Om jou lê die Malutiberge kilometers aaneen uitgestrek. Daar is berge en dale in die mooiste kleurskakerings gedrapeer en valleie met geelgroen landerye – ’n betowerende natuurspel wat jou asem wegslaan.

En dis nie sommer enige uitsig nie. Dit neem jou ’n 4x4-rit van ’n kwartier lank om tot op die piek van die berg te kom – maar trotseer jy dié rukkerige rit na die sandsteenformasie heel bo, word jy met ’n lieflike panorama van Fouriesburg in die Oos-Vrystaat beloon. Van onder die skaduwee van die lapskuilings wat die sowat 100 trougaste reeds teen elfuur op hierdie vroegherfs-Saterdagoggend teen die skroeiende Vrystaatson beskut, is daar g’n einde aan die skilderagtige landskap nie.

Foto: RDK Photography
Die troue is op ’n bergpiek in die Malutiberge op ’n yslike sandsteenformasie gehou. Foto: RDK Photography

Jy dink ’n oomblik lank jy’t dalk nog nooit mooier gesien nie.

Maar dis net tot die gedreun van ’n dieselbakkie skielik die gaste se onderlangse gesels verdoof. Want nes die stofwolk om die bakkie sy lê kry, verskyn die mooiste nog: ’n stralende bruid wat so byna na haar bruidegom aangehardloop wil kom . . .

Settle down with me, cover me up, cuddle me in, speel Ed Sheeran se liedjie “Kiss Me” oor die klankstelsel hier bo-op die berg by die Bella Montagna-trouplek.

Foto: RDK Photography
Marijke het ’n prag­tige kantskepping deur die ontwerper Ciska Barnard gedra, en dit het haar soos ’n handskoen gepas. Foto: RDK Photography

“Sjoe, sy’s beeldskoon,” fluister ’n gas oor die bruid. En dis werklik so: In haar wit kanttrourok deur die ontwerper Ciska Barnard lyk die Getroud met rugby-aktrise Marijke van der Westhuizen (37) aan die arm van haar pa, Derick Maree, die gelukkigste nóg.

Foto: RDK Photography
Vir Werner het sy vrou nog nooit so beeldskoon gelyk nie. Foto: RDK Photography

Haar bruidegom, die akteur Werner Coetser (32), wat in dieselfde kykNET-sepie speel, kyk eers nie om nie. Senuagtig rol hy die moue van sy wit kaasdoekhemp verder op. Sy rug is na Marijke gedraai, maar die groot glimlag van pure afwagting kan hy vir niemand wegsteek nie . . .

En dan sien hy sy bruid, en sy oë rek oor haar skoonheid.

Toe Derick sy dogter aan Werner afgee, terg ’n gas hoorbaar: “Jy sluk darem maar swaar aan daardie trane!”

Dis ook ’n spesiale dag vir Werner se pa, past. Johan Coetser, want dis hy wat sy seun in die huwelik bevestig.

Foto: RDK Photography
Pasgetroud! Werner en Marijke Coetser, hier saam met hul dogtertjie, Layla, en ouboet Juwan uit Marijke se vorige huwelik, sê hulle is gelukkiger as ooit. Foto: RDK Photography

“Ek is nie net bly dat my seun ’n vrou gekry het nie,” vertel Johan aan die gaste. “Ek is bly dat hy ’n goeie vrou gekry het.”

“Die Bybel in Genesis sê ons gaan een word,” preek Johan voor ’n enorme rots – sy preekstoel.

“Maar die klem bly op ‘word’. Dis nie ’n gegewe nie. Ons moet mekaar akkommodeer, mekaar eerbiedig, mekaar leer verstaan. Ons moet mekaar liefhê – deur elke storm, deur elke seisoen van mooiweer. Dís wanneer ons werklik een word.”

Want seisoene  van onsekerheid lê ook voor, sê hy.

“’n Tyd sal kom wanneer die een op en die ander af is. En dan draai die wiel weer. Julle moet mekaar in sulke tye dra. Weet dít: As God die gom is wat julle bymekaarhou, wie kan dit skei?” Hy antwoord sommer self: “Niemand nie.”

Foto: RDK Photography
Marijke se trouring is roosgoud en Werner het ’n titaanring gekies. Foto: RDK Photography

“’n Tyd sal kom dat hy meer plooie as hare het,” sê Johan aan Marijke. En aan Werner: “Sy gaan nie altyd so opge-dress wees nie. Maar onthou om mekaar te kies – elke dag vir die res van jul lewe.”

Toe Johan die paartjie vra om na mekaar te draai sodat hulle hul huweliksbeloftes kan aflê, koer hulle vir mekaar en hy terg: “Dis nie nou vrytyd nie!”

Neem Werner Marijke as sy ewige vrou? vra sy pa.

“Beslis!” En Marijke? “Vir seker!” Aan haar vinger steek Werner ’n roosgoudtroupand met fyn diamantjies. Aan syne kry hy ’n ring van gehamerde titaan.

Dan is julle nou mnr. en mev. Coetser, sê Johan. “Die gelukkigste twee mense op hierdie bergpiek.”

Vir die akteurspaar het alles die afgelope jaar verander. Hulle het verloof geraak, ’n dogtertjie met ’n lagmondjie in die wêreld ingebring, saam huis opgesit – en nou is hulle oplaas man en vrou.

Foto: RDK Photography
Juwan en Layla is onafskeidbaar. Foto: RDK Photography

Nog elke dag sedert hulle tydens ’n seevakansie in Desember 2017 op Velddrif aan die Weskus verlief geraak het, wil hulle by mekaar weet: “Hoe het dit gebeur dat ons só gelukkig is?”

Net ’n week voor hul groot dag, toe ons by die paar se nuwe huurhuis in Fairland in die noorde van Johannesburg gaan kuier het, kon hulle nie uitgepraat raak oor hoe gelukkig hulle saam is nie.

“Soms kyk ek na my lewe – na ons lewe – en ek weet nie wat ek gemaak het om hierdie dinge te verdien nie. Om só gelukkig te wees, om te weet Marijke is lief vir mý,” sê Werner.

“Ek het nooit gedink ek sou hierdie dinge hê nie; ek het nie eens gedink ek sou trou nie. En nou kan ek my die lewe nie sonder haar, of sonder ons kinders, indink nie.”

Marijke het pas vir klein Layla (7 maande), die twee se dogtertjie wat in Augustus verlede jaar gebore is, gebad. Maar vanaand wil sussie niks van slaap weet nie – sy wil saamkuier hier in die gesellige leefvertrek met sy uitsig op die stoep.

Ouboet Juwan (9), Marijke se seun uit haar vorige huwelik, spring op van die kombuistafel waar hy sy huiswerk doen en kom gretig nader om sy jonger sussie uit Marijke se hande te neem.

“Ag, jis, my lief . . .” sukkel Marijke met woorde oor haar verhouding met Werner. Dan sê sy: “Hierdie man, nè, daar is niemand soos hy nie. Hulle sê mos trou en trek is twee van die stresvolste dinge vir ’n verhouding. Nie vir ons nie. Kom ek saans laat tuis, maak Werries reeds kos. Dan lê Layla reeds in die bed, sommer klaar gebad. Hy is my rots; my sielsgenoot.”

Foto: RDK Photography
Werner en Marijke oomblikke nadat hulle amptelik tot man en vrou verklaar is. Foto: RDK Photography

Dat hulle mekaar gevind het, sê die twee, is ’n wonderwerk. “Ek weet ek kom met baie baggage,” sê Marijke.

“En wie het lus vir bagasie? Maar Werries het my nog altyd net aanvaar. Nes ek is, met alles waarmee ek saamreis. Sy familie het my sedert die eerste dag as een van hulle aanvaar.”

En vir Werner is die vele grappies oor knorrige skoonma’s ook nie ’n werklikheid nie. Hy en Marijke se ma, Marieta Maree, het ’n wonderlike verhouding, sê hy.

“Sy is die een wat hierdie huis vir ons in ’n regte nessie omskep het. Soms kom woon sy ’n ruk lank hier en elke keer voel dit of sy hier hoort. Ek is ongelooflik lief vir haar. En hoe kan ek nie wees nie? Sy het hierdie vrou in die wêreld gebring.”

En nee – Marijke is voor die troue g’n bridezilla nie. Of so sê sy . . .

Werner: “Glad nie! Dis mos wat jy gesê het ek moet sê, nè, lief?” Hulle lag lekker saam. Dan gaan Werner voort: “Sy was wonderlik, in elke aspek van die hele reis wat ons saam onderneem het.

“Die troue wat ons beplan, is werklik wat ons wou hê – dit was nie die een of die ander se behoeftes of idee van ’n mooi dag nie. Dis waarvoor ons albei gehoop het.

“Maar dan moet ek ook vir jou sê,” bieg Werner knipoog, “ek is nie deel van die helfte van die trougroepies nie.” Marijke keer: “Man, sekere dinge moet mos geheim bly. Soos my trourok – hy mag dit glad nie gesien het nie.”

Uit die lewe is daar niks meer wat hulle wil hê nie. Nie eens nog ’n pienkvoet nie. “Ons is gelukkig en tevrede – ons het alles en meer as waarvoor ons ooit kon droom,” sê Marijke. “Ja,” sê Werner. “Ek het ’n seun gekry wat ek liewer as die wêreld het en ’n dogtertjie wat ons lewe vervolmaak. Ek wil hê niks moet verander nie; nie een enkele ding nie.”

Foto: RDK Photography
Gaste is met piekniekmandjies vol lekkergoed en happies ge­trakteer en kon uitspan onder lapskuilings wat lafenis gebied het teen die fel son. Foto: RDK Photography

Wel, dalk een ding . . .

“Ek gaan ’n Coetser word,” sê Marijke. “Want daar is niks wat my blyer sal maak as om Marijke Coetser te wees nie.”

