Sedert Kate (36) en haar man, prins William (35), in April 2011 afgehaak het, is hulle al drie kleingoed ryker. En dié vrou word glo behoorlik bederf, berig die tydskrif Hello!

Anmer Hall

Anmer Hall. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit is enige pasgetroude paartjie se droom om ’n huis as trougeskenk te ontvang. Dit is presies wat William se ouma, koningin Elizabeth, gedoen het toe sy die sleutels van Anmer Hall, ’n Georgiaanse huis in Anmer, Norfolk, op die Engelse platteland aan die paartjie gee.

Dié eiendom op die landgoed Sandringham is een van twee privaat wonings wat die Britse koninklike familie besit, berig Royal.uk. Die paartjie het Anmer Hall opgeknap en twee jaar daar gewoon.

Hulle het intussen na Kensington-paleis in Londen teruggekeer. Wanneer hulle wil wegbreek van die kollig, sit die paartjie weer af Anmer Hall toe met hul kroos, prins George (4), prinses Charlotte (3) en hul kleinboet, die maand oue prins Louis.

Prinses Diana se verloofring

Prinses Diana se verloofring. Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Wie kan daardie pragstuk aan Kate se ringvinger miskyk?

Toe prins William in 2010 vra vir sy universiteitsliefie, Kate, die jawoord vra, het hy dit met een van sy ma se mees ikoniese juwelierswarestukke gedoen. Die verloofring bevat ’n saffier van 12 karaat wat deur sowat 14 diamante omring is. Dit lê knus in ’n witgoud troupand van 18 karaat.

Oorbelle van saffier

Saffier oorbelle. Foto: Gallo Images/Getty Images

Praat van bederf!

Volgens Hello! het die hertog van Cambridge naby die tyd van hul troue ’n paar bypassende saffier-en-diamant-oorbelle vir sy verloofde as geskenk gegee.

Die hertogin het dit toe effens laat moderniseer en in 2016 gedra toe hulle in Kanada toer, berig die tydskrif Harper’s Bazaar. Sy word nou nog gereeld met die oorbelle gesien.

’n Wit-en-geel-diamantjuwelierswarestel

Prins Charles (69) het in 2011 aan sy nuwe skoondogter ’n stel diamantjuwele gegee. Die stel bevat 'n wit-en-geel-diamantarmband, oorbelle en 'n ring wat sy al op verskeie geleenthede gedra het.

’n Gelukbringer-armband

’n Gelukbringer-armband. Foto: Gallo Images/Getty Images

Prins Charles se vrou, Camilla (70), die hertogin van Cornwall, het vir Kate ’n gelukbringer-armband as trougeskenk gegee, berig Daily Mail. Op die armband is 'n goue skyfie met 'n “C” vir Catherine daarop gegraveer. Dit bevat ook ’n krans, kroon en “C” vir Camilla.

Groen ametisoorbelle

Groen ametis oorbelle. Foto: Gallo Images/Getty Images

Om die eerste Kersfees as 'n getroude paartjie in 2011 te vier, het William sy vrou met 'n stel groen ametisoorbelle van haar gunstelingontwerper, die Brit Kiki McDonough, verras.

Kate het die oorbelle daardie Kersfees die eerste keer by ’n kerkdiens gedra.

’n Ewigheidsring

Om die geboorte van hul eersteling, prins George, in 2013 te vier, het William vir sy vrou ’n ewigheidsring deur die ontwerper Annoushka as geskenk gegee.

Die Ballon Bleu de Cartier-horlosie

Die Ballon Bleu de Cartier horlosie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die gelukkige ma het dié Ballon Bleu de Cartier-horlosie as geskenk van haar man ontvang toe hulle hul derde huweliksherdenking in 2014 vier.

Die horlosie is ook met klein saffiere omring en dit pas by haar verloofring.

Die handelsmerk Cartier is spesiaal vir William. Sy ma, wyle prinses Diana, het gereeld ’n Cartier-horlosie gedra en het ook horlosies uit dié reeks aan hom as geskenk gegee toe hy jonger was.

Bronne: Hello!, Harper’s Bazaar, Royal.uk, Daily Mail