Dis ’n regte blou Maandagmiddag ’n week voor Kersfees 2017 toe ’n geniepsige suidooster teen meer as 23 km/h waai, so asof dit hard probeer om die opwinding onder die 200 bruilofsgaste op die Stellenbosse wynlandgoed Webersburg hier teen die prentjiemooi Helderberg te demp.

Maar vergeefs.

Die 24-jarige bruidegom is ’n gebore Kapenaar en wind gewoond. Die gewese WP- en Stormers-ster Cheslin Kolbe, wat onlangs by die Franse top-14-span Toulouse aangesluit het, het spesiaal huis toe gekom om vandag af te haak met sy nooi van die afgelope drie jaar, die 25-jarige Layla Cupido.

Toe die bruid later verklap sy is juis op ’n “winderige Maandagaand” in die Kaap gebore en sien die huilende wind “as die Heilige Gees se werk”, verstaan ’n mens die onmag van die tierende suidoos.

Die gastelys sluit die room van die rugbywêreld in. En hoe anders? Cheslin het immers al vir die Blitsbokke uitgedraf.

Onder die rugbysterre is die Stormers en Bokke Eben Etzebeth, Damian de Allende en Siya Kolisi, wat vandag sy rugbyklere vir ’n vlootblou pak verruil om saam met die Blitsbok Justin Geduld strooijonker te speel. Die vier strooijonkers op die grasperk by die kansel voor ’n stylvol ingerigte gazebo met wit draperings moet plek-plek bontstaan.

Eben Etzebeth (links) en sy meisie, Ashley Rothman, en Damian de Allende en sy meisie, Jessica Calder. Foto: Noncedo Mathibela
Cheslin (middel) en sy strooijonkers koel af voor die troue op die landgoed Webersburg. By hom is (van links) Lucian Fredericks, Siya Kolisi, Ravin-Lee Kolbe en Justin Geduld. Foto: Duane Smith Photography

Hulle plaas opslaanstoele op die wit tapyt van die kanselpaadjie om te keer dat dit opwaai en amok saai voor die bruidspaar kom. Agter hulle glinster ’n dam in die middagson. Kort voor die seremonie begin, kom die bruidegom, ook deftig uitgevat in ’n vlootblou ontwerperspak, aan die arm van sy ma, Millicent, in die kanselpaadjie afgestap op maat van die Amerikaanse rapper Bow Wow se liedjie To My Mama.

Dan maak twee blommemeisies hul opwagting saam met die bruidspaar se nege maande oue prinsessie, Kylah.

Die skattige kleinding, wat haar pa uitgeknip is, sit in ’n oulike wit stootwaentjie waarop die woorde “Daddy, just wait ’til you see mommy!” pryk.

Sy was deel van die gevolg saam met die Bok Siya Kolisi se Nicholas, Chelsea Kolbe (middel) en Hannah Abrahams. Foto: Duane Smith Photography

Daarna volg Nicholas, Siya en sy vrou, Rachel, wat ook ’n strooimeisie is, se driejarige seun. Dis die tweede keer in drie maande dat die kleinman hofknaap speel. Hy was in Oktober verlede jaar in die trougevolg van die steratleet Wayde van Niekerk, Cheslin se neef. Wayde is in Katar vir rehabilitasie ná ’n kniebesering en kan ongelukkig nie hier wees nie.

Een-een verskyn die vier strooimeisies in vlootblou skeppings, die werk van Sarah Jacobs, ’n buurvrou van Layla se ma, Renee, in Belhar op die Kaapse Vlakte. Dan is dit die bruid se beurt. Layla maak haar verskyning aan die arm van haar pa, Wayne Kannemeyer.

Die pragtige bruid laat die koppe draai in ’n laerugskepping van die Kaapse ontwerper Robyn Roberts.

“Ek wou soos ’n prinses voel. Dis hoekom ek ’n los romp wou hê wat met ’n lang sleep ’n prinses-effek skep,” vertel sy.

Aan dié skepping, wat om haar kurwes span, is appliekwerk met kraletjieskant wat uit die Ooste ingevoer is.

