Oor wie stort die sanger sy hart so uit op sy nuwe album?

Daardie lirieke op Juan Boucher se lippe klink darem net te eg, te dromerig, te verlief om sommer net woorde te wees: Ons lewe saam het begin . . .

En nou erken die sanger eksklusief teenoor Huisgenoot: Ja, ware liefde het inderdaad eindelik aan sy deur kom klop. En dit het sy musiek ook kom oorrompel.

Ná ’n donker tyd kan Juan weer sy lirieke vrye teuels op die verhoog gee. Sy nuwe album, Twaalf Rondtes, het reeds met die uitreiking daarvan na die eerste plek op die radiostasie RSG se SA Top-20 geskiet. Foto: Misha Jordaan

“Musiek is liefde; daarom sal jy beter liedjies skryf as jy dit uit liefde skryf,” verduidelik Juan (34) tussen sy repetisies deur voor ’n vertoning in die Jam Rock-teater in Brackenfell, noord van Kaapstad.

Hy is smoorverlief, maar oor wie presies die nuwe vrou in sy lewe is, sal aanhangers moet bly wonder, want sy wil vir eers uit die kollig bly.

Tog verklap Juan: Haar naam is Carien, sy is 30 jaar oud en is ’n rekenmeester van Kaapstad, en sy het die mooiste blou oë . . .

Die sanger het ’n jaar gelede ná ’n stormagtige verhouding sy verlowing met die model Jaenette Jacobs (31) verbreek en is dié keer opgewonde en beskermend oor sy geheimsinnige nuwe liefde.

Hy koester haar privaatheid, want sy wil dit so hê. “Sy wil glad nie in die openbare oog wees nie. Sy sal nooit vir ’n foto saam met my poseer nie. ’n Mens kan haar ’n miljoen rand aanbied; sy sal nie. Jy sal nie eens foto’s van ons op Facebook of Instagram kry nie. Wanneer ek ’n foto van haar wil neem, hou sy haar hand voor haar gesig. Sy is baie skaam.”

Sy is nie deel van die vermaakwêreld nie, maar leer om dit te verstaan, vertel Juan.

“Sy is iemand wat my verstaan en begryp dat ek die land moet platry met my musiek.”

Hulle het mekaar ses maande gelede in Die Keldery-restaurant op Vredendal aan die Weskus ontmoet. Sy was toevallig die naweek op die dorp toe hy daar optree.

“Dis weird hoe ons by mekaar uitgekom het. Die Here het haar op my pad gestuur,” onthou hy. “Dit was daardie mooie blou oë wat my aangetrek het, asook haar nederigheid.

“Ek voel in my hart en my musiek dié keer is dit die regte een; daarom is ek so versigtig om iets te doen wat haar onnodig kan blootstel.”

Sy nuwe en sewende album, Twaalf Rondtes, is ’n ode aan sy Carien.

“Wanneer jy na die lirieke luister, sal jy weet wat aangaan. Ek is opgewonde oor my nuwe liefde,” sê hy.

In die eerste snit op die album, Ons Het Dit Gebou, vertel hy in sy praatstem: Ek het jou my ribbebeen gegee / Jy het my hart gevat . . . Ons lewe saam het begin . . . Vir van nou af en vir ewig saam . . . Ons moet saam oud word.

En in die liedjie In Jou Wolk sing hy onder meer: Ek is ’n skip in die see wat op die wind van liefde seil . . . Ons twee van mekaar skeur, sal nooit gebeur nie.

Juan is ’n man wat jy nie sommer maklik sien glimlag nie, en hy erken prontuit: “Ek is maar ernstig.” Om diep woorde in sy lirieke vas te messel, ’n boodskap wat luisteraars maklik kan verstaan, is vir hom belangrik; daarom kan hy net skryf oor dinge wat sy hartsnare geroer het, vertel hy.

“Alles wat gebeur het, het my tot hier gebring,” mymer hy.

Sy sangloopbaan is 14 jaar gelede uit ’n groot tragedie gebore. Juan, destyds ’n skofleier by ’n kabelmaatskappy, was net 20 toe hy langs sy sterwende meisie, Nadia Potgieter, se hospitaalbed begin sing het.

Sy was in ’n motorongeluk en hy het ’n tweedehandse kitaar gaan koop sodat hy vir haar kan sing en kitaar speel. Hy het selfs vir haar ’n liedjie, Keep Fighting, geskryf.

Toe sy twee maande ná die ongeluk sterf, het hy aanhou sing om die droefheid te verdryf. Later het hy vriende en familie om die braaivleisvuur vermaak, mettertyd in Vereeniging in kroeë begin optree, en in 2009 het Vonk Musiek hom “ontdek” en ’n platekontrak gegee.

“Ek het nie ’n idee gehad van hoe my sangloopbaan sou ontvou nie,” vertel die gewilde sanger vandag.

Hy het liefhebbers van Afrikaanse musiek sedertdien meegevoer met trefferalbums soos 082, Jy’s My Flavour, Gee Jou Hart ’n Breek en Kalm voor die Storm.

In die liedjie Whiskey en Jy op sy nuwe album vind ook die hartseer van sy verbreekte verlowing neerslag: Jy draai jou rug op my / Dit is die whiskey wat bly / Die verskil tussen jou en my is die hoofstuk van pyn / Ek breek die ban / Dit is die verskil tussen whiskey en jy / Ek soek liefde en vrede en jy wil baklei.

Die lirieke het vorm aangeneem toe Juan verlede jaar ná die beëindiging van die verhouding onder meer sy “kop op ’n skaapplaas by Loeriesfontein in die Noord-Kaap gaan skoonmaak het”, vertel hy.

Die skaapboer Wim Swanepoel (30) het Juan plaas toe genooi nadat hulle mekaar by ’n konsert in Pretoria ontmoet het. Wim het toe ook pas uit ’n verhouding gekom en die twee mans het dadelik “mekaar se harte verstaan”, sê Juan oor dié moeilike tyd.

Op die plaas het hulle mekaar moed ingepraat en Juan het weer begin lirieke skryf. “Dit was maar net een van die stappe van die lewe wat ons moes doen. Ons het ook lekker saam gekuier.”

Wim, sy 17-jarige broer, Arend, en pa, Pieter (58), het al vier jaar gelede die Wilar-stoetery naby die piepklein Noord-Kaapse dorpie begin.

Juan het toe verlede jaar nog altesaam 11 000 ha stukke grond saam met hulle gekoop, waarop hulle nou met sowat 2 000 skape boer. “Dis glory days,” vertel Wim.

Juan en sy orkes reis die land plat. Van links is Rudi (Vyfrand) Kleingeld op kitaar, Juan, Roelof (Wolfie) Viviers op baskitaar en Pierre de la Porté op tromme. Die groep tree minstens vier keer per week op om Juan se nuwe album bekend te stel. Foto: Misha Jordaan

“Dit gaan baie goed,” beaam Juan, wat in sy noppies is oor sy betrokkenheid by die boerdery. Hy het op plotte naby Vereeniging grootgeword, waar hulle met skape, beeste en hoenders geboer het, en sê hy bly maar ’n “boer in my bloed”.

Inspirasie vir sy skryfwerk put hy ook uit die natuur, waar hy “woorde uit die stilte rondom my ontvang”. Voorheen het hy dikwels dié inspirasie op die Karoovlaktes op die sanger Jan Rhaap, wat Huisie in die Bos saam met Juan sing, se familieplaas by Niekerkshoop in die Noord-Kaap gaan soek, maar nou het hy sy eie grond.

Hy het ook ’n huis in Pretoria en een in Kaapstad – en dis waar hy en Carien hopelik ’n lewe vir hulself gaan bou. JUAN en sy orkeslede, almal van Pretoria, toer nou die land vol om Twaalf Rondtes bekend te stel.

Hy en die kitaarspeler, Rudi Kleingeld, met die bynaam Vyfrand, is al jare lank vriende. En Rudi het hom voorgestel aan Roelof Viviers, oftewel Wolfie, op baskitaar en Pierre de la Porté, die tromspeler.

Hulle is bedrywig, met minstens vier vertonings per week. Hier in Brackenfell moes ’n ekstra optrede gereël word omdat drie aande uitverkoop is.

Sy nuwe album het begin vandeesmaand met die uitreiking daarvan reeds op die SA Top-20 op RSG en Musica se top-40- Afrikaanse albums beland.

Die musiekvideo van die liedjie Ons Word Een het binne vyf dae 160 000 trefslae gekry. Daar is nie tyd vir ’n blaaskans terwyl hulle die golf van sukses ry nie, en Juan is dankbaar sy Carien is bereid om hierdie dolle vermaakwêreld waarin hy leef te probeer verstaan.

Juan en Jaenette het albei vroeër vanjaar teenoor Huisgenoot hart oopgemaak oor hul verhouding wat skipbreuk gely het, en dit het toe geblyk een van die probleme was dat hy weens sy loopbaan so min by die huis kon wees. “Ek was net moeg baklei,” het hy toe gesê.

“Ek het besef dis nie die soort verhouding wat ek wil hê nie. Ek wil by iemand wees wat my ondersteun en verstaan.” Carien is daardie iemand, glo hy nou: “Ek was besig om van binne dood te gaan; nou leef ek weer voluit.”