Op ’n ongerepte strand waar dit lyk of die sandkorrels ’n skakering van pienk is, het hulle ewige trou aan mekaar beloof – ’n silwerkopbruidegom en sy bruid, op 50 nog net so beeldskoon as toe sy amper 30 jaar gelede as Mej. Suid-Afrika gekroon is.

Daar ver op Pink Beach op Nieu-See­land se Noordeiland het Suzette van der Merwe asemrowend gelyk in ’n vloeiende ontwerperskepping in dieselfde helderpienk as die bougainvilleas by haar ouerhuis op Stilbaai in die Wes-Kaap.

Pienk is ook die kleur van die hemp wat haar bruidegom, Mark Weston (56), gedra het toe sy dié gebore Nieu-Seelander ses jaar gelede op ’n toe-oë-afspraak in Johannesburg ontmoet het. Suzette onthou nog goed hoe dié kleur sy vriendelike blou oë beklemtoon het.

“Daar is baie pienk in ons storie,” vertel die twee byna uit een mond in ’n eksklusiewe onderhoud met Huisgenoot kort voor hul troudag verlede maand.

Suzette en Mark, ’n uitvoerende beampte in die bankwese in Johannesburg, het besluit om stil-stil op ’n geheime ­bestemming in Mark se geboorteland te trou. 

suzette van der merwe,mej.sa,troue
Suzette het asemrowend gelyk in die helderpienk rok wat haar herinner aan die bougain­villeas by haar ouerhuis op Stilbaai. Op 50 is sy nog net so mooi soos toe sy amper 30 jaar ge­lede op 21 as Mej. Suid-Afrika ­gekies is. Foto: Rachel Jordan van Two Little Starfish
suzette van der merwe,troue
Verlief en getroud op Pink Beach in Nieu-Seeland. Foto: Rachel Jordan van Two Little Starfish

Net twee gaste, Mark se pa, Wayne (78), en stiefma, Angela Jennings Weston (79), was by die intieme seremonie op die strand en was ook hul getuies.

Die paartjie het afgehaak net enkele ure nadat hulle op 14 Desember in Nieu-Seeland geland het.

“Ons het drie vlugte gehad wat oor twee dae gestrek het en was omtrént vlugvoos,” vertel Suzette kort ná hul troudag uit Nieu-Seeland. “Maar die dag se adrenalien en opwinding het ons deurgedra.” 

Dit het vir hulle gevoel asof hulle ’n poskaartprentjie binnestap toe hulle by hul trouplek by die Kauri Cliffs-oord aankom.

“Die strand was asemrowend en ongerep, met die mooiste skulpe. Ons was omring deur rotse en kwetterende seemeeue,” vertel Suzette. 

“Ons het drie vlugte gehad wat oor twee dae gestrek het en was omtrént vlugvoos,” vertel Suzette kort ná hul troudag uit Nieu-Seeland. “Maar die dag se adrenalien en opwinding het ons deurgedra.”

“Ons het gehoop op goeie weer. Met ons aankoms was dit bewolk en het dit saggies gereën, maar later die middag het die son uitgekom en die wind het gaan lê. Toe was dit die perfekte dag.”

Die plegtigheid is onder ’n hout­struktuur gehou wat met groenigheid blomme en skulpe versier is. 

Mark was deftig uitgevat in ’n vlootblou pak deur Hugo Boss, maar dit het hom nie gekeer om plakkies vir die strandtroue te dra nie. 

By haar pragtige rok deur die ontwerper Gerrit Pienaar het Suzette plat, roomkleurige sandale gedra wat met pêrels en skulpe versier is.

Nadat ’n pastoor vir hulle ’n boodskap uit 1 Korintiërs 13 oor die uitnemendheid van die liefde gelewer het, het die bruidspaar vir mekaar ringe aangesteek.

Mark se pa en stiefma, Wayne en Angela Weston, was die paartjie se enigste gaste en getuies. Past. Heather Townsend het die seremonie gelei. Foto: Rachel Jordan van Two Little Starfish
Die egpaar deel ’n soen. Foto: Rachel Jordan van Two Little Starfish

Aan die binnekant van Suzette se geel diamantring is ’n pienk robyn en ’n blou saffier versteek. 