Op ’n kol oorweldig die trane Cheslin terwyl sy beeldskone bruid op die maat van The Prayer na hom aanstap. Dié besonderse lied word vandag gesing deur Vernice Plaatje en Danelle Lewin van die Hillsong-kerk in Kaapstad.

Cheslin raak bewoë oor sy pragbruid. Foto: Duane Smith Photography

“God sê hy wat ’n vrou kry, kry vir homself iets goeds,” sê Charlene van Wyk van die Planetshakers-kerk in Century City, Kaapstad, wat die huweliksbevestiging waarneem.

“Cheslin, ek dink jy’t vanmiddag ’n dubbele porsie gekry: Sy is nie net goed nie; sy is ook pragtig,” sê Charlene.

“Daar is ’n krag in saamwees,” sê sy.

“Wat julle ook al in die gesig staar, wat julle ook al deurmaak, of dit oorwinnings of beproewings is, laat dit saam wees.”

Dan is dit tyd vir huweliksbeloftes aflê. Die paartjie gebruik eers saam die nagmaal voor Charlene verklaar: “Cheslin en Layla, ek het nou die eer om julle tot mnr. en mev. Kolbe te verklaar. Jy mag jou pragtige bruid soen.”

Eindelik man en vrou! Foto: Noncedo Mathibela
Haar knewel van ’n diamantring. Foto: Noncedo Mathibela

Cheslin laat nie op hom wag nie, tot groot vermaak van die gaste, wat hulle luid toejuig. Die pasgetroudes glip hierna vinnig weg na die Kaaps-Hollandse herehuis daar naby om ’n oomblik saam te deel voor hulle weer verskyn terwyl wit roosblare op hulle neerreën.  

Die duifies se paaie het in 2013 vir die eerste keer gekruis; nogal op Nuweland.

Layla het dié dag ’n rugbymal vriendin na ’n wedstryd tussen die WP en die Goue Leeus vergesel. Ná die kragmeting het die vriendin Cheslin en sy spanmaat Kurt Coleman gewaar terwyl hulle uit die stadion stap.

Sy het Layla oortuig om hulle te vra om saam met haar vir ’n foto te poseer. Cheslin het ingestem en wou weet of Layla ook ’n kiekie saam met hom wou hê. Op daardie oomblik het hy al geweet sy is “die een”, sê hy toe ons vier dae voor hul troue in hul huis in Brackenfell gesels.

Ná hul ontmoeting het hy hul kiekie in die sosiale media gewaar en Layla aanlyn genader. Haar antwoord?

“Ek is glad nie ’n aanhanger nie,” vertel Layla en lag. Selfs haar familie het gesê “bly weg”, sê sy.

Maar Cheslin was knaend. Toe stem sy in tot ’n afspraak. Hy het aan hul deur kom klop en haar ma se toestemming gevra om haar uit te neem.

“Hy het toe al my respek gekry,” vertel Layla. Nadat hulle by die see roomys geëet en kopstukke gesels het, het hy nog gedink hy sou darem ’n soentjie kry, bieg Cheslin.

“Ek het haar probeer soen, maar sy het nee gesê. Toe weet ek regtig sy is die een vir my,” skerts Cheslin.

Hulle het in September 2016 op Nuweland verloof geraak. Die WP het dié dag die Boland Kavaliers in die Curriebeker gepak en met 30-28 geklop.

Dit was Cheslin se laaste wedstryd van die jaar en van Layla se familielede was ook daar. Maar sy moes by die spelers se vroue en meisies sit omdat hulle haar onder die indruk gebring het al die vroue stap ná die wedstryd op die veld. En toe dit gebeur, wag Cheslin haar in.

“Toe ek agter hom kyk, het my ma, Rachel, en niggies almal daar gestaan.” Op elkeen se hemp het die woorde “say yes” gepryk. Toe kniel Cheslin. Die plan het amper ontspoor toe hul spanbestuurder, Chippie Solomon, nie op die beplande oomblik die ring aangee nie.

“Ek het vir hom gesê sodra ek my hand uitsteek, moet hy die ring gee. Maar toe ek my hand uitsteek, is daar niks,” vertel Cheslin en lag. Hy wou net begin sweet toe Chippie nader staan.

Chippie, die Stormers-breier, Robbie Fleck, en Blitsbok-afrigter, Neil Powell, is onder die gaste wat vandag kom kyk hoe die paartjie ewige trou aan mekaar beloof.

Die Blitsbok-­afrigter, Neil Powell, en sy vrou, Tanya. Foto: Noncedo Mathibela
Die Stormers- rugbyspeler Scarra Ntubeni en sy meisie, Kirsten Amsterdam, kap dit uit op die dansbaan. Foto: Noncedo Mathibela
Die Stormer Dewaldt Duvenage (links) en sy vrou, Nické, het pret in die fotohokkie saam met sy spanmaat Dillyn Leyds en dié se meisie, Nazli Petersen. Sowat 200 gaste het die berugte Kaapse suidoos trotseer om die dag saam met Cheslin en Layla te beleef. Foto: Noncedo Mathibela
Kurt Coleman en sy meisie, Gadean Kay-dee Brecht.

Terwyl die gaste in die ontspannigsarea op die boonste vlak van die onthaalsaal getrakteer word op kanapees soos heuning-en-mosterd-hoendersosaties, calamari- ringe en garnaalstokkies, word die amptelike troufoto’s van die paartjie en hul geliefdes langs die prentjiemooi dam geneem.

Op ’n kol stap hoenders, eende en kalkoene ook voor die kameralens in. Skuins voor seweuur kies almal koers na die onthaalsaal, wat elegant versier is met feetjieligte, kerse en wit blomme.

“Ek wou die dekor skoon en elegant hê; dis hoekom ek wit blomme soos orgideë, rose en tulpe gekies het,” vertel Layla.

“Die orgidee is my gunstelingblom.”

Die bruidspaar met hul gevolg. Foto: Noncedo Mathibela
Wit roosblare reën neer op die pasgetroudes. Foto: Duane Smith Photography
Die paartjie saam met Cheslin se ouers, Millicent en Andrew. Cheslin en Layla se nege maande oue babadogter het elke oomblik van pa en ma se mooiste dag beleef. Foto: Noncedo Mathibela

Op die dansbaan pryk haar en Cheslin se naam in goue letters en uit die dak hang talle gloeilampies. Hul troukoek van vier lae is ook besonders.

“Omdat ons troue ’n wit tema het, het ons besluit om dit te temper met ’n vlootblou koek met wit orgideë,” vertel die bruid.

“Blou is Cheslin se gunstelingkleur en wit myne. Bo-op die koek is ’n handgemaakte beeldjie wat soos ons twee lyk – ek wat letterlik vir ’n rugbyspeler val.

Mwah! Foto: Duane Smith Photography
Layla wou ’n sprokieseffek skep. Foto: Noncedo Mathibela
Die ligging was prentjiemooi. Foto: Noncedo Mathibela
Die paartjie is dolverlief! Foto: Duane Smith Photography
Hulle sny die vierlaagkoek. Foto: Noncedo Mathibela

“Ons kon nie op een geur besluit nie, want ons is albei lief vir sjokolade. En omdat ons mal is oor vanieljekoek, het ons besluit op lae sjokolademousse en Franse vanieljekoek met Malgassiese vanieljeboonversiering,” sê Layla.

Die seremoniemeester, die komediant Siv Ngesi, vermaak die gaste heelaand met sy staaltjies. Hy laat Cheslin tot “lobola” betaal aan sy skoonpa – met ’n bord vol steak en vis. Die steak is vir skadevergoeding omdat hy Layla swanger gemaak het, skerts Siv onder groot gelag.

Die komediant Siv Ngesi was die vermaaklike seremoniemeester. Foto: Noncedo Mathibela

Later lê die gaste weg aan onder meer botterhoender en roti vir voorgereg en lamskenkel vir hoofgereg.