Dit was vir hulle belangrik dat hul troue nie tradisioneel moet wees nie – nes hul verhouding nooit werklik tradisioneel was nie, vertel die stralende egpaar op hul groot dag. “Hier in ons harte is ons reeds getroud. Ons is reeds man en vrou,” verklaar Marijke kort ná die seremonie teen die berg. En Werner beaam: “Ons moes nog net die ringe aan mekaar se vingers steek.”

Dus is daar by hul bruilof geen lang en uitgerekte toesprake nie, en ook nie ’n eerste dans by die onthaal later die aand nie. “Ons wou hê ons geliefdes moet hierheen kom en lekker saam met ons kuier. Ons wou lekker eet, lekker musiek speel en omring wees deur diegene vir wie ons die liefste is wanneer ons eindelik man en vrou word,” vertel Marijke.

Bo-op die berg word gaste ná die seremonie op piekniekmandjies vol lekkernye soos kolwyntjies, pasteitjies, koue vleise en mengeldrankies getrakteer. Almal kuier tot ná middernag hier met die stroopsoet Juwan en Layla wat tussendeur speel en gekoester word.

Bella Montagna is al lank as trouplek bekend, maar die bestuurspan het dié spesifieke plekkie bo-op die berg spesiaal vir die akteurspaar ingerig – dit is die eerste troue wat hier gehou word.

Foto: RDK Photography
Foto: RDK Photography
Foto: RDK Photography
Foto: RDK Photography

Laatmiddag word die gaste, onder andere die Getroud met rugby-akteurs David Louw, Pierre Breytenbach, Christel van den Bergh en Altus Theart en sy aktrisevrou, Zetske van Pletzen, weer met 4x4-voertuie na die voet van die berg geneem.

En toe is dit tyd vir die pragonthaal in die amptelike venue. Die gaste lê weg aan gourmet-hamburgers en ’n vierlaagtroukoek van vanielje, aarbei, papawersaad en suurlemoen.

Marijke verruil haar pragtige trourok sommer vir gemaklike jeans en ’n wit bloes, en almal dans tot ounag op die maat van die musiekgroep As You Like It.

“Ek moet met jou eerlik wees vandag: Ek het bitter swaar aan die trane gesluk toe ek my bruid die eerste keer sien,” bieg Werner in ’n stadium tydens die onthaal.

“Sy is darem maar asemrowend mooi, dink jy nie? Dit was alles die moeite werd – al die gewag, al die maande van beplan. Dis oorweldigend, dis ongelooflik; daar is nie woorde om te beskryf wat in my hart aangaan nie. Ek is die gelukkigste man hier vandag.” In die weke wat kom, is daar een ding waarna hy veral uitsien.

“Ek kan nie wag om Marijke as my vrou voor te stel nie. My vrou; ek kan dit steeds nie glo nie.” En Marijke? Sy huiwer eers. Soek na ’n antwoord. “Waarvoor hoop ’n mens as jy alles gekry het waarna jy gesoek het? Daar is niks meer nie.

“Net ’n lewe vol liefde – saam met hom en ons kinders.”

DIE HUWELIKSPAAR BEDANK:

BELLA MONTAGNA (VENUE) INFO@BELLAM.CO.ZA, 083-410-6460; CISKA BARNARD COUTURE (TROUROK) CISKABARNARD@GMAIL.COM, 076-176-0847; JUST CHILLIN (LAYLA SE ROKKIE) JUSTCHILLIN.CO.ZA, 083-234-3951; SOPHIA’S (BLOMME) SONJA.DEETLEFS@YAHOO.COM, 083-647-5265; RDK PHOTOGRAPHY (FOTO’s) RENSKE@RDKPHOTOGRAPHY.CO.ZA, 082-075-4691; MERAKI FLORAL AND DECOR DESIGN (DEKOR) CARO@MERAKIFLORALDECOR.CO.ZA, 082-337-3688; CREATRIC M (SKRYFBEHOEFTES) INFO@CREATRICMARKETING.CO.ZA, 071-971-4799; SWEETLY CAKES (TROUKOEK) CELESTEDANNHAUSER@YAHOO.COM; LOUVELIA’S (VERSIERDE SUIKERKOEKIES) BELLEDD@GMAIL.COM; BRIDAL BY ARMON (BRUID SE HARE) BRIDALBYARMON@GMAIL.COM, 082-787-4490; BETHLEHEM VOLKSWAGEN (VERVOER van GASTE NA BERG) BETHLEHEMVW.CO.ZA, 058-307-8700; OASIS WATER (WATER VIR DIE BERG) BETHLEHEM@OASISWATER.CO.ZA, 083-630-8444; SWARTZEL CUSTOM LEATHERS (WERNER EN JUWAN SE VELLIES) NICO.SWARTZ123@GMAIL.COM, 071-678-4741; BIDFOOD BLOEMFONTEIN (WYN) 083-990-5004 – ZELDA & LEBO; JAN (GRASBALLE VIR OP DIE BERG) 074-922-7861