Dit simboliseer haar seun, Graydon (20), en dogter, Skye (17), uit haar vorige huwelik.

“Skye het vir ons ’n brief geskryf. Dit was toegeplak en sy het gevra ons moet dit oopmaak en lees net voor ons trou. Daar huil ek toe al my grimering af. Dit was so spesiaal,” vertel Suzette. 

Sy het self haar grimering en welige bos bruin hare vir die troue gedoen. “Dis vir my belangrik dat Mark met mý trou eerder as ’n opgemaakte weergawe van my,” sê die brunet wat die Mej. Suid-­Afrika-kroon in 1990 gedra het. 

Nie eens ’n haakplek met haar trourok kon haar vreugde op die groot dag demp nie. “Ek het vir Mark in ’n stadium gevra om my rok se ritssluiter op te trek en êrens in die proses het dit vasgehaak,” lag sy. 

“Skye het vir ons ’n brief geskryf. Dit was toegeplak en sy het gevra ons moet dit oopmaak en lees net voor ons trou. Daar huil ek toe al my grimering af. Dit was so spesiaal,” vertel Suzette.

“Die fotograaf het dit toe met haakspelde vasgesteek en, nou ja, met die fotonemery het hulle een vir een begin losgaan. Maar ons het lekker gelag en dit het alles die dag net meer onvergeetlik gemaak.”

Ná die plegtigheid het hulle saam met Mark se ouers by ’n tafel langs die strand aangesit vir ’n feesmaal van seekos soos garnale, vis en kreef. Die eg Nieu-Seelandse nagereg was ’n eksotiese pawlowa.

Die tafel is romanties gedek met ’n tafel­doek wat met rose bedruk is, glaskersblakers en ’n blompot met Suzette se ruiker van rose, pinksterrose en olyfblare. 

“Elke detail was meer as wat ons ooit gedroom het dit sou wees,” sê Suzette. “Ons albei het van die begin tot die einde die grootste glimlag op ons gesigte gehad.” 

Sy sou aanvanklik in ’n roomkleurige trourok getrou het, maar het kort voor hul troudag van plan verander. 

Ná ’n verlowing van vyf jaar was die paartjie gereed om af te haak. Foto: Rachel Jordan van Two Little Starfish
suzette van der merwe,mej.sa,troue
Eindelik getroud! Foto: Rachel Jordan van Two Little Starfish

Die idee vir ’n pienk rok het haar te binne geskiet toe sy verlede Oktober by haar ouers, Piet(77) en ­Jeanne (74) van der Merwe, op Stilbaai gekuier het. 

“Ek het uitgekyk oor die see, die rivier en bougainvilleas wat voor die huis met ’n Kaaps-Duitse styl groei, tevrede en gelukkig gevoel en besluit dat wanneer ons in Januarie ons troue hier kom vier ek graag dieselfde pienk kleur as die bougain­villea wil dra,” vertel Suzette.

Sy en Mark beplan om ná hul terugkeer uit Nieu-Seeland op 10 Januarie ’n eg Suid-Afrikaanse bruilofsviering – kompleet met proteas en boerekos – saam met haar ouers, hul kinders en nog ’n paar familielede en vriende op Stilbaai te hou. 

Mark se twee seuns uit ’n vorige huwelik, Jack (23), wat in New Orleans, Amerika, woon, en Lewis (21), van Perth, Australië, beplan ook om by die bruilof te wees.

Suzette het die pienk rok vir dié geleentheid laat maak, maar toe sy dit ’n week voor hul vertrek na Nieu-­Seeland aanpas, kon sy nie ophou glimlag nie. 

“Ek het net na Skye gekyk en gesê: ‘Ek dink dís die rok wat ek op Pink Beach moet dra.’ ” 

“Ek het uitgekyk oor die see, die rivier en bougainvilleas wat voor die huis met ’n Kaaps-Duitse styl groei, tevrede en gelukkig gevoel en besluit dat wanneer ons in Januarie ons troue hier kom vier ek graag dieselfde pienk kleur as die bougain­villea wil dra,” vertel Suzette.

