefdestaal is gehaltetyd. Ek kon sien hoe sy ontwikkel en hoe sy dit net love dat niemand êrens heen gaan nie. Sy het altyd gehuil as ek iewers heen gaan en toe is almal heeltyd by haar. Sy het rustiger geraak en sy was net heeltyd happy.”

Eintlik nes sy wat Minki is.

“Ek dink omdat my lewe so besig, vol en so in die openbaar is, is dit vir my baie lekker om niks te doen nie en net hier by die huis te wees.”

Stellenbosch is vandag lowergroen ná ’n goeie reënseisoen, en die pragtige berge en bome van die Boland verklap niks van die donker winter wat verby is nie.

Die somerson bak laatoggend al warm langs die Eersterivier, waar Minki nou ’n hanetree van haar huis vir die kamera straal. Sy lyk mooi in enigiets wat sy aantrek – informeel in geskeurde jeans en ’n mentgroen bloes of speels professioneel in ’n helderpienk linnepak met ’n parmantige kortbroek.

Ná jare as model weet Minki net hoe om te poseer dat elke foto perfek is.  Al is sy nou in haar 30’s en ma van drie, bly glansryke fotosessies ’n groot deel van haar lewe.

Die vorige dag was sy juis ook tot laatmiddag met ’n fotosessie vir die bekende Kaapse ontwerper Stephen van Eeden besig. 

Sy begin in Desember aan die sewende seisoen van haar VIA-geselsprogram Minki verfilm en werk nou ook saam met ’n vriendin, die grimeerkunstenaar Alicia Buckle, aan ’n lipstiffiereeks wat hulle vroeg in die nuwe jaar wil bekendstel. 

“Kyk, as ek ’n rand gehad het vir elke keer dat iemand vir my vra watter lipstiffie ek aanhet, dan het ek al afgetree,” verduidelik sy hul besluit om ’n lipstiffiereeks te ontwikkel.

Omdat sy die afgelope jaar genoeg gehaltetyd saam met haar gesin kon deurbring, sien sy uit na die besige Desember wat vir haar voorlê.

Terwyl haar landgenote geleidelik vir luilekker dae op die strand gereed maak, sal Minki op die stel wees om die nuwe episodes van haar VIA-reeks te verfilm om weer diep dinge met haar uiteenlopende gaste te gesels.

Dan is opstaantyd soggens net ná vyfuur en trek sy net voor ses, nat hare en al, by die huis weg om betyds by Atlantic Studios in Milnerton te wees. “Dan is dit hare en grimering en net ná agt is ek in die ateljee,” vertel Minki. 

Hulle verfilm sowat drie episodes per dag en sy kom eers saans teen halfsewe weer tuis.

“Dit is gewoonlik baie lang dae en my ma kom help meestal om die kindertjies by die skool te kry. Ernst maak ook gewoonlik kos; hy is dierbaar,” sê sy oor haar man, deesdae die hoof van die rugbyinstituut van die Stellenbosch-sportakademie. 

“Dit is maar rof, want jy gee emosioneel jou alles op die stel, en wanneer ek by die huis kom, praat ál drie dogtertjies gelyk én ek wil eet.”

Sy vermurwe wanneer sy oor haar drie “poppies” gesels. Elise is kreatief en gek daarna om ure aaneen met haar Barbie-poppe te speel, vertel sy oor haar middelkind.

“Katerien is weer vreeslik lief vir haar Lego en mal oor TV-kyk, so ek moet dit ’n bietjie bestuur.”

En wat sê sy en haar sussies wanneer hul ma op die TV-skerm verskyn?

“Die girls is so blasé daaroor. Hulle is gewoond aan die TV en tydskrifte. Maar nou die dag was ek in die koerant. Toe kom Katerien en sê sy: ‘Mamma, is dit die eerste keer dat jy in die koerant is?’” 

Sy slaan haar hande saam en lag.

“Die oudste twee is mal oor mekaar, maar raak ook soms geïrriteerd. Hulle is tipies sussies wat mekaar lekker kan opvryf en dan sal hulle ook soms vir Elsa vreeslik terg – vreeslik!

“As hulle vir haar sê: ‘Jy is so oulik’, dan sal sy sê: ‘Nee ek is nie. Ek is Elsa Joubert. Ek is nie oulik nie!’

“Elsa, dink ek, is baie soos wat ek nou is. Sy het ’n baie sterk wil. Sy doen net wat sy wil doen. Nee, jy sê nie vir haar wat om te doen nie.” 

Wanneer die drie saans bed toe is, maak sy en Ernst tyd vir mekaar.

“Dan sal ons ’n wyntjie drink en oor naweke sal ons braai terwyl die kinders buite speel.”

Huishen, ten spyte van die glanslewe.

Met ’n huis vol dogtertjies was die begin van die inperking eintlik vir hulle die ene opwinding, vertel sy. Danksy die warm weer het die Joubert-gesin saam geswem en buite gespeel.

 “Ag, dit was regtig net so ’n kosbare tyd saam met die kinders. Ons het TV-reekse gekyk, ek het kaste reggepak, ons het speelgoed uitsorteer,” vertel Minki.

“Maar ons het probeer om elke dag eers die skoolwerk af te handel, want dan is dit ’n berg van ons skouers af,” voeg sy by.  

Hoewel hulle die streng inperkingsregulasies getrou nagekom het, het die ouerpaar dit gedoen sonder om hul kinders paniekerig te laat word.

“Hierdie ding het gekom en ek en Ernst het dit gevat vir wat dit is, maar ek is nie ’n bang mens nie en ek is oor die algemeen taamlik positief. Ek weet ons is God se kinders en Hy gaan na my kyk,” verduidelik sy oor die uitdagings van die ongewone omstandighede.

“Ek breek nie my kop daaroor nie. Ernst is die meer realistiese een. Ek glo net met alles wat ek het dat dinge gaan uitwerk. En ek dink kinders tel baie op by hul ouers. Hulle was nie vir een oomblik bekommerd of paniekerig of het vreeslik uitgevra nie. Vir hulle was dit net vakansie.”

En wanneer mamma klaar geskiet is aan die reeks wat haar naam dra, sal hulle einde vanjaar regtig saam gaan vakansie hou – eers saam met Minki se ouers, Herman en Carien van der Westhuizen, op Yzerfontein aan die Weskus en dan saam met Ernst se familie op Hermanus.

Want die jaar is op sy kop, en Kersfees is om de draai – en vir Minki sal dié dag die geseënde gesinsdag wees ná ’n hele jaar vol persoonlike seëninge.

Haar oë blink weer.

“As ek terugkyk na hierdie jaar. Dit was goed vir ons,” vertel sy dankbaar. “En ek weet, dit is net genade van Bo.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe