“My grootste droom vir hierdie jaar is om balans te kry tussen werk en ontspanning. Om nie skuldig te voel as ek net tyd vir myself neem nie en om die positiewe in elke liewe situasie raak te sien,” sê Rolanda, wat vanaf 31 Januarie op die silwerdoek te sien is in die nuwe fliek Poppie Nongena.

Die aktrise het op haar verjaardag die kostelikste foto van ’n jonger weergawe van haarself op Instagram gedeel en daarby geskryf:

“Dit lyk of iemand hierdie houding (voor die kamera) al sedert die tagtigs het.

“Dié jong Rolanda word vandag 42 jaar oud. Ek voel steeds soos sy. Ek is lief vir dié Rolanda. Ek dink dit is die beste geskenk wat ek vir myself kan gee. Selfliefde. Aanvaarding. Veels geluk, liewe ek. Jy is oukei.”

Die aktrise sê sy dink baie jongmense sukkel met selfliefde. “Ons word gebombardeer met sosiale media en mens is so beïnvloedbaar wanneer jy jonk is. Veral jong meisies, omdat jou liggaam verander, jou emosies holderstebolder is en jou selfbeeld broos. Die kleinste opmerking kan jou ’n kompleks gee vir die res van jou lewe.”

Sy sê die grootste ding wat sy tot op hede geleer het is dat wanneer jy almal met liefde en respek hanteer, jy goeie mense na jou toe sal aantrek.

“Elke woord wat by jou mond uitkom oor iemand anders is ’n openbaring wat jy van jouself dink. Hoe jy ander behandel is hoe jy voel jy verdien om behandel te word.”

View this post on Instagram

?? ????‍?????? #girlmom

A post shared by Rolanda (@rolandamarais) on

Rolanda, wat onlangs as Mila Strachan in die dramareeks Trackers op M-Net te sien was, woon in Kaapstad saam met haar man, die regisseur Jozua Malherbe, en hul driejarige dogtertjie, Charlotte.

Haar raad aan ander jongmense is om vir elke negatiewe gedagte wat jy van jouself het, drie positiewe dinge te vind.

“As iemand jou nie lekker laat voel nie, vind vriende wat jou goed laat voel oor jouself en wat nie kompeterend is nie. Wees mooi met jouself. Jy gaan jou lewe lank ’n pad stap met jou liggaam en siel. Versorg albei. Luister na die stemmetjie binne jou, hy is gewoonlik reg. Vermy negatiwiteit en omring jouself met mense wat opbouend en liefdevol is.”