Tog was sy bekommerd dat Mark haar in ’n trourok met ’n meer tradisionele kleur sou wou sien. Toe sy hom hieroor pols, het hy dadelik gesê: “Dis fantasties. Ons verdien om in so ’n gelukkige kleur te trou.” 

Hul liefdesverhaal het in 2013 begin toe Suzette die eerste keer in die nege jaar sedert haar tweede egskeiding tot ’n romantiese afspraak ingestem het.

“Ek was doodgelukkig en het daarvan gehou om enkellopend te wees, maar my kinders het na my gekyk asof hulle my jammer kry. Hulle het speels vir my gesê ek is uncool omdat ek nie op afsprake gaan nie.”

Gemeenskaplike vriende het in dieselfde tyd voorgestel dat sy en Mark mekaar ontmoet. 

“Ek sou beslis voorheen nee gesê het, maar omdat ek ’n week tevore besluit het ek moet myself uitdaag om uit my gemaksone te kom, het ek ingestem.”

Sy het vooraf ’n foto van Mark ontvang. “Ek het vir Skye die foto gewys en sy het gesê: ‘Kyk net sy vriendelike oë. ’n Mens kan sommer sien hy’s ’n gawe ou.’ ”

Die pragtige bruid was ­stralend op haar troudag. Foto: Rachel Jordan van Two Little Starfish
Hulle het Mark se pa en stiefma met hul troue in Nieu-Seeland verras. Foto: Rachel Jordan van Two Little Starfish

In die Palazzo Montecasino-hotel in Johannesburg, waar hulle mekaar ontmoet het, het Mark Suzette in ’n wit rok die trap sien afstap. “Sy was beeld­skoon en het my asem weggeslaan,” onthou hy.

Hulle was dadelik gemaklik in mekaar se geselskap. “Dit het my getref hoe openhartig hy gesels het,” vertel Suzette. 

“Ons het oor ons vorige verhoudings gepraat, foute wat ons gemaak het en wat ons daaruit geleer het.” Hulle het ook albei gesê hoe belangrik hul kinders vir hulle is.

Sedert daardie eerste afspraak stuur Mark elke week vir haar ’n bos blomme. “Hy laat my altyd spesiaal voel,” sê sy. 

Hulle het vyf jaar gelede saam in ’n huis in Dainfern, Johannesburg, ingetrek. “Ons het al uitdagings oorkom, fantastiese tye saam gehad en regtig bewus geraak van presies hoe die ander persoon is,” gesels Mark.

Hy het in 1996 na Suid-Afrika geëmigreer. “Ek was onmiddellik gek oor die land. Ek is versot op Suid-Afrika se diversiteit, die warm mense en ryk kultuur.”

“Ons het oor ons vorige verhoudings gepraat, foute wat ons gemaak het en wat ons daaruit geleer het.” Hulle het ook albei gesê hoe belangrik hul kinders vir hulle is.

Daar is wel vir hom een klein aanpassing. “Die rugby,” spot Mark, wat ’n getroue All Black-ondersteuner bly.

Sowat ’n jaar ná hul ontmoeting het hy en Suzette in ’n privaat ateljee by die juwelier Jenna Clifford se onderneming in Johannesburg verloof geraak. Sy is ’n jare lange vriendin van Suzette en het ook hul trouringe ontwerp.

Suzette het geweet hulle gaan dié dag verloof raak, maar is met ’n romantiese toneel so reg uit ’n rolprent verras.

Met haar aankoms is sy met ’n glas sjampanje bederf en aangesê om ’n aand­rok te gaan aantrek. 

Mark, sy jongste seun, Lewis, en haar seun, Graydon – al drie in swart aandpakke – het haar ingewag toe sy uit die kleedkamer kom. 