Toe dit tyd raak om die dansbaan te open, dans die bruidspaar op die maat van Ed Sheeran en Beyoncé se romantiese liedjie Perfect.

Hul wittebrood sal eers moet wag. Net ’n dag ná die troue vertrek hulle na Toulouse, waar hulle in ’n vyfslaapkamerhuis met ’n swembad as getroudes sal nesskop. Dis ook daar waar hulle hul eerste Kersfees as egpaar sou deurbring.

Hy het nooit gedink hy sou op 24 ná vyf seisoene by die WP dié span en die Stormers verlaat nie, het Cheslin ons vroeër vertel.

Hy was net 19 toe Toulouse hom in 2013 ’n kontrak aanbied terwyl hy daar saam met die Jong Bokkies aan die o.20-Wêreldbekertoernooi deelgeneem het. Maar hy wou eers op eie bodem naam maak, sê Cheslin.

Hy het verlede jaar besluit dis tyd vir ’n verandering, veral nadat hy gehoor het hy sou pa word. Hulle is vriende met die Kolisi’s

“Ons is baie betrokke in mekaar se lewe. Ons is soos een familie,” sê Layla. Siya en Rachel se seun, Nicholas, is haar peetseun.

Hy is regtig met “ ’n wonderlike vrou” geseën, sê Cheslin in sy toespraak terwyl die trane weer vir hom te veel word. Ook Layla knyp haarself nog elke dag oor die “wonderlike man” wat sy losgeslaan het.

“Ek dink nie ek het al ooit iemand so nederig soos hy ontmoet nie,” sê sy deur trane in haar toespraak. 

“Jy het die grootste hart en maak my so gelukkig. Ek kan nie wag om vir ewig saam met jou deur te bring nie.”  

Die bruidspaar se bedankings

LAVENDER CREATIONS (TROUBEPLANNING) LAVENDERCREATIONS.ORG, SHANNON @LAVENDERCREATIONS.ORG; ROBYN ROBERTS (TROUROK) ROBYNROBERTS.CO.ZA, 021-686-1378, INFO@ ROBYNROBERTS.CO.ZA; TO-NETTS (DEKOR EN BLOMME) TO-NETTS.CO.ZA, 021-863-3635, INFO@TO-NETTS.CO.ZA; THE TUX TAILOR (BRUIDEGOM EN STROOIJONKERS SE PAKKE) 021-712-5913, 074-735-9312; WEBERSBURG (PLEK) WEBERSBURG.CO.ZA, INFO@WEBERSBURG.CO.ZA, 021-881-3636; DUANE SMITH PHOTOGRAPHY (FOTO’S) DSMITH.CO.ZA, THEBELOVEDPHOTOGRAPHY@GMAIL.COM; DAWID BOTHA (VIDEOGRAFIE) DAWIDBOTHA.CO. ZA, INFO@DAWIDBOTHA.CO.ZA; MALANIE HAIR AND MAKEUP (HARE) MALANIEVDM@GMAIL.COM; AREEBA ARTISTRY (GRIMERING) AREEBAARTISTRY.COM, INFO@AREEBAARTISTRY.COM; SEW COUTURE SA (JAPONNE) INSTAGRAM.COM/SEWCOUTURESA, 010-786-0555, INFO@SEWCOUTURE.CO.ZA; CELEBRATION (STROOIJONKERS SE GESKENKE) CELEBRATION.CO.ZA, 028- 316-1619, TEAM@CELEBRATION.CO.ZA; SEXY SOX (SOKKIES) SEXYSOCKSSA.COM; FRANKEES (ONDERKLERE) FRANKEES.COM; FOSSIL SOUTH AFRICA (HORLOSIES) INSTAGRAM.COM/WATCHREPUBLIC; McQUEEN BEAUTY (BEDERFSESSIE) INSTAGRAM.COM/MCQUEENS_SPA; THE MIXING BOWL CAKE COMPANY (TROUKOEK) 082-329-0265, FACEBOOK.COM/THEMIXINGBOWLCAKECOMPANY