Terwyl sy na hulle stap, het haar dogter, Skye, met ’n verloofring op ’n swart fluweelkussing te voorskyn gekom. Toe sak Mark op een knie neer en vra haar om met hom te trou. 

suzette van der merwe,troue,nieu-seeland
Suzette en Mark, ’n gebore Nieu-Seelander, is albei baie patrioties en wys hier hul onderskeie landsvlae. Foto: Rachel Jordan van Two Little Starfish
suzette van der merwe,troue
Die ongerepte strand op Nieu-Seeland se Noordeiland het gesorg vir poskaartmooi prentjies. Foto: Rachel Jordan van Two Little Starfish

Tydens hul vyf jaar lange verlowing wou mense gedurig weet: Wanneer kom die troudag dan? “Ek het ’n stadium bereik dat ek nie meer redes oorgehad het om dit langer uit te stel nie,” sê Suzette. 

“Ons wou tog op ’n formele manier vir ons familie wys hoe toegewy ons aan mekaar is.”

Hulle het ’n jaar gelede al op ’n intieme troue in Nieu-Seeland besluit, met Mark se pa en sy enigste suster, Angela Weston (52), as getuies. 

Sy ma, Elma, is in 1991 op 50-jarige ouderdom weens kanker oorlede. Verlede Augustus het ­Angela ook ná ’n lang stryd teen kanker gesterf. Suzette is saam met Mark na haar begrafnis toe. 

Dit was die eerste keer dat sy sy familie in lewende lywe ontmoet het. “Ons skype dikwels met sy pa, en weens die tydsverskil tussen Nieu-Seeland en Suid-Afrika gesels ons gewoonlik vroegoggend terwyl ek nog in my nagklere en sonder grimering is. Toe ek sy pa ontmoet, het dit daarom gevoel asof ons al voorheen persoonlik ontmoet het.” 

Tydens hul vyf jaar lange verlowing wou mense gedurig weet: Wanneer kom die troudag dan? “Ek het ’n stadium bereik dat ek nie meer redes oorgehad het om dit langer uit te stel nie,” sê Suzette. “Ons wou tog op ’n formele manier vir ons familie wys hoe toegewy ons aan mekaar is.”

Hulle het besluit om voort te gaan met hul planne om teen die einde van verlede jaar in Nieu-Seeland te gaan trou, maar dit vir Mark se pa en stiefma geheim gehou. 

Hulle was onder die indruk dat dit bloot ’n wegbreeknaweek by die oord sou wees sodat Mark en sy pa daar kon gholf speel. “Natuurlik het Mark dinge so beplan dat hulle steeds genoeg tyd gehad het om ná die troue ’n potjie gholf in te werk,” lag Suzette.

Hulle wou die troue intiem en ontspanne hou. Tog het hulle die idee om as’t ware weg te loop en in Nieu-Seeland te gaan trou eers met hul kinders en ook met Suzette se ouers bespreek. 

“Hulle was heeltemal gelukkig daarmee,” vertel sy. “My kinders sien Mark elke dag, en ons bring baie gehaltetyd saam met my ouers deur. Hy doen so baie vir my en my familie; daarom wou ek dit graag vir hom doen. Mark verdien dit. Hy is hierdie konstante, wonderlike mens.”

Haar 50ste verjaardag verlede jaar en ’n nekoperasie wat sy moes ondergaan, het Suzette laat besluit dis tyd om af te skaal. 

suzette van der merwe,mej.sa,troue
Sensueel op ’n swaai. Foto: Rachel Jordan van Two Little Starfish
suzette van der merwe,mej.sa,troue
Die gelukkige bruidspaar voor die luukse hotel waar hulle tuisgegaan het. Foto: Rachel Jordan van Two Little Starfish

Verlede Julie het sy haar loopbaan in die korporatiewe wêreld afgesluit. 

As onder meer hoof van kommunikasie van die Vodacom Foundation en later as hoof van die Cell C Foundation het sy haar veral vir die bemagtiging en ontwikkeling van vroue beywer.

Die dag toe sy Mark ontmoet het, het sy besluit om net haarself te wees, sê Suzette. 

“Ek het nie regtig beplan om weer saam met iemand te bly of te trou nie. Daarom, toe hy in my lewe kom, het ek besluit dat ek my ware kleure gaan wys. Hy het my al op my beste en op my slegste gesien en kies steeds om te bly.” 

Dan erken sy: “Ek was nog nooit in ’n verhouding waar ek werklik volkome myself was nie. Ek dink dis waarom ek so gemaklik en vol selfvertroue is dat hierdié een werk en dat ons dit wettig moes maak.”

“Ek het nie regtig beplan om weer saam met iemand te bly of te trou nie. Daarom, toe hy in my lewe kom, het ek besluit dat ek my ware kleure gaan wys. Hy het my al op my beste en op my slegste gesien en kies steeds om te bly.”

Ná hul troue het hulle in Nieu-Seeland wittebrood gehou. “Ek is veral opgewonde daaroor om my geboorteland en die plek wat my gevorm het vir Suzette te wys,” het Mark vooraf gesê.

Terug op eie bodem gaan hul bruilofsviering op Stilbaai ’n “boeresjiek”-tema hê. Suzette se pa gaan vir hulle uit die Bybel voorlees om hul huwelik te seën. 

Sy sal dan die roomkleurige tweestuk aantrek wat sy aanvanklik op hul troudag sou dra. 

“Dis ’n geskenk van Greg Narain, een van Mark se beste vriende, en sy vrou, Tracey-Lee, ’n voormalige Suid-Afrikaanse swemmer,” vertel Suzette. Hulle het dit uit Australië vir haar gepos.

Van die man wat haar laat besluit het om weer haar hart op die spel te plaas, sê Suzette: “Hy het begrip, oordeel nooit, is vergewensgesind en verdraagsaam. Hy het nog nooit probeer om enige deel van wie ek is te verander nie. Hy moedig my aan om myself te wees, gee my ruimte en laat my blom.”

Die twee trouringe. Foto: Rachel Jordan van Two Little Starfish
Heerlike vingerhappies. Foto: Rachel Jordan van Two Little Starfish
Eenvoudige dekor. Foto: Rachel Jordan van Two Little Starfish

Mark praat met net soveel bewondering oor sy vrou. “Daar is baie meer diepte aan haar as wat ’n mens op die oog af sien. Sy is eerlik en hardwerkend, ’n fantastiese ma, en haar integriteit troon bo alles uit.”

Al deel hulle dieselfde waardes, verskil hulle tog in sommige opsigte. “Ek doen Pilates en Bodytec en speel elke Sondag gholf. Suzette is minder aktief,” lag Mark.

“Ons verskille vul mekaar eintlik aan,” meen sy. “Ek hou van my alleentyd, so wanneer Mark sy oefening doen, kry ek kans om die tyd te benut.” 

Albei het weer ’n kans met die liefde gewaag. Sal hulle mense wat dalk sinies oor die liefde voel, aanmoedig om dieselfde te doen? 

“Die lewe is nie perfek nie. Dit sal nooit perfek wees nie, maar die pad vorentoe gaan daaroor om aksie te neem en iewers te begin,” sê Mark. “In Suzette se geval was dit haar besluit om weer op afsprake te gaan.”

Sy het altyd haar kop eerder as haar hart vertrou en was nog nooit regtig verlief nie, het Suzette ’n dekade gelede in ’n onderhoud met Sarie gesê. Is dit steeds die geval?

“Ek kan eerlik sê dat dit verander het,” antwoord sy. 

“Mark voldoen aan alles op my lysie en maak my elke dag opgewonde. Hy is my beste vriend en partner in crime. Ek is absoluut dolverlief op hom!” 


Mark en Suzette bedank:
Rachel Jordan van Two Little Starfish (Foto’s); Swier (Tafeldoek en servette); Hugo Boss (Sy pak); Gerrit Pienaar designs (Haar trourok); Jenna Clifford (Ringe); Fillorga (Haar velsorg); Lady by Mont Blanc (Haar parfuum) – geskenk van ShopFomo; Icon by Dunhill (Sy parfuum) – geskenk van ShopFomo; Immersion Hair & Nails (Haar hare)




Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.